Ramaphosa trap steeds water oor Rusland

  • 0

President Cyril Ramaphosa het Donderdag tydens ’n konferensie vir die hoofde van Suid-Afrika se diplomatieke sendings weer eens geweier om Rusland te veroordeel vir die oorlog in Oekraïne.

Hy sê Suid-Afrika sal sy onverbonde posisie verdedig en ’n onafhanklike buitelandse beleid handhaaf.

In sy toespraak het die President feitlik deurgaans na die oorlog as ’n “konflik” verwys. Sonder om Rusland vir die oorlog in Oekraïne te veroordeel, het hy toegegee die “konflik” het uitgebreide vernietiging en geweldige menslike lyding veroorsaak.

Ramaphosa sê dit het ’n buitengewone impak op globale aangeleenthede gehad. Hierdie ontwikkelings sal volgens hom voortgaan om internasionale betrekkinge in die toekoms te definieer.

Hy het glad nie verwys na die beweerde oorlogsmisdade wat in Oekraïne gepleeg word waaroor daar die afgelope week in die VN se Veiligheidsraad gedebatteer is nie.

Die naaste wat Ramaphosa daaraan gekom het om Rusland te kritiseer, was om te sê Suid-Afrika ondersteun die beginsel dat lede van die VN hulle moet weerhou van die dreigement of gebruik van geweld teen die territoriale integriteit of politieke onafhanklikheid van ander state.

Hy het ook gesê magtige lande moet nie meer toegelaat word om internasionale reg te verontagsaam nie, maar het nie uitgespel na watter lande hy verwys nie.

“Ons moet die eensydige optrede van hierdie lande beperk om globale politiek te bedryf deur aggressie en ander dwangmaatreëls soos die oplegging van eensydige sanksies.”

Hy het eerder die geleentheid gebruik om kritiek uit te spreek teen die manier waarop die VN funksioneer.

Hy sê die konflik in Oekraïne het die onvermoë van die VN-Veiligheidsraad blootgelê om sy mandaat om internasionale vrede en veiligheid te handhaaf, na te kom.

Volgens hom is die huidige vorming van die VN-Veiligheidsraad verouderd en onverteenwoordigend en benadeel dit lande met ontwikkelende ekonomieë.

Hy sê Suid-Afrika bly verbind tot die artikels van die VN se Handves, insluitend die beginsel dat alle lede hul internasionale geskille op vreedsame wyse sal besleg.

Die hele vrede- en veiligheidsargitektuur van die VN moet hersien word, sê Ramaphosa.

“Besluitneming moet gedemokratiseer word sodat die raad getrou kan wees aan sy mandaat en verby die verlamming kan beweeg wat deur ’n paar lidlande veroorsaak word.”

Met verwysing na die oorlog in Oekraïne het hy verder gesê: “In ooreenstemming met ons sterk verbintenis tot die vreedsame oplossing van konflik, het ons die partye aangemoedig om ’n onderhandelde politieke oplossing vir die oorlog in die Oekraïne na te streef.

“Ons het ons internasionale vennote aangemoedig om vertrouebou-maatreëls te oorweeg wat die partye nader aan mekaar sal bring eerder as om maatreëls te tref wat die partye verder sal vervreem en die eskalasie van gewapende konflik tot gevolg sal hê.”

Ramaphosa sê Suid-Afrika is diep bekommerd oor die breër implikasies wat die konflik in Oekraïne vir die globale ekonomiese herstel inhou.

“Dit het globale voorsieningskettings ontwrig, die prys van noodsaaklike kommoditeite laat styg en die wêreld in ’n nuwe era van ekonomiese onstabiliteit en onsekerheid gedompel.”

Hy sê die globale gemeenskap se fundamentele verantwoordelikheid is om te verseker dat die menslike lyding in Oekraïne tot ’n einde gebring word, en dat ’n volhoubare en regverdige vrede bereik word.

“As ’n globale gemeenskap het ons ’n gelyke verantwoordelikheid om ’n beslissende einde te bring aan menslike lyding in Jemen, Palestina, Libië, Mali, Somalië, Suid-Soedan, Mosambiek en die Oos-DRK.

“Ons sal voortgaan met ons pogings om vrede in ’n aantal van hierdie konflikgebiede te bewerkstellig.”

Met verwysing na Afrika het Ramaphosa gesê pogings moet verskerp word om die gewere op die vasteland stil te maak.

“Die voortslepende konflik in Ethiopië, die opstand in die Cabo Delgado-provinsie in Mosambiek, die ongrondwetlike verwydering van regerings in Burkina Faso, Mali en Guinee wys die diepte en omvang van die uitdagings wat die kontinent die hoof moet bied.”

Hy sê vrede en stabiliteit is noodsaaklik vir ontwikkeling en Suid-Afrika is onlosmaaklik verbind tot die veiligheid en welvaart van die vasteland.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top