Die ware slaagsyfer van verlede jaar se matrieks is aansienlik laer as die 76,2% wat deur die minister van basiese opvoeding, Angie Motshekga, en haar departement aan die buitewêreld voorgehou word.
So sê die Demokratiese Alliansie (DA) in ’n verklaring wat na die bekendmaking van die jongste matriekuitslae uitgereik is. Terwyl Motshekga met ’n slaagsyfer van byna 80% spog, sê die DA die ware syfer is bykans die helfte minder as die groot uitvalsyfer van skoliere wat voor matriek die skool verlaat in ag geneem word.
Die DA se skaduminister van basiese opvoeding, Bax Nodada, sê volgens sy party is die ware slaagsyfer eintlik 44,1% as mens die uitvalsyfer in ag neem.
📹| Angie Motshekga and her Department need to urgently address basic education failures.
"The fact of the matter is that the real #Matric pass rate is 44.1%, which is calculated by comparing the number of learners that enrolled in 2018, and passed Matric in 2020." - @BaxNodada pic.twitter.com/8KzHMzFDXl
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 23, 2021
Die DA grond hulle argument op die aantal leerlinge wat in 2009 met skool begin het en vergelyk dit met die aantal leerlinge in die groep wat uiteindelik verlede jaar matriek geslaag het.
Verlede jaar se groep wat matriek geskryf het, was deel van 1 072 993 leerders wat in 2009 in graad 1 was, terwyl slegs 578 468 deurgedring het tot matriek. Daarvan het 440 702 geslaag, wat volgens die DA die werklike slaagsyfer van 41% verteenwoordig.
Die DA sê in hulle verklaring hoewel hulle elke matriekleerling van die 2020 klas wat na ’n uiters moeilike jaar geslaag het, wil gelukwens met hulle prestasie, kan die Minister nie hoop om weg te kom met die manier waarop sy die slaagsyfers versuiker nie.
Die DA sê dit is ook belangrik om daarop te let dat die Wes-Kaap die hoogste werklike slaagsyfer het, naamlik 55,8%.
Intussen het president Cyril Ramaphosa verlede jaar se matrieks gelukgewens met hul uitslae en hulle bestempel as leerlinge met moed. Hy sê in die lig van moeilike omstandighede het die leerlinge veerkragtigheid getoon, wat hul naasbestaandes en die land trots maak. Hy het ook die land se onderwysers, onderwysvakbonde en ouers vir hul ondersteuning bedank. Hy het ’n beroep gedoen op matrikulante wat gedruip het om aanvullende eksamens te skryf.
President @CyrilRamaphosa has paid tribute to the matriculants who sat the National Senior Certificate(NSC) in 2020 as scholars of courage. https://t.co/DrCeo9sY7y
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) February 23, 2021
Die burgerregteorganisasie AfriForum het ook al die matrikulante wat in 2020 hul skoolloopbaan suksesvol voltooi het, gelukgewens. Hulle bedank ook in ’n verklaring die onderwyspersoneel wat dit ten spyte van uiters moeilike omstandighede moontlik gemaak het.
Nietemin lê AfriForum die daling van 5% in die matriekslaagsyfer teenoor 2019 voor die deur van die Departement van Basiese Onderwys se swak hantering van die COVID-19-pandemie.
Volgens Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum, was die gedurige sluit van skole vir onnodig lang tye, gebrekkige voorsiening van veiligheidsmiddels, die departement se vermorsing van miljarde rande, asook die onsekerheid oor die herskryf van twee uitgelekte vraestelle enkele van die faktore wat hiertoe bygedra het.
AfriForum sê hulle het verlede jaar verskeie skole ondersteun met die voorsiening van beskermende toerusting soos handreiniger om te verseker dat hierdie skole veilig kon open, en het ook ’n suksesvolle hofaansoek gebring om die departement se besluit teen te staan dat alle matrikulante die gelekte matriekvraestelle sou moes oorskryf.
“Dit is egter tyd dat die departement groter erns maak met die toekoms van Suid-Afrika se kinders, aangesien daar talle openbare skole is wat nie voldoende veiligheidstoerusting ontvang het nie. Voorts behoort die departement onder meer op te tree teen politici soos Panyaza Lesufi van Gauteng wat toelaat dat sy departement miljoene rande mors om kwansuis skole te ontsmet, terwyl kinders se behoeftes ontoereikende aandag geniet,” het Venter gesê.
Die DA sê die ernstige kommer oor die land se basiese-onderwys-stelsel sal nooit aangespreek word as die Departement van Basiese Onderwys voortgaan om die ware toedrag van sake onder die mat te vee nie. Die party sê die jongste slaagsyfer is teleurstellend en ’n aanduiding van die chaotiese omstandighede van 2020 se akademiese jaar, maar ook gekoppel aan die historiese uitdagings van Suid-Afrika se buitengewoon hoë uitvalsyfer van leerders wat nooit eers matriek haal nie.