’n Voorgestelde wysigingswetsontwerp oor kopiereg kan rampspoedige gevolge vir Suid-Afrika se hele kunstebedryf inhou.
Die voorgestelde wetsontwerp maak dit vir die Departement van Basiese Onderwys moontlik om opvoedkundige materiaal sonder die toestemming van skrywers, en sonder vergoeding aan hulle, te gebruik. Die kopiereg-wysigingswetsontwerp wat skynbaar binnekort deur die parlement gestoomroller gaan word, het verreikende implikasies binne feitlik alle vertakkinge van die skeppende bedrywe.
Een van die grootste redes vir kommer is die wetsontwerp se klem op toegang en op vryer gebruik van kopieregwerke, ten koste van diegene wat dit geskep het. Gebruikers van kopieregwerke, wat groot tegnologiemaatskappye soos Google insluit, word egter daardeur bevoordeel.
Volgens Marga Stoffer van Media24 is die beoogde veranderinge aan die wetgewing nie net strydig met die internasionale ooreenkomste wat deur Suid-Afrika onderteken is nie, dit is ook strydig met Suid-Afrika se Grondwet.
Stoffer het skrywers en kunstenaars geskok toe sy die implikasies van die voorgestelde wetswysiging uitgespel het tydens die bekendstelling van 2019 se Woordfeesprogram in Stellenbosch.
Sy sê dié wetgewing is nie in die belang van skrywers of uitgewers nie en het die potensiaal om die plaaslike uitgewersbedryf ’n yslike knou toe te dien, waarvan die bedryf nie noodwendig sal kan herstel nie. Ironies genoeg sal internasionale uitgewerye beter kan herstel as wat plaaslike uitgewerye kan wat totaal en al afhanklik is van die Suid-Afrikaanse mark.
PricewaterhouseCoopers het in opdrag van Suid-Afrika se Uitgewersvereniging (PASA) ’n impakstudie gedoen wat aangetoon het dat die uitgewersbedryf ongeveer R2,1 biljoen per jaar sal verloor in omset. Dit is uit hierdie verkope van boeke wat uitgewerye voortbestaan en werk skep. Dit is ook uit hierdie verkope van boeke wat skrywers hulle brood verdien, want hulle tantième is ’n persentasie hiervan.
Volgens Stoffer is dit belangrik dat almal kennis neem van die bedreiging wat die skeppende bedrywe (letterkunde, musiek, teater, beeldende kuns, ens) op die oomblik in die gesig staar. “Hierdie bedreiging kom in die vorm van ’n nuwe kopiereg-wysigingswetsontwerp wat met onbehoorlike haas deur die parlementêre prosesse gedryf is en deur die Departement Handel en Nywerheid se portefeuljekomitee goedgekeur is.”
Die portefeuljekomitee oorhandig dit binnekort aan die Nasionale Vergadering om as wetgewing te bekragtig.
“Ons woon in ’n land waar daar bitter min staatsondersteuning vir die kunste is en waar ons min boekkopers het,” sê Stoffer. Sy sê dit is skreiend hoe min skrywers genoeg uit hul skryfwerk verdien om dit voltyds te kan doen.
Die enkeles wat behoorlik vergoed word vir hulle werk, is dié wat gelukkig genoeg is om tekste te hê wat in skole gebruik word. Sy sê Kopieregwetgewing is nie iets waarmee kreatiewe mense besig wil wees nie. “Dit is verskriklik kompleks en, vir die meeste mense, nogal vervelig. Ons is liewer besig met kreatiewe aktiwiteite.” Sy het ’n beroep gedoen op almal wat omgee vir die kreatiewe bedrywe om hulle te bly beywer vir ’n regverdiger bestel vir diegene wat hulle lewens verryk deurdat hulle die vrug van hulle kreatiwiteit met almal deel.
PEN Afrikaans, ’n lidvereniging van PEN International, het saam met ander skrywerorganisasies ’n petisie teen die aanvaarding van die wetsontwerp geloods. Hier is die inligting:
Buro: NBSouth African authors protest against Copyright Amendment Bill