Die koronavirus hang soos ’n donker wolk oor die lewens van Suid-Afrikaners en die land se ekonomiese voorspoed, sê president Cyril Ramaphosa.
Die President het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê die swaarkry wat Suid-Afrikaners in die gesig staar, moet hulle egter nie blind maak vir die silwer randjie van die donker wolk wat oor hulle hang nie.
Hy het Suid-Afrikaners aangemoedig om op die silwer randjie te fokus. Die land se ekonomiese herstel kan volgens hom nie wag tot COVID-19 verby is nie en moet nou reeds begin. Ondanks die enorme uitdagings, soos stygende werkloosheid en armoede van miljoene Suid-Afrikaners, is daar volgens hom ook nuwe geleenthede wat kan help om die vernietigende gevolge van die koronavirus te help tem.
Hy het voorbeelde genoem van klein en mikro-ondernemings wat noodsaaklike goedere verskaf het toe mense nie kon rondbeweeg nie. Ramaphosa sê dié entrepreneurskap in townships en in plattelandse gebiede het in ’n moeilike tyd skerp na vore gekom.
Hy sê die pandemie en die inperking het klem gelê op die noodsaaklikheid van en die belangrike rol wat die informele sektor in die ekonomie speel. Ramaphosa sê om klein en informele ondernemings te laat floreer, moet die beperkings in die weg van entrepreneurskap opgehef word. Hy sê die kreatiewe en ondernemende gees van jongmense moet ook bevorder en ondersteun word.
“Selfs in ons donkerste uur moet ons kyk na die groen lote van hernuwing. Dit is die silwer randjie om die donker COVID-19-wolk” het die President gesê.
Ramaphosa sê een van die beslissende ontwikkelings tydens die grendeltyd is hoe besighede in die townships en plattelandse gebiede tot hulle ekonomiese reg gekom het toe mense nie toegelaat is om te reis nie. Op meer as een gebied het klein en mediumbesighede daarin geslaag om mense te voorsien van hulle daaglikse noodsaaklikhede. “Dit demonstreer die vasberadenheid van klein en mediumbesighede gedurende ’n tyd van groot ontwrigting in die land.” Die kapasiteit van hierdie ondernemings mag nie onderskat word nie, sê hy.
From The Desk of the President - Monday, 20 July 2020 - https://t.co/nPUJOQBYfY The old saying that ‘necessity is the mother of invention’ comes to mind when I think about the resilience and ingenuity shown by South Africans during the past three months. pic.twitter.com/ryPW4kcgGK
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) July 20, 2020
Talle gewone Suid-Afrikaner het skepties op Ramaphosa se boodskap gereageer. Hulle het hom op Twitter daarvan beskuldig dat hulle geen voordeel getrek het uit die noodmaatreëls wat ingestel is om besighede te help oorleef nie.
“Daar is nie geld vir klein besighede nie, maar jou liefling Pravin Gordhan wil die SAL red. En terwyl daar geen geld is vir die SAL nie, hou julle aan om die belastingbetaler se geld te mors om ’n lugredery te befonds wat ons nie nodig het nie maar wat in julle belang is omdat julle voordeel trek daaruit,” het Radeb Tshepo op Twitter geskryf na aanleiding van die President se pleidooi.
Iemand ander het gesê Suid-Afrikaners oorleef ten spyte van die ANC. “Ons sal soveel beter doen sonder die ANC se plundery, magstryde, onderlinge faksiegevegte, growwe wanbestuur en ekonomiese inmenging in die ekonomie en bestuur van die koronaviruspandemie.”
Verskeie kleinsakemanne neem die regering ook kwalik omdat hulle ekonomies ten gronde gaan en sê die regering het ’n hele ekonomiese sektor in ’n rekordtyd vernietig.
’n Groep genaamd Tourism Recovery SA het ’n ope brief aan Ramaphosa gerig en vra duidelikheid oor die heropening van die toerismebedryf. Die groep verteenwoordig meer as 2 000 operateurs in die reis-en-toerisme-sektor. RSG berig dat die woordvoerder, Ron Mackenzie, sê meer as ’n miljoen werksgeleenthede is in die gedrang en 600 000 mense word reeds deur aflegging in die gesig gestaar. Mackenzie sê die regering moet die bedryf te woord staan en duidelike aanduidings gee oor wanneer mense hulle werk kan hervat. Hy sê die bedryf se basiese lewensmiddele is weggeneem toe die inperkings ingestel is.
In sy daaglikse nuusbrief sê Vrye Weekblad se redakteur Max du Preez Suid-Afrika het nou lank genoeg vir resultate van “ons Nuwe Daeraad-profeet” gewag.
Du Preez sê met sy eerste, en selfs sy tweede televisierede oor die pandemie het hy gedink die krisis gaan dalk net die beste uit Cyril bring en dat die dringendheid van die situasie hom dalk net die verskoning gee om uiteindelik teen sy teenstanders in sy party op te staan.
“Maar ek is bevrees ek begin dink die krisis ná nege jaar van Zuma en staatskaping en toe die krisis van ’n pandemie wat besig is om ’n hoë tol te eis, is miskien net te veel gevra,” skryf Du Preez.
Buro: MvH