’n Massaprotesaksie word deur die DA beplan teen die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming (EEAA) ondanks ’n ooreenkoms wat die afgelope week tussen die vakbond Solidariteit en die regering daaroor bereik is.
Die ooreenkoms sal as deel van die 2023-diensbillikheidsregulasies in die Staatskoerant gepubliseer word. Die partye het ook ooreengekom dat dit ’n hofbevel gemaak word. Maatskappye sal dus verplig wees om dit te implementeer.
Ingevolge die skikking het die regering ingestem om die regulasies wat ingevolge die Wet uitgereik is te wysig om te erken dat rasgebaseerde regstellende aksie tydelik moet wees, dat daar geen absolute verbod op die indiensneming van mense op grond van ras kan wees nie, en dat vaardighede in ag geneem moet word.
Die uitkoms van die proses is in die vorm van ʼn ooreenkoms wat tussen Solidariteit en die regering vasgemaak is en wat deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en minister TW Nxesi,die minister van arbeid en indiensneming, onderteken is. https://t.co/MTifsq4N7b
— Solidariteit (@solidariteit) June 28, 2023
Verdere punte in die ooreenkoms bepaal daar mag geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep wees nie, en die inherente vereistes van ’n pos kan in ag geneem word vir aanstelling en bevordering.
Die DA sê in ’n verklaring hulle gaan egter voort met hulle betoging. DA-leier John Steenhuisen sê die betoging wil voortbou op die sukses wat Solidariteit behaal het met die skikking wat met die regering bereik is.
Die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering is onderteken deur Flip Buys van Solidariteit en TW Nxesi, die minister van arbeid en indiensneming.
Die spanning tussen Solidariteit en die regering het toegeneem nadat die regering onlangs regulasies gepubliseer het wat volgens Solidariteit en verskeie ander partye en organisasies verreikende gevolge vir minderhede kon inhou. In reaksie daarop het 29 organisasies ’n gesamentlike resolusie onderteken wat die druk op die regering verhoog het. Die ooreenkoms wat nou bereik is, is volgens Solidariteit beslis beïnvloed deur die krag van ’n gemeenskap wat saamstaan.
Die bemiddelingsproses het begin ná ’n klag wat Solidariteit by die Verenigde Nasie se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) teen die regering gelê het oor die rigiede toepassing van regstellende aksie in Suid-Afrika. Solidariteit het aangevoer dat Suid-Afrika Konvensie 111 van die IAO oortree wat onder meer bepaal dat regstellende maatreëls buigbaar moet wees.
“Hierdie ooreenkoms beteken die einde van die gebruik van ras as enigste maatstaf vir indiensneming en bevordering. Dit verwyder ook die swaard van aflegging wat oor die kop van minderhede gehang het, en dit beteken ook dat maatskappye nie meer onder dwang sal wees om aanstellings te moet maak wat nie aan hul spesifieke vaardigheidsbehoeftes voldoen nie,” het Solidariteit in ’n verklaring gesê.
“Dit is die ontknoping van die IAO-dispuut oor buigsaamheid, maar dit is egter nie die einde van rasprogramme in Suid-Afrika nie. Dit is ’n belangrike deurbraak en ’n groot oorwinning op die strategiese slagveld, maar die oorlog is nog nie verby nie. ’n Stryd wat nog voorlê is om Eskom ter wille van almal in Suid-Afrika vry te kry van swart-ekonomiese-bemagtiging-reëls wat ’n rookskerm vir plundering geword het,” sê Solidariteit se bestuurshoof, Flip Buys
Die DA sê in hulle verklaring solank die EEAA-bepalings wat aan die minister arbitrêre magte gee om raskwotas vir private maatskappye te bepaal op die wetboeke bly, bly die risiko steeds daar dat hierdie kwotas afgedwing sal word.
The DA will hold a mass protest on the 26th of July 2023 on the streets of Cape Town, to demand that the ANC's recently introduced race quotas be scrapped. Join us if you value non-racialism and fair access to jobs.
https://t.co/YAMJ0aMf1x— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) June 29, 2023
“Die gevolg sal die uitbreiding van kaderontplooiing in die private sektor wees deur die regering die mag te gee om aanstellings by private maatskappye te dikteer.”
Ramings toon volgens die DA dat as die regering sy woord nie gestand dien nie en die kwotaregulasies afdwing, 600 000 mense hul werk sal verloor omdat hulle die “verkeerde” velkleur het of in die “verkeerde” gebiede woon en werk.
“Daarom gaan die DA voort met ons Hooggeregshof-uitdaging om die wet ongrondwetlik te verklaar en daardeur te skrap en dit heeltemal onmoontlik vir die ANC te maak om raskwotas in te stel,” het Steenhuisen gesê.
Die DA gaan op 26 Julie 2023 in Kaapstad betoog om te eis dat die wet se bepalings wat die minister van indiensneming en arbeid die mag gee om raskwotas vas te stel in sy geheel geskrap word.