Regering gekap oor "toesmeerdery" van Russiese skip se besoek

  • 0

Die sluier van geheimhouding wat die regering wil trek oor die verslag rakende beweerde wapensmokkelary uit Suid-Afrika na Rusland, is ’n onbegryplike besluit wat beide vertroue in die regering en die ekonomie gaan benadeel.

So sê Darren Olivier van African Defence Review, ’n aanlyn publikasie wat ’n feitekontrolediens lewer vir joernaliste wat duidelikheid soek oor verdedigings- en konflikkwessies en -gebeure.

Olivier het op Twitter kommentaar gelewer op berigte die naweek dat die geregtelike ondersoek na die Russiese vragskip Lady R se geheime besoek aan Simonstad se vlootbasis as ’n veiligheidskwessie beskou word en die paneel se verslag daaroor nie openbaar gemaak sal word nie.

Volgens Oliver is dit nie so ’n ernstige nasionale veiligheidskwessie wat die geheimhouding regverdig indien die oorlogskip se besoek aan Simonstad bo verdenking was nie.

Volgens die regering was die skip se enigste doel om handwapenammunisie vir die Spesiale Magte af te lewer.

Ramaphosa het verlede maand ’n onafhanklike paneel aangestel om die Russiese vaartuig se besoek verlede jaar in Simonstad te ondersoek.

Die paneel bestaan ​​uit afgetrede regter Phineas Mojapelo, saam met advokaat Leah Gcabashe en Enver Surty as ander lede van die paneel.

Oliver het op Twitter gesê indien dit blyk dat wapens of ander items wel op die Lady R gelaai is vir verskeping na Rusland, dan is dit iets wat in die openbare belang bekend gemaak moet word. Veral omdat dit volgens die Nasionale Wet op Konvensionele Wapenbeheer onwettig sou wees, en die verantwoordelikes gestraf moet word.

Hy sê dit is nie asof die land nie reeds ondervinding het hoe om kommissies van ondersoek met sensitiewe inligting te bestuur nie. Dit is met die Seriti-kommissie gedoen. Alhoewel dit gebrekkig was in sy benadering tot bevindings, het dit nietemin baie ernstiger nasionale veiligheidsgeheime en geklassifiseerde dokumente hanteer.

“Die voorbeeld van die Seriti-kommissie se hantering van geklassifiseerde en sensitiewe dokumente en inligting maak die besluit om hierdie ondersoek heeltemal geheim te hou des te meer onregverdigbaar,” sê Olivier.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het in ’n verklaring gesê die DA sal Ramaphosa se plan beveg om die verslag oor beweerde wapensmokkelary na Rusland vir die publiek weg te steek.

Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, het reeds toe die ondersoek bekend gemaak is, gewaarsku dat dit nie daaroor moet gaan om “gewone amptenare sondebokke te maak wat politici toelaat om skotvry daarvan af te kom” nie. Hy het die ondersoek se paneel aangemoedig om spesiale aandag te skenk aan die politieke goedkeuring wat nodig is vir wapentransaksies van hierdie aard.

Steenhuisen sê om die waarheid oor die ANC-regering se beweerde betrokkenheid by die smokkel van wapens na Rusland weg te steek, sal tot verdere ekonomiese swaarkry lei. “Beleggers sal Suid-Afrika vermy, die rand sal verder daal soos inflasie spiraal, en 100 000 werksgeleenthede kan verlore gaan as ons uit die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA) geskop word.”

Om hierdie verslag vir die publiek te verberg, sal die mense van Suid-Afrika en die res van die wêreld volgens Steenhuisen van die geleentheid beroof om die volle feite van hierdie saak onder oë te sien.

“Om die bevindinge van die verslag weg te steek, sal Suid-Afrika se internasionale aansien verder skaad, aangesien dit wettige vrese vir ’n toesmeerdery sal skep. Die feit dat Ramaphosa skielik sy voorneme aangekondig het om die verslag vir die publiek weg te steek, dui daarop dat hy reeds bewus geword het van inkriminerende inligting wat hy vir die publiek wil wegsteek om sy ANC-regering te beskerm,” het Steenhuisen gesê.

“Die enigste logiese rede vir sy skielike wending tot geheimhouding is dat Ramaphosa besef het dat die verslag sy regering se rol in die bewapening van oorlogsmisdadigers sal bevestig. Om die waarheid weg te steek om die ANC te beskerm ten koste, weereens, van die mense van Suid-Afrika, sou neerkom op ’n skending van sy ampseed,” aldus Steenhuisen.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top