Rassisme is nie Suid-Afrika se grootste probleem nie, volgens meningspeiling

  • 0

Ondanks die politieke retoriek van sommige politici en aktiviste is rassisme nie Suid-Afrika se grootste probleem nie. Die meeste Suid-Afrikaners respekteer mekaar en wil graag saamwerk om ʼn beter toekoms vir almal te skep. Dit blyk uit ’n onlangse demografiese meningspeiling wat in opdrag van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) gedoen is.

Die IRV het dié week met ʼn uitgebreide veldtog begin om die rassepolitiek wat Suid-Afrikaners verdeel te beveg. Die webwerf Racism is NOT the problem nooi almal uit om deel te word van die veldtog.

Die veldtog steun hoofsaaklik op die IRV se navorsingsresultate dat meer as 95% van Suid-Afrikaners nie rassisme identifiseer as die land se grootste probleem nie; 80% Suid-Afrikaners sê hulle het die afgelope vyf jaar nie rassisme persoonlik ervaar nie; en die meeste Suid-Afrikaners meen politici gebruik rassisme en kolonialisme as verskoning vir hulle eie mislukkings.

Volgens die IRV se resultate is 80% van die land se mense ook van mening dat meriete die deurslag moet gee wanneer iemand in ’n pos aangestel word en nie ras nie.

Die IRV argumenteer dat dit daarom sin maak om rasgebaseerde beleidstandpunte te skrap. Hulle glo rasgebaseerde wette is deel van die probleem en nie deel van die oplossing nie. Dit veroorsaak dat arm Suid-Afrikaners uitgebuit word deur polities verbind miljardêrs wat die “vrugte van bevryding” geniet ten koste van die miljoene armes. Hierdie rasgebaseerde beleid beteken volgens die IRV ook dat die meeste arm wit Suid-Afrikaners dink hulle persoonlike ontbering is die prys wat hulle moet betaal vir die sondes van vorige geslagte.

Die IRV se Racism is NOT the problem-veldtog sluit onder meer advertensieborde langs hoofweë in asook ʼn digitale veldtog op sosiale media. Hulle beoog om oor die volgende vyf weke bewusmaking daaroor by Suid-Afrikaners te kweek dat rassisme nie die land se grootste probleem is nie.

Die veldtog het drie komponente:

Die eerste is om standpunt in te neem teen rasgebaseerde beleid, rassevooroordeel en rasse-opsweping. Dit sluit onder andere ʼn veldtog in teen die nasionalisering van plase, pensioenfondse en ander bates sonder vergoeding.

Die tweede komponent is om individue en organisasies wat dieselfde doelwitte nastreef, onder een sambreel in ʼn verenigde front saam te snoer.

Die derde komponent vra dat enige firma of organisasie wat op grond van ras teen mense diskrimineer aan die IRV rapporteer word sodat hulle dit kan opvolg. Hulle wil graag help om sulke instansies te laat verstaan waarom dit beter is enige vorm van rassediskriminasie af te skaf en liewer eenheid na te streef. In ernstige gevalle waar daar rassisme teenwoordig is, onderneem die IRV om dit verder te neem namens diegene teen wie daar gediskrimineer word.

In die IRV-peiling is mense ook gevra of “al hierdie praatjies van rassisme en kolonialisme” net politici is wat verskonings probeer soek vir hul mislukkings. Die meeste mense het ja gesê.

In ʼn artikel wat dié naweek in Rapport verskyn het, brei Gabriel Crouse van die IRV daarop uit. Hy sê die meeste mense dink nie net dat opportuniste lieg oor die land se “rassisme-probleem” nie, maar die meerderheid dink ook dat hierdie land in die verkeerde rigting op pad is. In die artikel, wat ook op die IRV se webwerf gedeel word, sê hy die veldtog is ʼn poging om die wanopvattings oor rassisme te stop terwyl dit nog moontlik is.

Die internasionale navorsingsgroep Ipsos het in ’n reeks internasionale peilings bevind dat ’n buitengewoon hoë persentasie Suid-Afrikaners al jare lank dink dat hierdie land op die verkeerde pad is, sê Crouse.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top