Regering gekap oor "irrasionele" maatreëls

  • 0

Politieke opposisiepartye en nieregeringsorganisasies het skepties reageer op president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die regering die inperkingsperiode as gevolg van COVID-19 tot minstens 15 Februarie 2021 verleng.

Van die maatreëls, soos die voortgesette sluiting van strande in brandpuntgebiede en die landwye verbod op die verkoop van alkohol, word as irrasioneel bestempel. Daar bestaan ook ernstige bedenkinge oor die regering se vermoë om die verspreiding van COVID-19-entstowwe te bestuur.

Die landbou-organisasie Agri SA het sy kommer uitgespreek dat die voortgesette verbod op die verkoop van alkohol die swartmark sal versterk. Ramaphosa het Maandag die hersiene Vlak 3-inperking wat einde Desember heringestel is, verleng tot 15 Februarie 2021. Agri SA se bestuurshoof, Christo van der Rheede, sê in ’n verklaring die algehele alkoholverbod het ’n uiters negatiewe impak op die wynbedryf en kan dié bedryf op sy knieë dwing. Hy sê die bedryf lewer ’n aansienlike bydrae tot die ekonomie en daarom moet daar eerder strategieë om die bedryf aan die gang te hou en werksgeleenthede te beskerm, in werking gestel word. Hy het ’n dringende beroep op die President gedoen om na die sektor se voorstelle te luister.

Hy wil weet waarom daar nie ten minste aanlyn wynverkope toegelaat word nie en hoekom wynplase nie wynproeë mag aanbied nie. Hy sê die verantwoordelike gebruik van wyn en alkohol word deur die drankbedryf erken en hulle word deur die wet verplig om dit te doen.

Die leier van die Vryheidsfront Plus (VF+), Pieter Groenewald, het in sy reaksie gesê dit is irrasioneel dat strande steeds gesluit bly terwyl die polisie soveel tyd, energie en geld bestee om enkelinge op strande aan te keer en te vervolg.

“Dit terwyl daar vele gebiede in die land is waar gesondheidsprotokolle hoegenaamd nie nagekom word nie en inperkingsmaatreëls verontagsaam word. Die polisie se energie kan veel eerder aangewend word om gewone misdaad te bestry.”

Groenewald sê in ’n verklaring dit is eweneens irrasioneel om die alkoholverbod te verleng. “Die verbod slaag nie in sy doel nie. Dit skep bloot onwettige handel, verminder staatsinkomste en ontneem baie mense in hierdie industrie van ’n lewensbestaan met poste wat tot niet gaan.” Hy sê daar kan hoogstens streng beperkings op die verkoop van alkohol wees, maar ’n totale verbod doen meer skade as goed.

AfriForum en die DA het veral skerp kritiek gelewer op die manier waarop die regering die aankoop en verspreiding van COVID-19-entstowwe hanteer.

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê die regering bly in gebreke om die een ding te doen wat beide lewens en die ekonomie kan red, naamlik om genoegsame entstof doeltreffend te bekom.

Steenhuisen sê in ’n verklaring sy party verwelkom die 20 miljoen dosisse entstof wat glo reeds bekom is, maar sê die besonderhede is baie vaag.

AfriForum sê in ’n verklaring die regering het nie ’n benul hoe om die COVID-19-krisis te hanteer nie. Hulle sê om die virus te beveg moet mediese oplossings dringend gevind word eerder as om gepoogde politieke oplossings op die samelewing af te dwing.

“AfriForum en Solidariteit se saak teen die regering oor die vooropgestelde monopolie op die aankoop en verspreiding van COVID-19-entstowwe is nou van kardinale belang. Dié organisasies het reeds hul regspan opdrag gegee om ’n saak hieroor voor te berei sodat wanbestuur en korrupsie nie veroorsaak dat mense wat die entstof wil ontvang, verhoed word om dit te kry nie,” lui hulle verklaring.

Volgens Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, is dit nodig om op ’n verantwoordelike manier op die pandemie te reageer. Hy sê die regering se misbruik van die virus om burgers se mees basiese vryhede te beperk, is nie regverdigbaar nie. “Die President maak dit duidelik dat die regering geen benul het hoe om op die virus te reageer nie. Nou word arbitrêre regulasies op die samelewing afgedwing en oortreders hiervan in hegtenis geneem, terwyl die geld wat vir die bestryding van die virus geoormerk is, in korrupte bedrywighede gesteel word. Dit alles, terwyl daar geen bewyse is dat hierdie arbitrêre regulasies die verspreiding van die virus daadwerklik beperk nie. Daar is wel bewyse dat die ekonomiese inperking tot reusewerksverliese en hongersnood lei.”

Van die arbitrêre regulasies waarna Roets verwys, is volgens hom “blatante rassediskriminasie” teen klein- en mediumgrootte-sakeondernemings, die regulering van kleredrag en gekookte kos wat vroeër van toepassing was, die feit dat mense gedwing was om kwarantyngeriewe te gebruik wat nie eens aan basiese standaarde voldoen het nie, asook die sluiting van strande wat tot oorvol winkelsentrums lei. Hy sê boonop het korrupsie ook tydens die pandemie hoogty gevier en ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat ongeveer R10,5 miljard wat vir die verligting van COVID-19 gebruik moes word, wanbestee is.

Groenewald van die VF+ sê wat die entstof aanbetref, is dit onaanvaarbaar dat gevangenes volgens die President die middel gaan ontvang voor die gewone publiek wat vir die land se ekonomiese voortbestaan moet sorg.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top