Suid-Afrikaners verwelkom die beëindiging van die nasionale ramptoestand wat Maandag om middernag werking getree het, maar is skepties oor die voorgestelde regulasies wat dit gaan vervang.
President Cyril Ramaphosa het die nasionale ramptoestand Maandag om middernag beëindig 750 dae ná die instelling daarvan op 15 Maart 2020.
Ramaphosa sê aangesien die vereistes vir ’n nasionale ramptoestand wat ingevolge die Wet op Rampbestuur verklaar moet word, nie meer bestaan nie, het die kabinet besluit om dit te beëindig.
President @CyrilRamaphosa addressing the nation from the Union Buildings in Tshwane, on the termination of the National State of Disaster which was declared on 15 March 2020 in response to the COVID-19 Pandemic. pic.twitter.com/7abvDsuKe2
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) April 4, 2022
Die Wet op Rampbestuur maak voorsiening daarvoor dat sekere elemente van die regulasies vir ’n beperkte tydperk mag voortbestaan vir postramp herstel en rehabilitasie.
Baie Suid-Afrikaners kla egter dat die beëindiging van die ramptoestand min dinge verander. Maskers is steeds verpligtend vir binnenshuise openbare ruimtes. Byeenkomste is beperk tot 50% van ’n lokaal se kapasiteit mits deelnemers bewys van inenting of ’n negatiewe COVID-19-toets kan toon. Reisigers na Suid-Afrika benodig steeds bewys van inenting of ’n negatiewe toetsresultaat of sal ’n antigeentoets moet ondergaan en ’n isolasie van 10 dae as hulle positief toets.
Die Vryheidsfront Plus sê in ’n verklaring die vervanging van die ramptoestand met regulasies van die Departement van Gesondheid wat op 15 Maart in die Staatskoerant gepubliseer is om COVID-19 of enige pandemie in die toekoms te bestuur, is net ’n verskuiwing van politieke mag.
“Dit beteken bloot dat die regering die COVID-19-pandemie nie meer onder die minister van samewerkende regering en tradisionele sake sal reguleer nie, maar deur die minister van gesondheid onder die Nasionale Gesondheidswet.”
Its attempt to amend the National Health Act with new regulations means that the government can simply continue to impose limiting economic restrictions. https://t.co/mi1s98psr6
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) April 5, 2022
Die DA het in ’n ope brief aan die minister van gesondheid, Joe Phaala, ook beswaar gemaak teen die voorgestelde nuwe gesondheidsregulasies.
Die party se skaduminister van gesondheid, Michéle Clarke, sê in haar verklaring sy is bekommerd dat die konsepregulasies gebruik sal word as ’n voortsetting van die inperkingsregulasies nadat die amptelike nasionale ramptoestand beëindig is.
“Dit is vir ons uiters kommerwekkend dat, ten spyte van die formele opheffing van hierdie ramptoestand, dit lyk of ons regering nou vasbeslote is om die beperkings wat ons so lank in die gesig gestaar het te normaliseer deur regulasies by die Gesondheidswet te voeg wat hierdie einste beperkings effektief sal normaliseer.”
The DA welcomes the lifting of the State of Disaster, however it is worrying that government seems hell-bent on normalising the restrictions by introducing regulations to the Health Act that will effectively normalise this very abnormal state of affairs.https://t.co/nAvCxtEixc
— Democratic Alliance (@Our_DA) April 5, 2022
Die DA sê die beoogde regulasies gee aan die minister onbeperkte mag om inperkings en beperkings in te stel sonder die vereiste om advies van kundiges te ontvang.
Volgens die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor gesondheid, Philip van Staden, is dit duidelik dat hierdie voorgestelde regulasies nie goed deurdink is nie en dat die regering geen les uit die beperkings ingevolge die ramptoestand geleer het nie.
“Die minister van gesondheid kan kragtens die voorgestelde regulasies enige tyd sonder enige parlementêre oorsig verdere regulasies afkondig. Die VF Plus het reeds in Oktober 2020 in die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid hierteen gewaarsku.”
Van Staden sê dit is onaanvaarbaar dat die regering op hierdie wyse aan “sinnelose en beperkende regulasies vasklou” wat die land soveel skade berokken het.
“Die vlak 5-inperkings is aanvanklik ingestel om die land se openbare gesondheidstelsel gereed te kry vir die pandemie se gevolge, maar tot vandag toe is dit steeds nie gereed vir enige pandemie nie.”
Die huidige lae besetting van hospitaalbeddens weens COVID-19-gevalle en die herstelkoers van 97% dui volgens die VF Plus daarop dat enige verdere regulasies Suid-Afrika net skade gaan aandoen.
Die party moedig die publiek, medici en wetenskaplikes aan om voor 15 April 2022 hul besware oor die voorgestelde gesondheidsregulasies aan die Departement van Gesondheid te stuur by tsakani.furumele@health.gov.za.
Ook die DA het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om hierdie voorgestelde wysigings noukeurig te ondersoek en hul beswaar teen 16 April in te dien.