Suid-Afrika se RNE kan dié week voor sy grootste toets te staan kom as president Cyril Ramaphosa voortgaan om die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, of Bela-wet, soos wat dit algemeen bekend staan, te onderteken.
Die DA, wat die tweede grootste party in die RNE is, het Woensdag by monde van sy leier, John Steenhuisen, laat blyk dat die RNE in gedrang kan kom as Ramaphosa die wetsontwerp onderteken.
Steenhuisen het Woensdag op X gesê hy sal vandag (Donderdag) om 12h30 ’n spesiale toespraak by die Kaapstadse Persklub lewer wat oor die rol van die DA in die RNE en Suid-Afrika se toekoms sal besin.
🗓️ Tomorrow at 12h30, DA Leader John Steenhuisen will deliver a special address at the Cape Town Press Club, reflecting on the role of the DA in the Government of National Unity and SA's future.
Watch it live on the DA's Facebook and YouTube pages: https://t.co/tSxXoSLLT0 pic.twitter.com/HLWPF2MBK5
— Democratic Alliance (@Our_DA) September 11, 2024
“As hy voortgaan [met die Bela-wet], ten spyte van die DA se sterk besware, sal hy beide die letter en die gees van die gesamentlike verklaring van voorneme wat die grondslag van die RNE vorm, oortree,” het Steenhuisen gesê.
Hy sê tydens die onderhandelinge het die DA dit duidelik gemaak dat die Bela-wetsontwerp in sy huidige vorm vir die DA onaanvaarbaar is, want dit het onder meer grondwetlike implikasies vir die reg op moedertaalonderrig. Die DA het Ramaphosa versoek om die wetsontwerp na die parlement terug te stuur om sekere wysigings aan te bring om dit volgens hulle in ooreenstemming met die Grondwet te bring.
Ten spyte hiervan, en in stryd met die bepalings van die verklaring van voorneme, lyk dit volgens Steenhuisen of Ramaphosa vasberade is om eensydig voort te gaan met die ondertekening van die wet.
Ramaphosa se kantoor het Woensdag in ’n verklaring bevestig dat hy die Bela-wet, “wat daarop gemik is om bestuur binne Suid-Afrika se onderwyssektor te versterk”, Vrydag sal onderteken.
President Cyril Ramaphosa will on Friday sign the #BELA Bill into law.
The BELA Bill amends sections of the South African Schools Act of 1996 (SASA) and the Employment of Educators Act, 1998 (EEA) to account for developments in the education landscape. https://t.co/zqf0aUHuNJ pic.twitter.com/MT2fSP136h— South African Government (@GovernmentZA) September 11, 2024
Volgens Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sal die President die wetsontwerp in die openbaar onderteken tydens ’n seremonie wat by die Uniegebou in Pretoria gehou sal word.
Die Bela-wetsontwerp wysig dele van die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 (SASA) en die Wet op Indiensneming van Opvoeders, 1998 (EEA) om rekening te hou met ontwikkelings in die onderwyslandskap sedert die inwerkingtreding van die oorspronklike wetgewing.
Een van die grootste besware teen die wet is dat dit klousules bevat wat skole se beheerliggame van die mag stroop om self ’n skool se taalbeleid te kan bepaal en wat dit vir ouers onmoontlik sal maak om hul kinders tuis te onderrig indien die provinsiale onderwysdepartement nie toestemming daartoe verleen het nie.
Die DA sê hulle sal nie toelaat dat die ANC die magte van skoolbeheerliggame verder erodeer deur die Bela-wet te gebruik nie.
Die DA het op X gesê hulle veg om die beginsels te handhaaf waarop die RNE gestig is om kwaliteitonderwys te waarborg.
The DA will not allow the ANC to further erode the powers of school governing bodies using the BELA Bill. This is why DA Leader John Steenhuisen will meet President Ramaphosa.
The DA is fighting to uphold the principles on which the GNU was formed to guarantee quality education. pic.twitter.com/qll7GiwaVM
— Democratic Alliance (@Our_DA) September 11, 2024
Steenhuisen sê hy het ’n dringende ontmoeting voor Vrydag met Ramaphosa aangevra om die DA se besware ten sterkste te herhaal.
“Ek sal ook die eenvoudige wysigings wat die DA vereis aan hom voorlê en hom versoek om sy magte te gebruik om die wetsontwerp terug te stuur na die parlement.”
Steenhuisen sê as die President hierdie besware bly ignoreer, stel hy die toekoms van die RNE in gevaar en vernietig hy die goeie trou waarop dit gegrond is.
“Die daarstelling van ’n dispuutbeslegtingsmeganisme moet nou ’n prioriteit wees om te verseker dat alle partye beide die letter en die gees van die verklaring van voorneme handhaaf, en dat die ANC verstaan dat hulle nie meer eensydige stappe kan doen oor kwessies wat fundamentele regte raak nie,” het Steenhuisen gesê.
Die DA sê hulle beskou hierdie kwessie in die ernstigste lig en dat hulle die vernietigende implikasies wat dit vir die toekoms van die RNE inhou, aan Ramaphosa sal oordra.