Die ramptoestand wat deur die regering afgekondig is om die land se elektrisiteitkrisis te bestuur, kry die wind al hoe meer van voor.
Die DA het reeds aangekondig dat hulle die verklaarde ramptoestand in die hof gaan betwis, terwyl die vakbond Solidariteit nou ook hofstukke ingedien het om dit te beveg.
Die Vryheidsfront Plus meen die ramptoestand is tot mislukking gedoem. Die party se leier, Pieter Groenewald, sê die feit dat Nkosazana Dlamini-Zuma in beheer daarvan gaan wees, het yskoue water gegooi oor al die planne wat president Ramaphosa aangekondig het om die krisis te bowe te kom.
In Solidariteit se aansoek voer hulle onder meer aan dat die kragkrisis nie aan die definisie van ’n ramp ingevolge die betrokke wetgewing voldoen nie; dat bestaande wetgewing voldoende is om die krisis te kan bestuur; dat die afkondiging van ’n ramptoestand geen duidelike doel dien nie; en dat daar onbehoorlike politieke inmenging was by die verklaring van die ramp.
#InDieNuus
Die vakbond Solidariteit het Dinsdag hofstukke op die regering beteken waarin die vakbond die verklaring van 'n nasionale ramptoestand om die kragkrisis te pak ter syde wil laat stel. @maroelamedia https://t.co/2jCub2WwMN— Solidariteit (@solidariteit) February 15, 2023
“Die regering is self die oorsaak van die elektrisiteitsramp en kan homself nie as ramp verklaar en dan buitengewone magte verkry om die ramp op te los nie. Die rampwetgewing is nie bedoel vir regeringsmislukkings nie,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Ons geheue is nie kort nie. Ons kan die magsvergrype tydens die Covid-ramptoestand, en hoe rampgeld geplunder is, onthou. ’n Ramptoestand vir die elektrisiteitskrisis is ’n ramp,” sê Hermann in ’n verklaring.
Volgens Solidariteit is ’n ramptoestand ’n staat van uitsondering en ’n proses wat teen die normale demokrasie indruis. Daar moet dus uiters versigtig daarmee omgegaan word.
“’n Ramptoestand is bedoel net as ’n tydelike ingryp en moet net gebruik word indien geen ander instrument beskikbaar is om die situasie te hanteer nie. Dit beteken as ’n ander regsinstrument vir die uitsonderingsituasie beskikbaar is, moet dit gebruik word.”
Die DA, wat verlede jaar gevra het vir ’n ramptoestand oor elektrisiteit, gaan ook hof toe, omdat die ramptoestand wat deur Ramaphosa afgekondig is, nie is wat hulle wou hê nie. Die DA het die afgelope week bevestig dat hulle reeds hul prokureurs ingelig het om die aankondiging in die hof te betwis. Die party sê hulle wil ’n “omheinde” ramptoestand hê wat deur onafhanklike kundiges bestuur word.
Die DA-leier, John Steenhuisen, het Dinsdag in die parlement gesê Ramaphosa se party glo dat die beste manier om ’n bekostigbare, betroubare energievoorsiening vir die nasie te lewer, is dat die ANC volle beheer oor Suid-Afrika se energieproduksie behou."
"Ramaphosa's party believes that the best way to deliver an affordable, reliable energy supply for the nation is for the ANC to keep full control of South Africa's energy production." - @jsteenhuisen
Watch the full speech now: https://t.co/0s9h3TjXXc#SONAdebate pic.twitter.com/vrS900aiPb
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 14, 2023
Solidariteit sê Suid-Afrika was al voorheen op hierdie pad. “Tydens die COVID-19-ramp het ons die noodlottige gebreke in die wetgewing oor die nasionale toestand van rampe gesien, wat die ANC onbeperkte mag toelaat om sonder enige parlementêre toesig te plunder.”
Solidariteit voel ook baie sterk daaroor dat dit ingrypende stappe gaan verg om die elektrisiteitskrisis te hanteer. Die probleem lê volgens hulle egter juis daarin dat die regering tot dusver nie die politieke wil gehad het om die regte dinge te doen nie.
“Al die maatreëls wat in pres Ramaphosa se staatsrede aangekondig is, kan deur ander statutêre instrumente geïmplementeer word. Indien ander instrumente bestaan, is rampwetgewing nie van toepassing nie.
“As ons toelaat dat hierdie ramptoestand voortgaan, word ’n gevaarlike presedent geskep. Dit kan beteken dat Suid-Afrika ’n toekoms van ’n rampdemokrasie tegemoet gaan. Regeringsmislukkings soos om nie water- en rioleringsdienste te lewer nie, mislukkende munisipaliteite, die inploffing van infrastruktuur asook ander probleme kan dan alles hanteer word deur normale demokratiese prosesse by wyse van rampverklarings te omseil. Dit was nooit die bedoeling van rampbestuurswetgewing nie,” sê Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann.