Ramaphosa wen Suid-Afrikaners se harte stap vir stap

  • 0

 

Foto: Izak de Vries

Suid-Afrika se nuwe staatspresident, Cyril Ramaphosa, is besig om baie Suid-Afrikaners se harte te wen met die gemaklike manier waarmee hy met gewone mense van alle rasse en kulture op grondvlak omgaan.

Kapenaars is die afgelope week genooi om ʼn gesonde lewenstyl te bevorder deur vroeg soggens saam met die president op sy oggendstappies te gaan.

Ramaphosa het die land verras toe hy sedert Zuma se bedanking by meer as een geleentheid onverwags in die openbaar verskyn het in publieke plekke waar hy vrylik met die publiek gemeng het. Hy het telkens vriendelik poseer vir foto’s van gretige Suid-Afrikaners wat saam met hom afgeneem wil word.

Die eerste keer wat hy in die openbaar opgemerk is na Zuma se bedanking was vroeg die volgende oggend toe hy saam met die voormalige minister van finansies, Trevor Manual, langs Seepunt se promenade gaan draf het. Hy is toegesak deur lede van die publiek wat hom gewaar het. Hy het ook nie omgegee om sy oggenddraffie te onderbreek vir foto’s saam met gewone lede van die publiek wat hom wou gelukwens nie.

Daarna is hy meer as een keer in winkelsentrums opgemerk waar hy net so gemaklik met die publiek gemeng het en telkens almal verbaas het met die gemoedelikheid waarmee hy hulle hanteer het.

Nou het die president Suid-Afrikaners in Kaapstad genooi om soggens halfses saam met hom te gaan stap om ʼn gesonde leefstyl aan te kweek. Sommige sien dit egter as ʼn ANC-foefie om stemme te wen vir volgende jaar se verkiesing.

Die eerste van hierdie gereelde daaglikse stappies was Dinsdagoggend vanaf Gugulethu se sportgronde na die Athlone-stadion. Die reaksie op Ramaphosa se manier om met gewone mense te kommunikeer was oorwegend positief op sosiale media. Daar was egter ook diegene wat op Twitter na hom verwys het as Runnersposer.

Die meeste Suid-Afrikaners is dit egter eens dat daar ʼn nuwe bries in die land waai sedert Ramaphosa by Zuma oorgeneem het. Hulle sê dit herinner aan die gees van Suid-Afrika se eerste demokraties verkose president Nelson Mandela wat uit sy pad gegaan het om Suid-Afrikaners oor politieke en kleurgrense te verenig.

Ramaphosa se skielike gewildheid in die Wes-Kaap is nie goeie nuus vir die Demokratiese Party wat in beheer van die provinsie is nie. Die DA in die Wes-Kaap gaan gebuk onder ernstige interne spanning en die party se burgemeester in Kaapstad, Patricia de Lille, word nie meer deur haar eie party vertrou nie. Dit, tesame met Ramaphosa se skielike gewildheid in die enigste provinsie wat deur die DA regeer word, kan die DA se kanse om beheer in dié provinsie tydens volgende jaar se verkiesing te behou, bemoeilik.

 

Lees ook op LitNet: Foto's: Op pad Athlone toe saam met Cyril Ramaphosa

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top