Suid-Afrika se minister van Internasionale Betrekkinge, Naledi Pandor, het Maandag beloof dat die regering alles in sy vermoë sal doen om die vlaag xenofobie wat die afgelope weke oor die land spoel, hok te slaan.
Die minister het in Pretoria met ambassadeurs en hoëkommissarisse van Afrikalande vergader oor die xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika. Dele van Gauteng het onder aanvalle deurgeloop toe besighede, hoofsaaklik van buitelanders, geplunder en aan die brand gesteek is. Dié aanvalle het gelei tot vergeldingsaanvalle op Suid-Afrikaanse ondernemings in die buiteland.
Foto: Kyle Glenn (Unsplash)
Pandor sê die regering sal die nodige stappe doen om die vlaag aanvalle op buitelanders hok te slaan. Sy sê die regering sal ook maatreëls in plek stel wat soortgelyke aanvalle in die toekoms sal verhoed. Intussen het president Cyril Ramaphosa die herlewing van geweld veroordeel wat Sondag die lewens van twee mense in Johannesburg geëis het. Die slagoffers is in twee afsonderlike voorvalle geskiet en met ’n mes gesteek.
President Cyril Ramaphosa has condemned in the strongest terms a resurgence of public violence that claimed two lives in Johannesburg yesterday, Sunday 08 September 2019. https://t.co/OhbJ6REtRm
— PresidencyZA (@PresidencyZA) September 9, 2019
Ramaphosa het ’n beroep gedoen op die wetstoepassingsagentskappe om ’n streng oog te hou op diegene wat die wet in eie hande neem en ferm op te tree teen sulke persone. Hy het die polisie geprys vir die inhegtenisneming die naweek van minstens 16 mense om wet en orde te herstel.
Hy sê die regering sal nie toelaat dat wetteloosheid en geweld die veiligheid en besittings van miljoene wetsgehoorsame Suid-Afrikaners en ook wetsgehoorsame buitelanders bedreig nie.
“Wetteloosheid is ’n misdaad teen ons vooruitgang en stabiliteit as ’n nasie, en diegene wat die openbare orde wil versteur, moet verwag om die gevolge te dra en die volle implikasies wat dit inhou,” het die president gewaarsku.
Baie mense het Ramaphosa op Twitter daarvan beskuldig dat hy baie praat maar te min doen. “Om net vriendelik te wees sonder om op te tree teen onwettige immigrante sal niks help nie. Ons wil aksie sien teen onwettige immigrante. Deporteer diegene wat onwettig in die land is en gee die wetstoepassings-organisasies opdrag om dit binne ’n sekere tyd te doen,” is van die eise wat aan die president en sy regering gestel is deur sommige van diegene wat aan die gesprek op sosiale media deelgeneem het.
Being Mr nice guy and negotiating sution wont take us anywhere. We want action against Immigration full stop.
This is not boardroom politicking. Deport those undocumented. Instruct your Law Enforcement Agencies to act with Time frame.
— Litha Makahla (@LithaMak) September 9, 2019
Pandor het tydens haar gesprek met die hoofde van missies van Afrikalande in Suid-Afrika die regering daartoe verbind om die spanning tussen Suid-Afrikaners en buitelanders te ontlont.
Die xenofobiese aanvalle van die afgelope tyd het gelei tot groot diplomatieke spanning tussen Suid-Afrika en verskeie Afrikalande. Die Suid-Afrikaanse missies in Nigerië is onder andere tydelik gesluit as gevolg daarvan.
Nigerië se president, Muhammadu Buhari, het ’n spesiale gesant na Suid-Afrika gestuur om met Ramaphosa te kom praat.
Netwerk24 berig dat Pandor ná haar ontmoeting met die missiehoofde aan joernaliste gesê het sy gaan ’n veldtog begin om Suid-Afrikaanse leiers op alle vlakke van regering sover te kry om hulle daarvan te weerhou om neerhalende aanmerkings oor migrante uit Afrika te maak.
In haar gesprek met die diplomate het Pandor die nalatenskap van apartheid as een van die redes aangevoer vir die ekonomiese ongelykhede in die land wat bydra tot die huidige gebeure waar mense geduld met mekaar verloor in die wedywering om ekonomies te oorleef.
Sy sê dit is alles deel van ’n toksiese mengsel van sosio-ekonomiese uitdagings en mag nie misgekyk word as daar gepoog word om langtermynoplossings te vind vir die huidige krisis nie.
Buro: MvH