Ramaphosa waarsku teen ondermyning van die Grondwet en demokratiese instellings

  • 0

President Cyril Ramaphosa het in sy eerste toespraak na sy inhuldiging by die Uniegebou in Pretoria ’n streep getrek tussen diegene wat die land se Grondwet en demokratiese instellings wil beskerm en diegene wat dit wil ondermyn.

Sonder om enige party of persone by die naam te noem, het Ramaphosa ’n waarskuwing gerig aan mense wat spanning en verdeeldheid in die land saai. Hy sê diegene wat die demokratiese instellings wil ondermyn, nie daarin sal slaag nie.

Sy waarskuwing geskied teen die agtergrond van verskeie uitlatings deur lede van die MK-party (MKP) dat die verkiesing gekook is en dat Suid-Afrikaners nie die uitslag daarvan moet aanvaar nie.

Jacob Zuma, die leier van die MKP, het die afgelope Sondag tydens ’n nuuskonferensie in Johannesburg opnuut  gal gebraak oor die Grondwet, Suid-Afrikaanse regters en die land se howe.

Die MKP het Woensdag se inhuldiging van Ramaphosa geboikot, net soos wat hulle die eerste sitting van die Nasionale Vergadering verlede Vrydag geboikot het.

Ramaphosa is tydens ’n kleurryke seremonie deur hoofregter Raymond Zondo ingehuldig.

Ramaphosa sê niks sal die regering van nasionale eenheid (RNE) se aandag aflei om die mense te dien en hul belange te bevorder nie. “Dit is nou die tyd om vorentoe te beweeg. Saam sal ons meer en beter doen. Dit is nou die tyd om al ons vermoëns bymekaar te maak en al ons energie te rig om die oproep van die mense van Suid-Afrika te beantwoord,” het hy gesê.

“Ons moet elke poging om ons te verdeel, om twyfel of sinisme te saai, of om ons teen mekaar op te sweep, verwerp. Diegene wat probeer om in ons pad te staan, diegene wat probeer om spanning aan te wakker, sal nie daarin slaag nie, want Suid-Afrikaners is vasberade. Diegene wat poog om ons instellings te ondermyn, sal misluk, want demokrasie leef in die harte van ons mense en sal nooit verdryf word nie,” het Ramaphosa gesê.

Hy het opnuut die regering se onwrikbare getrouheid aan die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika bevestig en sê dit is gebaseer op die blywende visie en waardes van die Vryheidsmanifes.

Ramaphosa sê geen onenigheid of meningsverskil sal die regering laat afsien van dit wat hulle oproep om ’n verenigde, vrye, regverdige, gelyke en voorspoedige nasie te bou nie. “Op hierdie dag bevestig ons met ’n plegtige eed die wil van die mense van hierdie land.”

Ramaphosa het in sy toespraak gesê die mense van Suid-Afrika het dit in die verkiesing duidelik gestel wat hulle wil hê.

Dit is die eerste keer in 30 jaar, sedert Suid-Afrika ’n demokrasie geword het, dat die ANC in vennootskap met mededingende politieke partye moet regeer omdat hulle nie daarin kon slaag om ’n volstrekte meerderheid in verlede maand se verkiesing te wen nie en slegs 40 persent van die stemme gekry het.

Ramaphosa sê die land se mense wil ’n Suid-Afrika hê waarin almal skuiling kan vind in die demokratiese Grondwet en beskerming kan vind in die howe. “Hulle het ’n land beskryf waarin almal bo die omstandighede van hul geboorte kan uitstyg, gekoester deur liefdevolle families, gehelp deur ’n sorgsame staat en bemagtig deur inisiatief, wil en harde werk.”

Die President sê deur hul stemme het Suid-Afrikaners dit duidelik gemaak dat hulle die basiese benodigdhede van ’n lewe wil hê wat gemaklik, gelukkig, gesond en veilig is. Deur hul stemme het hulle gewys dat hulle genoeg kos wil hê om te eet. Water wat skoon is. Bekostigbare elektrisiteit wat altyd beskikbaar is. Hulle wil ordentlike huise hê wat die wind, die reën en die koue buite hou.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top