Rasseherrie oor akademiese artikel by US

  • 0

’n Rasseherrie het losgebars oor ’n navorsingstudie by die Universiteit Stellenbosch wat die denkvermoë van  bruin vroue bespreek.

Die Universiteit Stellenbosch sê hy is bekommerd oor die publiek se reaksie op die navorsingsartikel. Volgens die artikel wat in ’n vaktydskrif gepubliseer is, het bruin vroue ’n hoër risiko vir ’n lae kognitiewe werking weens gebrekkige onderrig en ’n ongesonde lewenstyl.

Die navorsing het skerp onder kritiek deurgeloop en is as rassisties en aanstootlik bestempel. Die adjunk-visekanselier van navorsing aan die US, Eugene Cloete, sê die instelling erken die belangrikheid van debatvoering op navorsing. Hy het egter beklemtoon dat die universiteit gekant is teen alle vorme van rassisme.

’n Aanlyn versoekskrif waarin geëis word dat die artikel onttrek word weens die “rassistiese ideologiese onderstutting, gebrekkige metodologie en die voortsetting van skadelike stereotipering van bruin vroue” het Donderdag binne enkele ure nadat dit op die internet geplaas is, reeds meer as 2 000 ondertekenaars gehad. Met die publikasie van hierdie artikel was daar reeds meer as 5 500 ondertekenaars: https://awethu.amandla.mobi/petitions/letter-to-the-editorial-board-of-aging-neuroshychology-and-cognition-1?

Die petisie is deur Barbara Boswell van die Universiteit Kaapstad geskep en aanlyn geplaas.

Volgens ’n verklaring wat deur die universiteit uitgereik is, praat die universiteit nie die gevolgtrekkings wat in die artikel gemaak word goed nie en beoordeel ook nie die menings van die navorsers as deelnemers aan hierdie akademiese debat nie.

Die artikel “Age- and education-related effects on cognitive functioning in colored South African women” het gedurende Paasnaweek  in die vaktydskrif Aging, Neuropsychology and Cognition verskyn. (https://www.researchgate.net/publication/332074273_Age-_and_education-related_effects_on_cognitive_functioning_in_Colored_South_African_women)

Cloete sê die US is verbind tot akademiese vryheid sowel as ope en kritiese wetenskaplike debat, waarvan ewekniebeoordeelde navorsing die hoeksteen vorm.

Jonathan Jansen van die US het die artikel as rassisties beskryf omdat dit ’n verwantskap veronderstel tussen ras of etnisiteit en spesifieke kenmerke gedrag of kwale.

Die reaksie op sosiale media het gewissel tussen diegene wat saamstem die artikel is rassisties tot diegene wat meen dit was slegs die resultaat van navorsing onder spesifieke omstandighede.

Pieter Steyn het op Netwerk24 se kommentaar-afdeling gesê empiriese navorsing se resultate is nie daar om populêre of onnodige sensitiwiteit te tevrede te stel nie. “As dit volgens aanvaarde prosedures, dataversameling, analise met insig, ens gedoen is dan staan die bevindinge, ongeag. Hierdie is nie per se ’n rasgedrewe navorsingsprojek nie, die resultate is eerder ’n ‘wake-up call’ vir onder andere Jansen, wat so maklik veroordeel. Wat doen julle om die situasie te verbeter en self in te klim en oplossings te vind?”

Van die ander kommentators meen die studie is gebalanseerd, self-krities, en is goedgekeur deur die Etiese Komitee vir Menslike Navorsing van die Universiteit Stellenbosch (SU-HSD-004704).

“Die reaksie op die studie is emosioneel, selfsugtig en onderneem nie ’n rustige wetenskaplike oorweging van die metodiek of analise nie. Daar is niks rassisties aan die studie nie, netsoveel so as wat ’n studie van skisofrenie onder Xhosas rassisties is. Die ongebalanseerde pseudo-wetenskaplike uitbarsting van die president van die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika is kommerwekkend. Hou aan baklei vir vryheid van spraak, vryheid van navorsing en akademiese vryheid. Dis die basis van ’n beskawing,” was Ben Bovril se kommentaar op Netwerk24.

Boswill se versoekskrif waarin sy beswaar maak teen die artikel stel dit egter dat die artikel se samevatting aanvoer dat dit die gevolgtrekking skep dat dit op alle bruin vroue in Suid-Afrika van toepassing is, terwyl die skrywers erken dat hulle ’n klein groep van slegs een gebied betrek het en dit waarskynlik nie verteenwoordigend van die groter bevolking is nie.

Buro: NB
  • 0
Top