Politieke partye verwelkom president Cyril Ramaphosa se aankondiging om die vlak van inperking van vlak 3 na vlak 1 te verlig. Hulle sê egter die regering sal sy sokkies moet optrek om genoeg mense in die land teen COVID-19 te laat inent as hulle hoop om kudde-immuniteit te bewerkstellig.
Beide die DA en die Vryheidsfront Plus het in verklarings gesê die regering doen nie genoeg om die inentingsprogram glad te laat verloop nie.
Die DA sê in hulle verklaring by monde van die party se leier, John Steenhuisen, dat hoewel hy die President se aankondiging verwelkom, dit te laat is vir duisende besigheidseienaars en hulle werkers wat hulle besighede en werk verloor het weens die voortgesette inperkings.
“Sonder die nodige maatreëls om geaffekteerde besighede help, kan die regering se besluit om die hele gasvryheid- en toerismebedryf te sluit op geen manie regverdig word nie. Hierdie besighede is deur die regering gedwing om hulle deure te sluit, met bykans geen toegang tot finansiële verligting nie.”
Steenhuisen sê verder dit is noodsaaklik dat grendeltyd en inperkings nie Suid-Afrika se nuwe beurtkrag word wat na willekeur aan- en afgeskakel kan word soos wat daar tussen die verskillende vlakke van inperking beweeg word nie. Hy sê die land se ekonomie kan dit nie bekostig nie en besighede verdien ’n mate van stabiliteit om vooruit te beplan. Geen besigheid kan met die onsekerheid saamleef wat voortdurende inperkings inhou nie, het hy gewaarsku.
It is imperative that lockdowns don’t become SA’s new load-shedding – switching on and off. Our economy cannot withstand these fluctuations.
We welcome the announcement of level 1, let's now roll out a vaccination programme and rebuild our economy. 🇿🇦https://t.co/qEJrbDfHKP
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) February 28, 2021
Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus sê in sy verklaring gegewe die deurlopende afname in die getal nuwe infeksies vanjaar kon Suid-Afrika reeds ’n maand gelede na vlak 1 beweeg het, aangesien alles moontlik gedoen moet word om die ekonomie op dreef te kry.
Hy sê die VF Plus kan ook nie die nut daarvan insien om steeds enige vlakke van inperking te hê nie, aangesien regulasies soos die dra van maskers daar is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.
Pres. Ramaphosa het aan die begin van die jaar gesê daar word beplan om altesame 40 miljoen mense teen die einde van die jaar in te ent om kudde-immuniteit te bewerkstellig, maar teen die huidige tempo gaan dit jare neem om daarby uit te kom. @GroenewaldPJhttps://t.co/YmnSNNsOO1
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) March 1, 2021
“Intussen maak baie regulasies steeds nie sin nie, soos dat daar slegs ’n honderd mense binnenshuis en 250 buite mag vergader. ’n Lokaal soos die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum kan sowat 5 000 mense akkommodeer. Met die regte sosiale afstand kan daar veel meer as ’n duisend veilig binne gehuisves word.”
Groenewald sê wat inenting betref wil dit voorkom of president Ramaphosa in ’n staat van ontkenning verkeer oor die sukses van die regering se inentingsprogram.
Hy sê hy is gelukkig met die vordering wat daarmee gemaak word, maar die realiteit is dat daar tot op hede slegs 67 000 gesondheidswerkers ingeënt is. “Dit is reeds ’n mislukking.”
Ramaphosa het aan die begin van die jaar gesê daar word beplan om altesame 40 miljoen mense teen die einde van die jaar in te ent om kudde-immuniteit te bewerkstellig, maar teen die huidige tempo gaan dit jare neem om daarby uit te kom, sê Groenewald.
Die VF Plus het reeds gevra waarom private maatskappye soos groot myne nie toegelaat kan word om met die regte voorskrifte hul eie inentingsprogramme te behartig nie.
Groenewald sê baie maatskappye is gretig om dit te doen om weer funksioneel te raak en dit kan die las op die staat tot ’n groot mate verlig. Hy sê dit is onverstaanbaar waarom die regering dit nie wil toelaat nie.
“Die President en die ANC-regering moet die hand neem wat die private sektor na hulle uitsteek. Op sy eie het die regering reeds misluk met die inentingsprogram en Suid-Afrika se ekonomie kan dit nie bekostig om onnodig verdere skade te ly weens hierdie onbevoegdheid nie,” aldus Groenewald.
Verlede maand het daar chaos losgebars toe honderde gesondheidswerkers wat gesukkel het om aanlyn te registreer, by die Steve Biko Akademiese Hospitaal, ʼn inentingsentrum, opgedaag het om ingeënt te word. Dit het veroorsaak dat gesondheidswerkers wat wel geregistreer het, weggewys moes word sonder inentings.