"Rasbehepte transformasie" maak PUK armer

  • 0

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se beheptheid met rassetransformasie veroorsaak dat die belangrikste kenmerke van die universiteit se Potchefstroomkampus toenemend van die kampus na ander instellings wegbeweeg.

So het Theuns Eloff, oud-PUK-rektor en oud-visekanselier van NWU verlede Saterdag tydens dié kampus se 150ste bestaansviering gesê.

Theuns Eloff (Foto: Naomi Bruwer)

Volgens Eloff sal nuwe instellings soos Akademia en Aros die stokkie van daardie aflosstryd moet oorneem. “En dit is interessant en belangwekkend dat oud-Pukke ook by sulke instellings aan die stuur of in sleutelposte is,” het Eloff gesê.

Die twee belangrikste kenmerke wat die PUK in sy bloeitydperk beleef het en waarvan daar toenemend wegbeweeg word, is volgens Eloff eerstens Christelik-prinsipiële denke oor die wetenskap en die wêreld, en tweedens onderrig en navorsing in Afrikaans.

“Afrikaans as onderrig- en navorsingstaal was in die vorige eeu nooit ’n kwessie nie, en het eers nà 1994 onder druk begin kom. In die eerste tien jaar na die samesmelting in 2004, het ’n beginselvaste bestuur en raad Afrikaans as volle wetenskapstaal op die Potchefstroomkampus vasgemaak.”

Ná die gedwonge samesmelting het Eloff gehoop dat die nuwe NWU se Potchefstroomkampus nog grootliks die PUK (Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys) sou kon bly en voortgaan om die rol van die PUK te speel – binne die geheel van die NWU. “Maar die bestuurspan en die raad het na 2014 anders besluit, en daardie hoop is nou verydel.”

PUK (Foto: ToonT [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Volgens Eloff het die Suid-Afrika waarin ons vandag leef nie groot nut vir die geskiedenis nie – veral nie geskiedenis voor 1994 en, in die NWU se geval, nie voor 2004 nie. Hy sê al hoe meer dosente en administratiewe en bestuurspersoneel word aangestel wat niks van die PUK (of die Mafikeng- en Vaaldriehoekkampusse) weet nie en ook nie wil weet nie. Daardeur word die geskiedenis verder ontken en vernietig.

Hy haal die woorde aan van een van die NWU se senior bestuurslede, toe hy genader is om saam te beplan en deel te neem aan die PU150-fees: “Dis nie nou die tyd om fees te vier nie, maar vir berou en belydenis oor die PUK se rol in die verlede”.

Eloff sê dit wys nie net ’n skokkende gebrek aan kennis nie, maar is ook totaal blind vir die goeie dinge wat die PUK as een van die voorlopers van die NWU vermag het. “Terloops, ek verneem dat die opdrag onlangs van bo gekom het dat alle oud-Puk klerasie en kledingstukke versnipper en in kussingslope gestop moes word!”

Volgens Eloff moet daar aanvaar word dat die “stem van Potchefstroom” al minder op Potchefstroom gehoor gaan word, maar ook dat die PUK se stem en die dade van oud-Pukke nog lank in ons land gehoor en gesien gaan word.

Hy sê as mens realisties is, het die PUK sy grootste nasionale rol in die laaste helfte van die vorige eeu gespeel. “Die reformatoriese stem van Potchefstroom is gehoor en gerespekteer, selfs al was dit krities teenoor apartheid. In die volgende dertig jaar sal oud-Pukke steeds hulle rol in Suid-Afrika speel. Sommige sal in die partypolitiek, ander in die regspraak, ander in die sportwêreld, sommige in die ekonomie en nog ander in die Afrikaanse kultuurlewe uitblink. En dit sal steeds die nalatenskap van die PUK wees.”

“Maar daar sal ook ’n jonger geslag NWU-Pukke en NWUers wees wat nuwe uitdagings op hulle eie maniere moet aanpak. Hulle sal ’n nuwe tradisie en nalatenskap skep, vir ’n nuwe tyd, maar met dieselfde kwaliteit onderrig, leer en navorsing wat hulle by die NWU se Potchefstroomkampus ontvang en ervaar het. En dalk, net dalk, sal die maghebbers van die NWU ook eendag hulle oë vir die verlede en die geskiedenis oopmaak.”

Oud-president FW de Klerk se groeteboodskap as PUK-kanselier wat namens hom voorgelees is, het gesê die Potchefstroomkampus by die NWU is die laaste kampus in die wêreld waar dit moontlik is om ’n eerste graad in Afrikaans te voltooi.

De Klerk sê hy wil by die bestuur van die NWU pleit dat dit een saak is wat nie moet verander nie.

“Daar is 35 ander kampusse in Suid-Afrika waar Engels die hoof-, en soms die enigste taal van onderrig is. Dit is moontlik om Afrikaans te behou as mens artikel 29(2) van die Grondwet reg lees en interpreteer. En die raad en bestuur het die reg en bevoegdheid om dit te behou – sonder uitsluiting van enige iemand op grond van sake wat ons grondwet as diskriminasie beskou.”

De Klerk sê daar is ’n historiese verantwoordelikheid om hierdie unieke kenmerk van die PUK en die Potchefstroomkampus te behou.

Nog ’n oud-kanselier, Carools Reinecke, het in sy groeteboodskap gesê die PUK was nie maar net ’n insident of ’n gebeurtenis in die verlede nie. “By die PUK is daar ’n geskiedenis van wonderdade. Die PUK is nou nie meer nie. As óns ook nie meer daar is nie, sal die PUK steeds in die geskiedenisboeke onthou word. Natuurlik voel ons nostalgies oor die PUK, maar ek wil amper sê die PUK het sy roeping vervul en voltooi. Dit beteken nie dat ons die PUK moet of mag vergeet nie.”

Buro: MvH
  • 0
Top