.....
“In Ramaphosa se weeklikse brief veroordeel hy vandalisme en diefstal by skole, ’n toename in kabeldiefstal en ’n styging in gevalle van geweld teen vroue, kinders en bejaardes. Hy sê die regering sal geslagsgeweld as ’n prioriteit hanteer in sy reaksie op die koronaviruspandemie.”
.....
President Cyril Ramaphosa het ’n ernstige waarskuwing gerig aan misdadigers wat dink hulle kan voordeel trek uit die landwye staat van inperking en wegkom met moord.
Hy sê die feit dat die land in ’n staat van inperking is, beteken nie die strafregstelsel is met verlof nie. Hy het in sy weeklikse nuusbrief gesê diegene wat die wet oortree, sal in hegtenis geneem word en agter tralies beland.
From the desk of the President - Monday, 13 April 2020 https://t.co/80Ik7ctAwQ . Since we declared the nation-wide lockdown, we have found that the majority of South Africans have responded with patience and understanding despite the considerable hardship. pic.twitter.com/iuzuVYxbm9
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) April 13, 2020
In Ramaphosa se weeklikse brief veroordeel hy vandalisme en diefstal by skole, ’n toename in kabeldiefstal en ’n styging in gevalle van geweld teen vroue, kinders en bejaardes. Hy sê die regering sal geslagsgeweld as ’n prioriteit hanteer in sy reaksie op die koronaviruspandemie.
Die president sê dit is ’n aanklag teen die gemeenskap dat dosyne skole deur vandale vernietig en tot op die grond afgebrand word. Hy sê duisende kinders sal nie skole hê om na terug te keer wanneer die staat van inperking opgehef word nie, wat hulle van ’n skoolopvoeding sal beroof.
Ramaphosa sê dit is veragtelik dat kriminele die inperking misbruik as ’n skerm om die wet te oortree in ’n tyd waarin die wetstoepassingsowerhede hulle hande vol het om die koronavirus te help beveg.
Ramaphosa het ook gesê die regering se tussentydse bestuurskomitee oor geslagsgeweld is besig om burgerlike organisasies te raadpleeg om riglyne en protokolle te ontwikkel vir die hantering van geslagsgeweld in die konteks van die koronaviruspandemie. Hy sê in sy brief geweld teen vroue is ’n wêreldwye probleem te midde van inperkingsmaatreëls om die verspreiding van COVID-19 te beperk. Hy sê die regering sal alle beskikbare hulpbronne gebruik om kwesbare vroue en kinders te ondersteun.
Die parlement se portefeuljekomitee oor gesondheid het vroeër ’n beroep op Ramaphosa gedoen om oproepe van drankhandelaars te ignoreer wat vra dat maatreëls teen die verkoop van alkohol verlig word. Die voorsitter van die komitee, Sibongiseni Dhlomo, het volgens RSG gesê die Ramaphosa-regering se besluit om drankverkope te staak, is geneem sodat mense nie die virussiekte moet opdoen nie. Dhlomo sê sommige mense vergryp hulle aan drank, wat hulle oordeel verswak, en dan besef hulle nie dat hulle die siekte kan opdoen nie.
Die leier van die Vryheidsfront Plus en lid van die parlement se komitee oor polisie, Pieter Groenewald, het sy party se kommer uitgespreek oor sommige polisielede se optrede tydens die staat van inperking. Dit volg ná berigte dat ’n aantal polisielede vermoedelik meegedoen het aan die plundering van drankwinkels in die Wes-Kaap. Groenewald sê die party is ook bekommerd oor die beweerde optrede van sekere polisielede teenoor gemeenskappe.
Die DA het Maandag die party se plan vir ’n sogenaamde slim inperkingsmodel bekendgemaak om die koronaviruspandemie te hanteer. Die party se tussentydse leier, John Steenhuisen sê die voorlegging is Maandag by president Ramaphosa ingedien. Volgens Steenhuisen is ’n harde inperking soos wat tans van krag is, nie volhoubaar nie, omdat dit rampspoedige gevolge vir die land se ekonomie kan hê.
Hy sê ná die inperking kan die land nie terugkeer na die normale stand van sake nie, omdat die virus nie gaan verdwyn nie. Volgens hom behels die DA se strategie ’n plan om tussen vier verskillende fases van inperking te beweeg om by omstandighede – soos die verspreiding van die virus en die beskikbaarheid van hulpbronne by hospitale – aan te pas. Hy sê die fases sal soortgelyk aan beurtkragskedules wees.
The DA wants SA to implement a 'smart lockdown'. Here's how it would work https://t.co/iy42bK2yGi
— MSN South Africa (@MSNSouthAfrica) April 13, 2020
Die Vryheidsfront Plus het ook gevra vir dringende ekonomiese beleidsverandering om groei te stimuleer.
Die verlenging van die nasionale inperkingstyd met ‘n verdere twee weke gaan onafwendbaar lei tot die opdroog van kontantvloei, tot stilstand koming van die ekonomie met groeiende werkloosheid, hongersnood en maatskaplike- en politieke spanning as gevolghttps://t.co/ZkJ656vbdQ
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) April 11, 2020
Die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder van handel en nywerheid, Jaco Mulder, sê die regering sal moet afstand doen van sy sogenaamde gesentraliseerde sosialistiese staatsbeheerde beheptheid en ’n moratorium plaas op sogenaamde nievolhoubare ideologies gedrewe kwotawetgewing soos Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBBEE) en Regstellende Aksie (RA).
Buro: MvH