Ramaphosa wil met ’n nuwe besem skoon vee

  • 0

’n Splinternuwe kabinet met ’n warm vooruitsig van geen beurtkrag die komende winter nie. So wil president Cyril Ramaphosa die land regruk en sy nuwe termyn as staatshoof begin met ’n verdere belofte dat hy die land se ekonomie weer behoorlik wil laat werk.

Die president het Woensdag by die Goldman Sachs-beleggerskonferensie in Johannesburg gesê die samestelling van sy nuwe kabinet sal in ooreenstemming wees met die regering se hoofprioriteite, naamlik om die ekonomie te stimuleer en werk te skep. President Ramaphosa sê ’n meer bekwame en vaartbelynde kabinet gaan binnekort aangekondig word.

Die ANC wat die afgelope verkiesing swakker gevaar het as in enige vorige verkiesing hoop om onder Ramaphosa se leierskap weer die kiesers se vertroue te herwin en beleggersvertroue te herstel.

Die president het ook ’n ambisieuse plan aangekondig om ekonomiese groei aan te moedig. Hy sê sy nuwe kabinet sal ’n raamwerk bied om die land se mense ten beste te dien en sal op ekonomiese groei fokus. Hy sê dit sal duidelik blyk uit die regeringstruktuur wat hy in gedagte het wanneer hy sy kabinet aankondig.

Ramaphosa se planne om die land se ekonomiese wiele weer aan die draai te kry volg ’n dag nadat Statistieke Suid-Afrika ’n verslag bekend gemaak is waarin dit blyk dat die land tans die hoogste werkloosheidsyfer in meer as 15 jaar het.

Tydens verlede jaar se beleggingskonferensie wat ook deur Ramaphosa geïnisieer is, is R290 miljard se beleggings deur meer as 1 000 beleggers wat die konferensie bygewoon het beloof. Ramaphosa hoop om hierdie voorgenome beleggings oor die volgende vyf jaar dramaties te verhoog.

Die president het ook diegene gepaai wat vrees dat Suid-Afrika ’n tweede Zimbabwe kan word as die regering voortgaan om grond sonder vergoeding te onteien. Hy het Suid-Afrikaners en oorsese beleggers verseker dat Suid-Afrika nie dieselfde foute as ander lande sal maak as dit by grond kom nie.

“Niemand hoef bekommerd twee wees oor die grondkwessie in Suid-Afrika nie. Wanneer dit by grond kom wil ons deel wees van die oplossing en nie die probleem nie,” het hy gesê.

Sy uitlatings oor grond geskied teen die agtergrond van groot kommer in veral die landbousektor oor die moontlikheid dat die regering die grondwet wil verander om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Die president sê hoewel grond wel onteien sal word, sal geen grondvergrype toegelaat word nie. Hy sê Suid-Afrika is geen boendoehof nie en enige grondhervorming sal op ’n ordelike manier geskied.

“Daar is geen manier dat ons vir beleggers kan sê kom belê hier, en dan die volgende dag hulle grond vat nie. Dit maak geen sin nie en geen persoon met verstand sal dit doen nie.”

Wat Eskom betref het hy gesê hy is vol vertroue dat die land nie die winter beurtkrag sal hoef te verduur nie, maar daar is steeds groot uitdagings wat uitsorteer sal moet word om Eskom weer volhoubaar te maak. Hy sê korrupsie het homself in Eskom tuisgemaak en behoorlike bestuursprosesse in die maatskappy is heeltemal verwoes.

Ramaphosa het ook gesê die land se werkloosheidsyfer van 27 persent hou hom snags wakker en bygevoeg dat werkskepping een van sy belangrikste mandate is om as president op te fokus.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top