Politieke partye en burgerregte-organisasies aan weerskante van die politieke spektrum het Dinsdag tydens Vrouedag uitgevaar teen die regering se skynbare onvermoë om Suid-Afrika se vroue teen geweld te beskerm.
AfriForum sê in ’n verklaring Vrouedag herinner opnuut aan die regering se lippediens in die stryd teen geweld teen vroue. Die DA se nasionale woordvoerder en parlementslid, Siviwe Gwarube, het op haar beurt teen president Cyril Ramaphosa uitgevaar. Gwarube sê in ’n verklaring elke vrou wat vermoor en verkrag word, is op Ramaphosa se rekening.
In die Oos-Kaap het die EFF-leier, Julius Malema, op Matatiele ook die lot van vroue bekla wat gebuk gaan onder geweld en die skuld nes die res op die ANC se skouers gepak.
Malema sê die vroue van Suid-Afrika leef in ’n moeilike situasie, want hulle weet nie waarheen om te hardloop nie. “Wanneer hulle kerk toe gaan, word hulle daar verkrag en by die huis word hulle verkrag deur die mense saam met wie hulle woon.”
♦️ICYMI♦️
The CIC @Julius_S_Malema addressing the people of Matatiele.
The women of South Africa live in a difficult situation, they do not know where to run to, when they go to church, they get raped there, at home, they’re raped by the people they live with.#EFFWomensDay pic.twitter.com/eBxSx1IHov
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) August 9, 2022
Ná die onlangse moord op Nosicelo Mtebeni het van die inwoners in Matatiele gevra dat die doodvonnis teruggebring word en gesê dit is die enigste oplossing vir die plaag van geweld teen en moord op vroue.
In hulle verklaring lys AfriForum ’n hele reeks suksesse wat die organisasie se privaatvervolgingseenheid behaal het in die stryd teen geweld op vroue. Hulle sê dit dui op die staat se lippediens betreffende vroue ten opsigte van sake met betrekking tot geweld teen vroue.
AfriForum sê die eenheid is daartoe verbind om vroue te help wat dikwels aan hul eie lot oorgelaat word sonder ondersteuning van ondersoekbeamptes en aanklaers wanneer hulle die strafregstelsel moet navigeer.
Die eenheid is verlede week ingelig dat die stiefpa van twee vroue wat hy na bewering oor ’n lang tydperk verkrag en seksueel aangerand het, in hegtenis geneem is.
Een van die vroue, van Lichtenburg, het die sake in Oktober 2020 geopen, maar het die eenheid genader omdat sy bekommerd was oor die gebrek aan vordering in die ondersoek. Na byna twee jaar is die enigste bewysstuk wat gekort het in die saak, ’n waarskuwingsverklaring van die verdagte. Ná ’n brief aan die speurhoof in Lichtenburg is die verdagte in hegtenis geneem.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê hulle sal die saak fyn dophou om te verseker dat geregtigheid geskied.
Dit is volgens hulle maar een verwikkeling in die talle sake wat die eenheid aangepak het waarby vroue betrokke is. Die organisasie lys verskeie ander sake in hulle verklaring.
Die DA sê in 2022 het Suid-Afrikaanse vroue 'n ander stryd op hul hande as destyds toe hulle teen die paswette betoog het by die Uniegebou.
“Terwyl die res van die wêreld worstel met kwessies soos geslagsverteenwoordiging of gelyke betaling, sit ons vasgevang in ’n siklus van hel en moet smeek dat ons lewens gespaar word,” lui die DA-verklaring.
Die DA het veral hulle mes in vir die minister van polisie, Bheki Cele, maar sê dit is Ramaphosa wat hom aangestel het en daarom is hy ewe skuldig.
Hulle sê selfs die verkragtingsake wat wel by die polisie aangemeld word, word nie opgelos nie as gevolg van die groot agterstand van die DNS-monsters wat by die misdaadtonele ingesamel word se uitslae.
📺 [MUST WATCH]
"For every woman that is raped and killed in this country, it is on you, President Ramaposa!
It is on you because you protect a minister who is clearly out of touch and ill-suited for the job." - @Siviwe_G
Full broadcast: https://t.co/Ne6ln5dlbO#WomensDay pic.twitter.com/4hDlDy5E6a
— Democratic Alliance (@Our_DA) August 9, 2022
“Vir elke vrou wat in hierdie land verkrag en vermoor word, is dit op u, Meneer die President! Dit is op jou omdat jy ’n minister beskerm wat duidelik uit voeling is en nie geskik is vir die pos nie. Dit is op jou, want jy kan die stukkende SAPD regruk deur meer stewels op die grond te sit en misdaadbekampingspogings te befonds. Maar jy doen dit nie. Daarom is jy aandadig,” sê die DA in hulle verklaring.
Die voorsitter van die ANC se Vroueliga in Gauteng, Faith Mazibuko, het gesê die regstelsel laat vroue in die steek wanneer geweldenaars borgtog kry en wanneer skuldiges nie swaar gestraf word nie. Mazibuko het aan die SAUK gesê die regstelsel moet vroue beskerm en dat vermeende verkragters nie borgtog moet kry nie.