Ramaphosa streng oor korrupsie

  • 0

Pogings in die ANC om ontslae te raak van president Cyril Ramaphosa het misluk. Die ANC-leier het sterker uit die afgelope naweek se vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) gestap as wat hy verlede Vrydag daar ingegaan het.

Tydens ’n aanlyn nuuskonferensie wat Dinsdag na afloop van die NUK-vergadering gehou is, was dit duidelik dat Ramaphosa die leisels in sy party nog stewig vas het. Diegene soos Tony Yengeni wat gevra het dat Ramaphosa moet bedank en oudpresident Jacob Zuma wat hom in ’n brief uitgeskel het, kon nie hond haaraf maak nie.

Van Yengeni se versoek het daar, soos te verwagte was, niks gekom nie, en aan Zuma se brief het Ramaphosa hom glad nie gesteur nie. Hy het sy voorganger die rug toegekeer en tot groot vermaak van die publiek op sosiale media gesê hy het nie op Zuma se brief reageer nie en hy kry baie briewe. Ramaphosa sê Zuma se brief word gedebatteer maar hy wou hom nie uitlaat oor die inhoud daarvan nie en ook nie daarop antwoord nie.

Ramaphosa se eie brief waarin hy die ANC as beskuldigende nommer 1 van korrupsie uitgewys het en waaroor Zuma so tekere gegaan het, is deur die NUK ondersteun. Die President sê die NUK het saamgestem dat daar beslissend opgetree moet word teen diegene in die ANC wat hulle skuldig maak aan korrupsie.

Die NUK het hulle ook by Ramaphosa geskaar in sy geveg teen die korrupte kaders in sy party en sê dit lyk of daar ’n georkestreerde veldtog teen hom is, maar dat dit nie die stryd teen korrupsie en staatskaping van stryk sal bring nie.

In die verwagte groot konfrontasie tussen die faksies van Cyril Ramaphosa en Ace Magashule het die Magashule-faksie op die oog af sleg tweede gekom. Netwerk24 berig dat Ramaphosa sê alle ANC-lede en leiers wat van korrupsie aangekla word  moet alle openbare poste wat hulle beklee summier ontruim.

Daar gaan ook riglyne opgestel word vir die families van ANC-leiers wat sake met die regering wil doen. Die President sê dit is om te verhoed dat ANC-lede onbehoorlik baat vind by sulke transaksies.

Die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, het op Twitter gesê die ANC het nog voor die NUK se vergadering gesê hulle sal aan die ongelowige Thomasse bewys die party is ernstig om korrupsie te beveg, en die party is op koers om die beweging van korrupsien te suiwer.

Intussen berig African News Agency dat nog een van Ramaphosa se groot teenstanders en ’n bondgenoot van die ANC se omstrede sekretaris-generaal Ace Magashule, naamlik  Andile Lungisa van die Nelson Mandela Metro, voor ’n ultimatum gestel is om as partylid te bedank of geskors te word.

Ramaphosa het op Maandag se nuuskonferensie gesê die ANC se grondwet is baie duidelik oor lede van die party wat hulle poste moet ontruim. Hy sê die ANC het reëls en prosedure wat in werking moet tree as daar wandade gepleeg word en dit is een van die besluite wat tydens die ANC se 54ste nasionale konferensie geneem is dat dit geïmplementeer moet word.

Zuma se beuelblaser Carl Niehaus het Vrydag nog groot gewag op Twitter gemaak van Zuma se brief aan Ramaphosa en gesê Zuma is ’n ware leier en almal in die ANC moet hom daarvoor bedank.

Niehaus het Zuma ook geprys omdat hy sy brief so goed bewoord het. Verskeie mense het egter beweer dit is beslis nie Zuma self wat die brief geskryf het nie en beweer Niehaus het waarskynlik self ’n aandeel in die opstel daarvan gehad. Daar is selfs foto’s op Twitter geplaas waar Niehaus en nog ’n paar van Zuma se ondersteuners die brief (na bewering) in ’n restaurant beplan het. Niehaus het woedend reageer op die beskuldigings, dit ontken en gesê daar word op hom gespioeneer.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top