Suid-Afrikaners sal binnekort weet of die ramptoestand wat oor twee weke verstryk, vir nóg ’n maand verleng gaan word en of die regering gaan gehoor gee aan die talle oproepe uit verskeie oorde om dit na byna twee jaar te beëindig.
Sedert die ramptoestand die einde van Maart 2020 verklaar is, is dit reeds 23 keer verleng. Die regulasies wat daarmee gepaard gaan, is reeds 20 keer verleng ná hul eerste einddatum van Junie 2020.
Die Presidensiële Koördineringsraad het Maandag vergader om die moontlike afskaffing van die ramptoestand te bespreek.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het aangedui hy sou tydens die vergadering motiveer dat die ramptoestand dadelik opgeskort moet word. Winde het die naweek aangekondig dat die Wes-Kaap nou ook die vierde vlaag van COVID-19 se piek bereik het.
“Ek sal spesifiek argumenteer vir, en bewyse verskaf ter ondersteuning daarvan om die nasionale ramptoestand te laat verval,” het Winde in die aanloop tot Maandag se vergadering gesê.
Hy het ook gevra vir die skrapping van die reël by skole dat daar ’n afstand van een meter tussen leerling moet wees. "As ons nie spesifiek die een-meter-reël vir skole skrap nie, sal ons ’n terugkeer na voltydse skoolopleiding vir ons kinders verhoed. Dit sal ongetwyfeld ons armste gemeenskappe die meeste seermaak, wat gevolg sal gee aan ’n generasiekatastrofe.” Die kabinet het reeds besluit skole moet weer alle leerders verwelkom en elke dag aan almal onderrig verskaf.
Winde sê in ’n verklaring die laer infeksiekoers wat tans ervaar word en die bewyse wat duidelik daarop dui dat die land ’n "endemiese" stadium betree het, maak die ramptoestand oorbodig.
The Western Cape has officially exited the fourth wave 📢
Read my full statement here👉 https://t.co/ABjNpIZjXs pic.twitter.com/lrC9qqZJ0f
— Premier Alan Winde (@alanwinde) January 28, 2022
“Ons COVID-19-verwante hospitalisasie en sterftes bly laag, ondanks die veel groter aantal gevalle wat tydens die vierde vlaag van infeksies aangeteken is. Daarom moet ons ons COVID-19-reaksie normaliseer deur bestaande gesondheidswetgewing, en ons pogings daarop toespits om werkloosheid in Suid-Afrika aan te pak.
“Ek sien uit na ’n robuuste bespreking oor hierdie en ander punte, en vir ’n dapper verklaring wat gemaak word ter ondersteuning van werklose Suid-Afrikaners en ons land se kinders,” het Winde gesê.
In plaas van die ramptoestand moet ons ons aandag daarop vestig om die tweede pandemie van werkloosheid wat in ons land voortduur, te beëindig, sê Winde.
President Cyril Ramaphosa het vroeër die maand belowe die ramptoestand sal hersien word. Die ramptoestand word die afgelope twee jaar telkens verleng, en gee die regering die bevoegdheid om inperkingsregulasies in te stel.
Een van die vrae waaroor Suid-Afrikaners tans wonder, is hoe lank die vereiste om maskers te dra nog sal geld. Daar bestaan uiteenlopende menings onder die publiek of hulle van hulle maskers ontslae sal raak indien die regulasie wat die dra daarvan verpligtend maak, opgehef sou word.
Die meeste van RSG se luisteraars het Maandag tydens ’n inbelprogram daaroor op die aktualiteitsprogram Monitor aangedui dat hulle nie kan wag om van hulle maskers ontslae te raak nie. Sommige luisteraars het gesê hulle sal dit steeds vrywillig dra in openbare plekke waar daar ’n samedromming van mense is, terwyl enkele mense steeds ontken dat daar hoegenaamd ’n pandemie was.
Die Solidariteit Beweging, wat Solidariteit en AfriForum insluit, het reeds verlede maand met regstappe begin om die howe te vra om die ramptoestand te beëindig, terwyl Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, ook verlede maand ’n brief aan die President geskryf het waarin hy vra dat buitelugfasiliteite tot volle kapasiteit heropen mag word.
Oproepe om die ramptoestand te beëindig word ook deur verskeie mediese kenners gesteun.
Shabir Madhi, dekaan, Fakulteit Gesondheidswetenskappe en professor in entstofkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, is een van verskeie Covid-kenners wat glo dat die ramptoestand uitgedien is. ’n Groep gesondheidskenners vra in ’n meningstuk in Daily Maverick ook dat die nasionale ramptoestand beëindig word. Hulle sê daar is verskeie alternatiewe om die pandemie te bestuur in die geleidelike terugkeer na normaliteit.