Suid-Afrikaners kan na meer as twee jaar se streng regulasies daarna uitsien om van volgende week af ’n meer normale bestaan te voer wanneer die nasionale ramptoestand volgens alle aanduidings opgehef sal word.
Die kabinet het Maandag besluit die ramptoestand moet so gou as moontlik opgehef word nadat president Cyril Ramaphosa aan die begin van die jaar tydens sy staatsrede die opheffing daarvan in die vooruitsig gestel het.
Ramaphosa het verlede week aangekondig dat hy die ramptoestand sal ophef sodra die proses van openbare deelname oor toekomstige gesondheidsregulasies afgehandel is.
Ramaphosa se kabinet was onder groot druk van sakegroepe, opposisiepartye en gesondheidskundiges om die twee jaar lange ramptoestand op te hef. Die ramptoestand is veral ’n groot struikelblok op pad na ekonomiese herstel.
Die voorgestelde nuwe maatreëls is Woensdag deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini Zuma, in die Staatskoerant gepubliseer.
Die DA se skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake, Cilliers Brink, het in reaksie hierop gesê die Suid-Afrikaanse regering het uiteindelik toegegee aan maande se openbare en politieke druk, en dit is nou duidelik dat die nasionale ramptoestand beëindig sal word.
COVID-19 kon volgens Brink al maande lank nie meer aan enige wetlike definisie van “’n nasionale ramp” voldoen nie. Hy sê daar was geen grondwetlike basis vir die herhaalde verlenging van die amptoestand nie.
A concession that could’ve been made months ago, but the government clung to their lockdown powers. And only a tactical climb-down, since the draft national health regulations seek to make government lockdown powers (and more) permanent. https://t.co/6EHYDOfkMX
— Cilliers Brink (@CilliersB) March 29, 2022
“Die besluit wat die regering geneem het, volg glo op ’n noodkabinetsvergadering. En so welkom as wat dit is, kon dit maande gelede bereik gewees het, en dit kon die ekonomie ernstige skade gespaar het.”
Die party sê in ’n verklaring Woensdag se aankondiging het veels te laat gekom, en teen ’n enorme prys vir miljoene Suid-Afrikaners.
Die publiek het tot môre (Vrydag 1 April) geleentheid om kommentaar te lewer op die voorgestelde regulasies voordat dit finaal in die Staatskoerant gepubliseer word en die huidige regulasies herroep sal word.
[Post-National State of Disaster Regulations]
You're invited to make written representations regarding the proposed amendments.Representations or comments may be submitted online via: https://t.co/jphLuWc8l8
Or be emailed to: Regulations@cogta.gov.za #COVID19 #StaySafe pic.twitter.com/siR594UT3A
— NationalCoGTA (@NationalCoGTA) March 30, 2022
Die rede vir die beperkte kommentaartydperk is volgens Dlamini Zuma om te verseker dat die regering die ramptoestand so gou moontlik kan beëindig, terwyl regulasies met betrekking tot narampherstel en rehabilitasie verantwoordelik ingestel word, soos omskryf in die Wet.
Die opheffing van die ramptoestand beteken nie Suid-Afrikaners sal onmiddellik dieselfde vryhede hê as wat hulle voor die pandemie gehad het nie.
Die nuwe regulasies sal steeds sekere minimale en beperkte regulasies bevat. Dit het te doen met die hantering van die pandemie nadat die ramptoestand opgehef word en die huidige regulasies herroep is.
Hierdie minimale en beperkte regulasies wat in posisie gelaat word, sal slegs vir 30 dae van 5 April 2022 geld, daarna sal dit outomaties verval.
Dit sal onder andere bepaal dat die dra van maskers binnenshuis steeds verpligtend sal wees. Daar sal ook steeds ’n beperking wees op die aantal mense wat openbare byeenkomste mag bywoon.
Ramaphosa sal waarskynlik vroeg volgende week die beëindiging van die ramptoestand aankondig.
Vertoë of kommentaar kan aanlyn ingedien word deur die volgende skakel te gebruik: https://forms.office.com/r/tMMP6WLEf2.
Kommentaar kan ook per e-pos gestuur word aan: Regulations@cogta.gov.za.
Die regulasies is beskikbaar op hierdie skakel: .
Dlamini Zuma het beklemtoon dat die nuwe maatreëls daar is spesifiek om voorsiening te maak vir narampherstel en die rehabilitasieperiode. Die doel is om risiko's te versag terwyl sommige van die gevolge van die ramp hanteer word en die risiko van ’n soortgelyke ramp verminder word indien dit weer sou plaasvind.
Minister @DlaminiZuma reiterates that the measures are to cater for post-disaster recovery and the rehabilitation period to mitigate risks and to efforts, while dealing with some of the effects of the disaster and reducing the risk of a similar disaster occurring.
— NationalCoGTA (@NationalCoGTA) March 30, 2022
Die regering het opnuut ’n beroep op mense gedoen om ingeënt te word, en het diegene wat nog nie ingeënt is nie, aangemoedig om voordeel te trek uit die entstowwe wat steeds gratis regoor die land aangebied word.