Ras, rassis, rassister

  • 0

Winnie en Vicki, twee name wat nie in dieselfde asem genoem behoort te word nie, nie as die een ’n Madikizela-Mandela en die ander ’n Momberg is nie. Die afgelope week het die meeste Suid-Afrikaners gerou oor Winnie, die Moeder van die Nasie; die ander is terug tronk toe nadat haar appèlsaak teen ’n vonnis weens crimen injuria uitgestel is.

Rassistiese uitsprake versuur en ondermyn nou al geruime tyd die openbare diskoers in Suid-Afrika. Momberg het in die tronk beland nadat sy ’n swart polisieman dosyne kere die berugte “k-woord” toegesnou het. As daar een term is wat die minagting en verontmensliking grondliggend aan apartheid omvat, is dit hierdie woord.

Vicki Momberg (Foto: YouTube)

Madikizela-Mandela se dood het gepaard gegaan met ’n vloedgolf van nostalgie vir die vroeë dae van die “struggle”, soos die besef onder Suid-Afrikaners van alle rasse posgevat het dat sy as ikoon van politieke vervolging en teenstand wel ’n heroïese nalatenskap het. Met haar hele lewe onder die loep het die beeld verdof van haar as ook die struggle se Madame Mao, wat in die 1980’s gelyk het of sy ’n radikale omverwerping van die oue wou aanvuur aan die hoof van moorddadige milisies.

Vele (veral wit) Suid-Afrikaners het egter in kommentaar gewys hulle verkies die beeld van haar as moordenaar van die 14-jarige Stompie Seipei. Wat die kommentaar gekenmerk het, was die soms histeriese rassistiese uitsprake – in dieselfde trant as Momberg s’n.

Dit het die onmiddellike vraag geskep: Hoe erg is dit? Moet Suid-Afrikaners, en veral die owerhede, hulle daaraan steur, of moet almal kophou en op hul tande kners, want wit mense het nie meer politieke mag nie en dit is belangriker dat die grootste mate van vryheid van spraak gehandhaaf word ter wille van ons liberale demokrasie?

Die Momberg-geval is die jongste in ’n reekse voorvalle die afgelope paar jaar. Die huidige golf het begin met die Facebook-uitlatings van Penny Sparrow, wat swart mense as ape uitgeskel het en wat haar ’n vonnis van R100 000 (€6 800) op die hals gehaal het. In van die gevalle hierna moes ’n regter bedank, ’n bank het ’n gesiene ekonoom afgedank en twee wit plaaswerkers is lank tronk toe gestuur toe hulle ’n vermeende dief in ’n nagemaakte doodskis gestop het.

Daar is min simpatie met hulle, selfs onder wittes. Die algemene gevoel heers egter dat daar dubbele standaarde is, want swart mense word nie naastenby so swaar gestraf as wit mense nie. In die berugste onlangse geval het ’n weermagoffisier skynbaar met net ’n ligte tikkie op die vingers ontsnap nadat hy op sosiale media op ’n plaasmoord gereageer het. Die wit slagoffers se oë moes ook uitgesteek gewees het, het hy gemeen.

Aan die een kant staan diegene wat glo wit rassisme is beperk tot ’n klompie apartheidsbittereinders, mense wat nooit die nuwe Suid-Afrika aanvaar het nie; dit is niks nuuts nie en hulle is meestal ouer mense wat sal uitsterf. Sulke waarnemers wys daarop dat die nuwe vlaag rassisme min of meer saamval met die opkoms van sosiale media, wat die neiging het om die woede van minderhede tot buitensporige proporsies op te blaas.

Teenoor hulle staan die mense wat meen die land is nog onderwerp aan wit sistemiese mag, aan “witheid”, wat aan wit mense weens hul “wit bevoorregting” gewortel in die uitbuiting van die verlede ’n onregverdige voorsprong op feitlike alle gebiede gee. Hieragter staan die skim van Amerikaans-gebaseerde Critical Race Theory, wat dit ook stel dat selfs goedbedoelende wit mense nie kan ontkom aan die rassisme waarmee hulle gebore is nie.

Die mees onlangse bekeerling tot Critical Race Theory skyn te wees Max du Preez, wie se gewilde politieke rubrieke vir baie lesers as morele kompas dien. Du Preez het ’n snaar aangeraak met sy vergelyking dat wanneer ’n swart mens iemand slegsê, dit nie is vanuit ’n posisie van meerderwaardigheid nie, terwyl dit altyd die geval is met ’n wit mens wat so maak.

Kommentators het gou die swak punt in die logika ontbloot: Du Preez gee daarmee te kenne dat swart mense nie in staat is om meerderwaardig te wees nie, selfs al word hulle in posisies van mag geplaas. Critical Race Theory-aktiviste sal dit etiketteer as net nog ’n voorbeeld van onbewuste rassisme, ook by ’n dekade lange vegter daarteen soos die voormalige Vrye Weekblad-redakteur.

Kommentaar in hierdie trant dien as versterking vir ’n stelling wat nou al gemene saak vir beide wit en swart intellektuele is, naamlik dat swart mense nie rassisties kan wees nie. Wanneer hulle oënskynlik stereotipiese uitsprake maak, is dit weens hul woede oor apartheid en nie omdat hulle regtig bedoel “Kill the whites” nie.

Winnie Madikizela-Mandela in 2008 (Foto: Wikimedia Commons)

Sodanige verontskuldiging van swart rassisme is veel meer begryplik in Amerika, waar swart mense ’n minderheid is en daagliks onderwerp word aan ten minste die getalle-oorwig deur wit mense, wit kultuur en witheid, en waar daar oorvloedige getuienis is dat swart mense daar inderdaad uitgesonder word vir soms gewelddadige behandeling deur sektore van die owerhede. En dit was in Suid-Afrika ook so in die apartheidstyd – ’n mens kan nooit die lyding en ongeregtigheid geringskat waaraan swart mense onderwerp is nie.

Maar vandag is die situasie omgekeer hier te lande. Daar is baie meer swart mense as wit mense in posisies van mag, en die regerende ANC se beleid om dit so te hou word deur feitlik almal aanvaar as noodsaaklik vir die toekoms van die land. Alleen so kan ’n swart middelklas opgebou word om die ekonomie op te laat rus.

’n Mens kan redeneer dat hierdie mag nie eintlik toegepas word nie, want die onbevoegdheid aan die kant van die staat is te groot. Dit is maar nog steeds die private sektor, waarvan die meeste mense glo dat dit nog deur wittes beheer en besit word, wat alles aan die gang hou. Maar met so ’n redenasie, as jy wit is, loop jy natuurlik gevaar om jou weer eens aan jou eie ingebore rassisme te onderwerp.

’n Onaangepaste toepassing van Critical Race Theory is gevaarlik. Die vrye teuels wat dit gee aan mense wat as swart identifiseer om rassistiese uitsprake teen wittes te maak, word oorvloediglik gedemonstreer op sosiale media, in die pers en selfs op konferensies, waar dit tot onlangs nog die mode was om op te staan en uit te roep: “I hate white people”, gepaardgaande met luide applous.

Die gevaar is nie beperk tot venyn of erger teenoor wit mense nie. Dit is ’n gewaagde stelling om te maak dat swart mense nie rassisties kan wees wanneer die jaar 1994 nie net onthou word vir die Suid-Afrikaanse politieke skikking nie, maar ook vir die volksmoorde in Rwanda.

Die kwelvraag vir enige rassistiese stelsel, sy achilleshiel, is om die rasse te identifiseer waarop dit berus. Wie is die wittes van wie gepraat word? Die helfte van hulle praat Afrikaans, en slegs ’n paar geslagte gelede was hul voorouers onderwerp aan etniese suiwering deur die ander helfte s’n, tydens die Anglo-Boereoorlog.

Wie swart is, is nog moeiliker om te beantwoord. Volgens Critical Race Theory is die korrekte term people of colour, maar dit is ’n Amerikaanse term, ontwerp vir omstandighede daar. Bitter min “ware” swart mense (Afrikane) beskryf hulself so; dis gewoonlik ’n sogenaamde bruin mens wat so praat. Maar bruin mense, veral die Afrikaanssprekendes, het nog altyd aan die agterspeen gesuig, tydens apartheid en nou ook onder die ANC.

Tydens die xenofobiese onluste in 2008, toe 62 mense gesterf het weens hul vermeende buitelandse oorsprong, was ’n volle 21 van die slagoffers lede van minderheidsgroepe soos Sjangaans en Tsongas, al was hulle Suid-Afrikaanse burgers.

En dan is daar die plaasmoorde. Ministers en ander amptenare verklaar kort-kort dat die motivering vir die oorgrote meerderheid van gevalle misdaad is – een politikus het dit gestel op 95% – en uit my eie werk as joernalis kan ek getuig dis waar. Maar as ’n mens daardie syfer as korrek aanvaar ter wille van die argument, beteken dit 5% is gemotiveer deur ras.

Die aantal plaasmoorde is die onderwerp van veel ontleding en bespiegeling. As ’n mens dit egter, weer ter wille van die argument, op 3 000 stel, beteken dit politici in die regerende party reken daar was 150 gevalle van rasgemotiveerde moorde op wit mense in die platteland sedert 1994.

Behalwe nou onder die gediskrediteerde ver-regse bittereinders wat hulself gereeld in albei voete skiet, is daar geen bohaai hieroor, geen amptelike ondersoek, geen spesiale konferensies nie.

Buro: MvH
  • 0
Top