Regering word blameer vir Duitse toeris se dood

  • 0

Die dood van die Duitse toeris wat Maandag deur ’n bende kapers in Witrivier in Mpumalanga doodgeskiet is, kon vermy gewees het as die regering die basiese dinge gedoen het.

So sê die DA se skaduminister van toerisme, Manny de Freitas, in ’n verklaring  wat Woensdag uitgereik is.

Die Vryheidsfront Plus het ook skerp kritiek uitgespreek omdat daar nog geen ag geslaan is op hulle eis maande gelede dat daar ’n sterk polisiesigbaarheid in die gebied moet wees waar die voorval plaasgevind het nie.

Die slagoffer en drie ander toeriste is deur drie gewapende persone voorgekeer wat hulle beveel het om hul voertuigdeure oop te maak.

Die bestuurder het hom egter verset en die deure gesluit. Gevolglik het een van die verdagtes hom deur die venster in die bolyf geskiet.

Die polisie het intussen drie “mense van belang” geïdentifiseer wat glo verband hou met die moord, het Bheki Cele, minister van polisie, Woensdag gesê.

Niemand was teen Woensdag nog gearresteer nie, maar volgens Cele is die polisie vol hoop dat daar gou ’n deurbraak sal wees.

Volgens die DA beklemtoon die voorval dit waaroor hulle lankal gewaarsku het: dat die SAPD die veiligheid en sekuriteit van toeriste moet prioritiseer, aangesien ’n enkele kriminele voorval verwoestende gevolge vir die land se internasionale toerismebedryf kan hê.

De Freitas het ’n beroep gedoen op die ministers van polisie en toerisme om hul planne aan te kondig om toeristegebiede in die land te polisieer en te beskerm. “Hierdie ministers moet Suid-Afrikaners verseker dat hulle alles in hul vermoë doen om ’n herhaling van hierdie tragiese voorval te voorkom en dat die misdadigers so gou moontlik gevang en aangekeer sal word.”

Die moord het voorbladnuus in Duitsland gehaal en sal volgens die DA ongetwyfeld ’n afname in toerisme uit Duitsland veroorsaak, wat een van Suid-Afrika se groot toerismemarkte is.

Die DA sê die feit dat daar ’n gebrek aan sekuriteit en polisieteenwoordigheid in die gebied is, is veral kommerwekkend as ’n mens in ag neem dat daar die afgelope vier weke onrus, versperring van die Nasionale Krugerwildtuin se hekke en protesoptrede in die area en regdeur die park in die gebied was.

Volgens De Freitas dui inligting wat hy van grondvlak ontvang het, daarop dat daar baie min, of geen, polisieteenwoordigheid tydens die betogings en onrus-aksie was nie.

Hy sê daar is geen twyfel dat die SAPD daarvan bewus is dat dit ’n hoëmisdaadgebied is nie, aangesien hierdie voorval die jongste van baie soortgelyke voorvalle op hierdie spesifieke pad is, die pad wat na Numbi-hek lei.

’n Vorige voorval het in Januarie plaasgevind toe ’n gesin van Pretoria by ’n poging tot kaping betrokke was.

“Boonop is dit tradisioneel ’n hoogtepunt vir internasionale toeriste om Mpumalanga en die Krugerwildtuin van nou af tot November elke jaar te besoek. Die feit dat die Kruger Laeveld Kamer van Besigheid en Toerisme moes inspring om bystand te verleen met die beskerming van toeriste en die bekamping van misdaad, is ’n aanklag teen die polisie en hul onvermoë om hul basiese mandaat in die gebied na te kom.”

Werner Weber van die Vryheidsfront Plus sê die moord op die Duitse toeris, Jörg Schnarr, laat opnuut die soeklig val op die hoë voorkoms van rooftogte en aanvalle op die berugte Numbi-pad.

Hy sê in ’n verklaring die regering sal nou daadwerklik moet optree.

Verskeie besoekers aan die wildtuin is die afgelope paar maande beroof nadat hulle die wildtuin via die Numbi-hek verlaat het.

Die VF Plus het ’n veiligheidsplan by die provinsiale Departement van Gemeenskapsveiligheid ingedien met betrekking tot:

  • identifisering en ontleding van sleutelbrandpunte
  • vestiging van ’n databasis van misdaad teen toeriste
  • verbetering van die toerisme-omgewing deur sigbare polisiëring en die implementering van toerisme-moniteringsprogramme
  • die vestiging van ’n 24-uur-blitslyn vir toerismeveiligheid.

Weber sê alhoewel dit aanvaar is, is daar nie veel werk van gemaak tot op hede nie en dit kan nie langer geïgnoreer word nie.

Hy sê die beskerming van alle toeriste, die voorkoming van georganiseerde misdaad en die bevordering van volhoubare toerisme-ontwikkeling is uiters belangrik vir Mpumalanga.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top