President Cyril Ramaphosa wil die skroewe aandraai om te sorg dat diegene wat verantwoordelik is vir die grootskaalse korrupsie in staatsdepartemente aan die pen ry. As Ramaphosa sy sin kry, kan daar binnekort sterk optrede verwag word teen diegene wat hulself ten koste van die staat verryk.
Die president het tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie by die Verenigde Nasies se Council for Foreign Relations in New York gesê diegene wat hulle aan korrupsie skuldig gemaak het, kan in die komende maande optrede teen hulle verwag.
Politieke waarnemers sê Ramaphosa se waarskuwing dui ook op ʼn groter vasberadenheid van sy kant om ontslae te raak van sy opponente in die ANC wat geïmpliseer word by staatskaping. Dit is algemeen bekend dat verskeie senior regeringslui asook politieke ampsbekleërs in die ANC deel was van oud-president Jacob Zuma se patronaatskap wat die staatskas klaarblyklik van miljoene rande beroof het.
Ramaphosa kan die geleentheid om korrupsie hok te slaan nuttig gebruik om ook ontslae te raak van politieke opponente in sy binnekring wat steeds Zuma-ondersteuners is en baat gevind het by Zuma se beweerde staatskaping saam met die Guptas.
Volgens Ramaphosa se uitlatings in New York sal die Suid-Afrikaanse regstelsel in die komende maande baie bedrywig wees. Dit beteken daar kan sigbare aksie deur die onderskeie wetstoepassingsagentskappe geneem word om die skuldiges voor die hof te daag.
Volgens Ramaphosa vorm die skoonmaakoperasie van staatsinstellings deel van ʼn grootskaalse projek deur die regering om die ekonomie weer aanloklik te maak vir buitelandse beleggers. Volgens Ramaphosa is dit iets waarop hy tans persoonlik fokus as president van die land.
Diegene wat geïmpliseer word moet verantwoordelik gehou word vir hulle dade en as hulle skuldig bevind word, moet hulle die volle mag van die wet in die gesig staar, het die president gesê. Dit beteken dat heelparty skuldiges in die tronk kan beland as Ramaphosa sy sin kry.
Hy het dit beklemtoon dat korrupsie nie net in staatsdepartemente voorkom nie, maar dat semi-staatsinstellings ook daarby betrokke is. Hy sê die regering is ook bewus van talle sake van korrupsie in die korporatiewe wêreld wat aanleiding gegee het dat miljarde rand deur middel van pensioenfondse en op ander gebiede verlore is.
“Ons skoonmaakaksie is op beide die privaat- en openbare sektor gerig. Ek is seker dat ons strafregstelsel ʼn besige tyd gaan hê om hierdie sake te hanteer,” het Ramaphosa gesê.
Die politieke annalis André Duvenhage het aan The Citizen gesê Ramaphosa verdien lof vir sy vasberadenheid om van korrupsie ontslae te raak. Duvenhage sê hy glo die president is ernstig om die skuldiges aan die pen te laat ry en dit sluit diegene in wat by staatskaping betrokke was.
“Baie van Ramaphosa se vyande is saam met hom in die ANC,” het Duvenhage gesê. “Al die lede van die Premierliga word by die beweerde staatskaping geïmpliseer behalwe David Mabuza.”
Volgens Duvenhage wil dit voorkom of Ramaphosa besig is om die wêreld voor te berei dat daar spoedig opgetree gaan word teen diegene wat geïmpliseer word by korrupsie en staatskaping.
Dit sal die president se hand sterk om nie net van sy politieke vyande in sy binnekring ontslae te raak nie, maar om die beleggers te lok wat die land broodnodig het om uit die huidige resessie te kom.
Buro: NB