Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan nie nét gesondheidsorg in Suid-Afrika benadeel nie, maar gaan selfs armoede in die land verder laat uitkring.
So sê die vakbond Solidariteit na aanleiding van die regering se voorneme om voort te gaan met die hoogs omstrede wetsontwerp ten spyte van sterk teenkanting vanuit verskeie oorde daarteen.
Die NGV is ’n gesondheidsfinansieringstelsel wat ontwerp is om fondse saam te voeg om toegang te bied tot gehalte, bekostigbare, persoonlike gesondheidsdienste vir alle Suid-Afrikaners gebaseer op hul gesondheidsbehoeftes, ongeag hul sosio-ekonomiese status.
Ramaphosa het die wetsontwerp net voor die Mei-verkiesing onderteken, waarna die ANC sy parlementêre meerderheid verloor het.
Ramaphosa het Dinsdagaand tydens ’n toespraak by die afsluiting van ’n ANC-beleidsvergadering gesê die regering sal voortgaan met die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering.
Die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, het vroeër ook bevestig dat die oorgangsmeganismes wat in die wetsontwerp uiteengesit word, onmiddellik in werking gestel sal word. Dit sluit in die opstel van advieskomitees en die wysiging van ander gesondheidsverwante wette om by die NGV te pas.
Die wetgewing sal die rol van private versekering geleidelik beperk, ’n openbare fonds skep om gratis toegang aan pasiënte te bied en fooie en pryse vas te stel wat private gesondheidsorgverskaffers vir NGV-befondsde dienste kan hef.
Motsoaledi het gekap na groepe wie se kosteberekenings hemelhoë bedrae vir die NGV voorspel en sê dit gaan nié regtig soveel kos nie. Hy noem dit “wiskundige rampokkery” en sê hierdie getalle word téén armes in die bevolking gebruik.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het drukgroepe júís berekenings oor NGV-kostes gaan doen omdat die regering se kosteberekenings daaroor totaal ontbreek.
MEDIAVERKLARING
Solidariteit is vol vertroue dat ons die NGV suksesvol sal beveg. Dit sal nog meer doeltreffend wees as ander rolspelers soos dokters, mediese fondse en beslis ook politieke partye tot hierdie hofstryd toetree @maroelamedia @eNuus @zarsg https://t.co/7JKGBD5rYG— Solidariteit (@solidariteit) August 7, 2024
Solidariteit het Woensdag in ’n verklaring gesê hulle is vol vertroue dat hulle die NGV suksesvol sal beveg. Die vakbond sê dit sal nog meer doeltreffend wees as ander rolspelers soos dokters, mediese fondse en ook politieke partye tot hierdie hofstryd toetree.
“Ons sal graag ander organisasies en politieke partye se hofstukke wil sien. Solidariteit is vol vertroue dat ons die NGV suksesvol sal beveg,” sê hy.
Voordat die DA deel geword het van die regering van nasionale eenheid was hulle ook baie uitgesproke oor die wetsontwerp. Die DA-leier, John Steenhuisen, het kort voor die verkiesing gesê deur die NGV by wet te onderteken, sal Ramaphosa die doodsbevel vir gesondheidsorg onderteken. Hy het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om te verenig om hoër belasting en die “NGV-ramp wat tot grootse korrupsie deur ANC-kaders sal lei”, te verwerp.
Steenhuisen het destyds in ’n verklaring gesê dit is geen oordrywing om te sê dat Ramaphosa se aankondiging oor die ondertekening van die wet wydverspreide paniek onder die mense van Suid-Afrika ontlok het nie.
Sedert die DA deel geword het van die RNE het Steenhuisen nog nie weer ’n verklaring daaroor as DA-leier uitgereik waarin hy die wet so sterk kritiseer nie.
Volgens Du Buisson van Solidariteit kon nog nie een onafhanklike ontleder by ’n bedrag uitkom wat dit bekostigbaar maak nie. “Ongelukkig vir die minister wys hierdie wiskunde van hom hoe die NGV juis slég vir die armes gaan wees,” sê Du Buisson.
Hy sê ontleders van NGV-kostes verskil oor geskatte bedrae, maar almal kom by dieselfde kommerwekkende gevolgtrekking uit.
“Hoe gaan minimumloonwerkers skielik inkomstebelasting kan bekostig? En die impak strek selfs verder. Die wiskunde wys ook dit sal ’n vernietigende uitwerking op die hele land hê, want waar gaan die regering nagenoeg R1 000 miljard uitkrap om die NGV te maak werk?” vra Du Buisson.
Die SNI se kosteverslag van 2023 het aangedui hoe minstens ’n bykomende R660 miljard nodig sal wees vir die NGV om in werking gestel te word.
“Al hoekom dit nie die duisendmiljard-kerf sal oorskry nie, is omdat daar dan nie meer dokters in die land oor sal wees om te betaal nie. Meer mense móét dit hoor: Die NGV sal nié die armes help nie en dit sal gesondheidsorg vir ons almal vernietig,” sê Du Buisson.
Verder beweer minister Motsoaledi dat Solidariteit se litigasie teen die NGV nié sal kan keer dat die stelsel tóg uiteindelik geïmplementeer word nie.
Solidariteit verskil van Motsoaledi en glo hulle saak teen ’n “ongrondwetlike, onwerkbare en onuitvoerbare stelsel” is inderdaad waterdig.
Volgens Du Buisson is daar ook ander groepe benewens Solidariteit wat met regstappe dreig, alhoewel dit ongelukkig net by dreigemente vashaak.