President Cyril Ramaphosa, wie se reputasie as voorvegter teen korrupsie ernstig skade gely het in die finale Zondo-verslag oor staatskaping, het Maandag hard probeer om skadebeheer toe te pas op Zondo se verdoemende bevindings.
Dit is moeilik om te dink dat enige president in enige demokrasie so ’n skerp beoordeling deur die land se hoofregter van sy integriteit en vermoë kan oorleef. Die vraag is egter wie neem oor as Ramaphosa dit nie oorleef nie.
Met die vrystelling van die finale volumes van die Zondo-kommissieverslag, en die verdoemende bevindings daarin oor korrupsie, wetteloosheid en onbevoegdheid binne die staat, is die land se fokus nou gerig op die ANC en Ramaphosa se reaksie.
Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die staatskaping-era was net soos die koronavirus ’n nasionale trauma.
We now have an opportunity to make a decisive break with the excesses of the past by building a society free of corruption and a state rooted in ethics, professionalism and capability that truly serves the South African people. https://t.co/ShehdZOIIm pic.twitter.com/LYK9QAnan5
— Cyril Ramaphosa 🇿🇦 (@CyrilRamaphosa) June 27, 2022
Sy reaksie volg nadat Zondo in sy finale verslag harde woorde oor Ramaphosa te sê gehad het. Zondo het verskeie sake uitgewys waar Ramaphosa niks gedoen het om staatskaping te keer nie terwyl hy in ’n posisie was om dit te doen.
Volgens Zondo moes Ramaphosa as adjunkpresident veel meer gedoen het om die skade wat deur Zuma en sy trawante aangerig is te beperk.
Ramaphosa erken in sy nuusbrief dat die skade wat deur staatskaping aangerig is, verder strek as slegs die plundering van die staatskas. Hy sê staatskaping en grootskaalse korrupsie het nie net die Suid-Afrikaanse nasie beroof van dit wat regmatig hulle s’n was nie. Dit was ook verraad teen die waardes van die land se Grondwet, en van die beginsels waarop ons demokrasie gegrond is.
Ramaphosa, wat tydens sy termyn as adjunkpresident volgens Zondo se verslag nie ’n vinger verroer het om dit te keer nie, sê nou in sy nuusbrief die staatskapers se gedrag was immoreel, oneties en krimineel.
“Die immorele, onetiese en kriminele gedrag van selfdienende individue in gesagsposisies het die vertroue van die mense in die leiers en instellings wat bedoel is om hulle te dien, ondermyn. Dit het ’n vertrouensgaping geskep wat ’n rukkie sal neem om te herstel.”
Dit is duidelik dat die verdelingslyne binne die ANC al hoe duideliker gaan word namate die party besig is om hulle amptelike reaksie op die Zondoverslag in die komende vier maande voor te berei.
Die wyse waarop Gwede Mantashe, ANC-voorsitter en ’n persoon wat direk deur die staatskapingskommissie by Bosasa-korrupsie geïmpliseer is, die bevindings van die kommissie uitdaag, bevestig volgens die DA dat slegs ’n hof ’n einde sal kan maak aan kaderontplooiing wat sal bepaal of die land ooit van ANC-staatskaping bevry sal word
Terwyl Mantashe uitgevaar het teen die Zondo-verslag, is Ramaphosa baie meer vol lof vir die werk wat die kommissie gedoen het. Hy sê die kommissie kon sy werk uitvoer net vanweë die aktivisme van Suid-Afrikaners uit alle vlakke van die samelewing wat voorleggings gemaak het en getuienis gelewer het. Hy loof ook diegene wat as fluitjieblasers opgetree het en wat oortredings ontbloot en daaroor berig het.
“Net soos ons gesondheidsorg- en ander frontliniepersoneel geprys word vir hul dapperheid, moet almal wat ’n rol gespeel het om ’n lig te laat skyn op die korrupte aktiwiteite wat die hart van die staat wegvreet, geprys word vir hul heldhaftigheid en patriotisme,” se Ramaphosa in sy nuusbrief.
Hy sê om ’n Suid-Afrika van volle vryheid, gelykheid, vrede en gemeenskaplike voorspoed te verwesenlik, vereis dat elkeen sy rol speel.
“Noudat ons weet wat gebeur het en wie betrokke was, moet ons in alle erns begin werk. Ons moet verseker dat daar regstelling, geregtigheid en aanspreeklikheid is, en dat so ’n skandalige tydperk nooit weer gebeur nie.”
Ramaphosa sê alhoewel hulle nie verwant is nie, was die pandemie en staatskaping ernstige krisisse in die land se nasionale lewe.
Hy sê daar is nou ’n geleentheid om ’n beslissende breuk te maak met die vergrype van die verlede deur ’n samelewing vry van korrupsie te bou en ’n staat wat gewortel is in etiek, professionaliteit en ’n vermoë wat werklik die Suid-Afrikaanse mense sal dien.