Regering verdedig Kubaanse hulp om waterkrisis te help red

  • 0

Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) hou vol die 24 Kubaanse ingenieurs wat in die land is om die haglike waterinfrastruktuur te red beskik oor die nodige vermoë om dit te doen.

Dit volg te midde van heftige kritiek uit verskeie oorde teen die regering se besluit om Kubaanse ingenieurs teen groot onkoste na Suid-Afrika in te voer. Die ingenieurs is na Suid-Afrika laat kom om die DWS te help om probleme met waterinfrastruktuur op te los en om hulle kennis te deel.

Daar bestaan ook vrae of die Kubaanse ingenieurs aan die nodige wetlike vereistes voldoen om die werk te doen wat, alles ingereken, sowat R65 miljoen gaan kos.

Terwyl talle Suid-Afrikaners wil weet waarom plaaslike ingenieurs nie die werk kan doen nie, hou Sisulu vol dat die Kubaanse ingenieurs oor die nodige vaardighede beskik om die werk te doen en dat daar nie genoeg plaaslike talent is nie.

Die vakbond Solidariteit het die Minister tot vandag (Vrydag 30 April) kans gegee om te antwoord op hulle besware, waarna die inhoud van haar antwoord sal bepaal of Solidariteit ’n aansoek vir ’n interdik teen haar sal beteken.

Intussen is daar al hoe meer berigte van ’n water- of rioolkrisis by etlike munisipaliteite in die land.

Die AfriForum-tak in Klerksdorp sê in ’n verklaring hulle het verlede week ’n dringende skrywe aan die Matlosana plaaslike munisipaliteit gestuur oor die haglike toestand van die rioolwerke. Die feit dat die meeste van die masjiene by die rioolwerke nie werk nie, het tot gevolg dat rou riool direk in die Schoonspruit invloei.

Die tak het watermonsters by die invloei van die rioolwerke in die Schoonspruit geneem en die uitslae dui daarop dat die E coli-telling te hoog is om te meet. Omdat dit ’n strafregtelike oortreding is, het die tak die munisipaliteit tot 5 Mei gegee om drastiese stappe te doen om die rioolwerke weer op peil te kry. Indien daar nie aan die versoek gehoor gegee word nie, sal verdere stappe gedoen moet word.

“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit toelaat dat rou riool die Schoonspruit besoedel. Die munisipaliteit moet tot verantwoording geroep word en begin om hulle pligte na te kom,” sê Frans Roos, voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp.

Die VF Plus sê op hulle beurt in ’n verklaring hulle vind dit onaanvaarbaar dat die Emalahleni plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni/Witbank) klaarblyklik nog geen oplossing gevind het vir die waterkrisis wat die munisipaliteit nou al vir etlike jare sporadies teister nie.

Die huidige waterkrisis wat dié munisipaliteit ervaar, het volgens die VF Plus nie oornag ontstaan nie. “Swak beplanning van die munisipale bestuurder, Sizwe Mayisela, en sy voorgangers speel ’n groot rol aangesien infrastruktuur soos pyplyne, damme, watersuiweringsaanlegte en waterpompe nie behoorlik in stand gehou word nie.”

Die party sê daar is oënskynlik geen kundiges op die gebied van waterbestuur in Emalahleni nie en ook nie die politieke wil om in die beste belang van die belastingbetalers op te tree nie.

Inwoners rapporteer meestal vergeefs lekkende pype, pype wat gebars het en foutiewe watermeters, aangesien min daaraan gedoen word.

Volgens inligting van die Emalahleni-raad verloor die munisipaliteit sowat 3,66 miljoen kiloliter (3,66 miljard liter) water per kwartaal weens gebarste en lekkende pype, gesteelde watermeters en onwettige waterkoppelings.

Teen die goedkoopste prys van R9,43 per kiloliter vir mense wat minder as 6 000 liter per maand gebruik, beloop die waterverliese jaarliks R138,2 miljoen.

“Hierdie R138,2 miljoen wat jaarliks verlore gaan, kan voorkom word en aangewend word om verouderde infrastruktuur te vervang, die nodige herstelwerk onmiddellik te doen en persone wat hul skuldig maak aan onwettige waterkoppeling, te vervolg.”

Die VF Plus sê hulle het reeds kritiese vrae gerig aan Mpumalanga se premier, Refilwe Mtsweni-Tsipane, in verband met die waterkrisis en sal nie rus tot daar antwoorde en ’n werkbare waterplan op die tafel geplaas is nie.

“Die enigste langtermynoplossing vir die Emalahleni-munisipaliteit se waterkrisis en algemene diensleweringsprobleme is vir inwoners van die munisipaliteit om met die komende plaaslike regeringsverkiesing saam te staan en ’n sterk boodskap uit te stuur teen die ANC se vernietiging van die munisipaliteit. Die verval kan gestop word,” sê die VF Plus in hulle verklaring.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top