Referendumparty deur Veelpartyhandves die rug toegekeer oor Wes-Kaapse onafhanklikheid

  • 0

Die Referendumparty (RP), wat hulle beywer vir die Wes-Kaap se afstigting van die res van die land, is vies omdat al 11 politieke partye van die Veelpartyhandves hulle die rug toegekeer het toe hulle deel van die Veelpartyhandves wou word.

Die RP is veral vies vir die DA en ActionSA se weiering om hulle deel te maak van die Veelpartyhandves. Die RP het verlede week ’n formele brief van die Veelpartyhandves ontvang wat sy aansoek om aan te sluit, verwerp. Die RP sê hulle is teleurgesteld, maar nie verbaas nie.

Phil Craig, leier van die RP, sê die Veelpartyhandves se besluit is “skrikwekkend naïef”, maar ondanks hierdie besluit sal hulle steeds saam met die Veelpartyhandves stem, al word hulle nie formeel toegelaat nie.

ActionSA sê in ’n verklaring hulle het die RP se aansoek summier verwerp omdat hulle nie bereid is om met die RP geassosieer te wees nie. “Die Veelpartyhandves weet dat die enigste manier om Suid-Afrika reg te maak, is om die ANC uit die nasionale regering te verwyder deur Suid-Afrikaners te verenig, nie om hulle te verdeel nie.”

ActionSA sê hulle sal eerder die Veelpartyhandves verlaat as om met die Kaapse onafhanklikheidsbeweging geassosieer te word. “Ons is bly dat ons nie alleen in hierdie posisie gestaan ​​het nie, en omdat die Handves deur konsensus funksioneer, is die aansoek van die Referendumparty verwerp,” sê ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont.

Volgens ActionSA is die idee dat die Wes-Kaap van die RSA afstig, grondwetlik aanstootlik, uitsluitend en gebaseer op die absurde idee dat die Wes-Kaap ekonomies, histories of sosiaal van die res van Suid-Afrika verskil. “Gegewe die ryk geskiedenis van Suid-Afrika se ontwikkeling as ’n nasie, is enige aanspraak op Kaapse onafhanklikheid aanstootlik.”

Craig sê dit is eenvoudig absurd dat ActionSA die strewe na Kaapse onafhanklikheid as “grondwetlik aanstootlik” beskryf.

“Die Grondwet en die internasionale handveste wat Suid-Afrika onderteken het, onderskryf selfbeskikking uitdruklik, waarvan afskeiding een wyd erkende vorm is. Artikel 127(2)(f) laat provinsiale premiers toe om referendums uit te roep, en artikel 231(2) verseker dat die internasionale handveste wat deur Suid-Afrika onderteken is en wat selfbeskikking waarborg, wet in die republiek is.”

Craig sê die ironie is dat baie van die partye wat deel van die Veelpartyhandves is, die devolusie van mag ondersteun. “Blykbaar wil hulle dit weg van die ANC af na hul eie amptenare afwentel, maar nie heeltemal so ver af as na die mense self nie.”

Beaumont sê die idee van Kaapse onafhanklikheid word gemotiveer deur ’n misplaaste siening van Wes-Kaapse uitsonderlikheid en ’n afkeer van die ANC eerder as deur die meriete van ’n aanspraak op onafhanklikheid onder die volkereg. Die oplossing vir hierdie probleem is volgens ActionSA nie om die land verder te verdeel nie, maar om te verenig in die verwydering van die regerende party wat Suid-Afrikaners ongetwyfeld in al nege provinsies in die steek gelaat  het.

Die RP betwis ook bewerings wat volgens berigte deur DA-voorsitter Ivan Meyer in Netwerk24 gemaak is dat die DA nie ’n referendum oor Kaapse onafhanklikheid kan uitroep nie en dat die VF Plus kiesers mislei deur te suggereer dat hulle dit wel kan doen.

Die party sê op hulle webwerf dat die Wes-Kaap se premier, Alan Winde, die wil van die Wes-Kapenaars tot dusver kon ignoreer omdat sy party tans ’n volstrekte meerderheid in die Wes-Kaap geniet, maar daardie meerderheid is baie klein en dit word al hoe kleiner.

Die RP maak daarop aanspraak dat ongeveer 650 000 Wes-Kaapse kiesers ’n referendum oor Kaapse onafhanklikheid steun en ook in 2021 DA gestem het.

“As 100 000 van hulle in 2024 vir die Referendumparty stem, dan het die DA geen realistiese keuse anders as om ’n regering te vorm met ’n party wat Kaapse onafhanklikheid ondersteun nie. Die DA se primêre politieke bondgenoot in munisipale regerings in die Wes-Kaap is tans die Vryheidsfront Plus.”

Die RP sê hulle het reeds met die VF Plus ooreengekom om saam te staan ​​oor hierdie kwessie. Die VF Plus is egter deel van die Veelpartyhandves wat die RP se aansoek om by hulle aan te sluit verwerp het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top