Regeringslui is geskok oor aantal kinders wat babas kry

  • 0

Die aantal kinders wat die afgelope Kersfees en Nuwejaar geboorte geskenk het, het Suid-Afrikaners laat regop sit van verbasing.

Die rol en verantwoordelikheid van staatsdepartemente wanneer dit kom by die hantering van tiener- en kinderswangerskappe het opnuut in die kollig gekom met die geboorte van ’n aantal Kersfees-  en Nuwejaarsbabas die afgelope maand wie se ma’s nog self in hulle kinderskoene is.

Die viering van Kersfees- en Nuwejaarsbabas is die afgelope feesseisoen weer erg getemper deur kommerwekkende statistieke wat deur die LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal (KZN), Nomagugu Simelane-Mngadi, gedeel is. Drie van die babas in KZN se ma’s was net 15 jaar oud.

In die Oos-Kaap het ’n 12-jarige meisie op Nuwejaarsdag geboorte geskenk, terwyl ’n 13-jarige meisie op Kersdag in Seshego, Limpopo, geboorte geskenk het.

Gedurende 2024 het Suid-Afrika meer as 70 000 tienerswangerskappe regoor die land aangeteken.

Onlangse statistieke toon dat meer as 360 adolessente daagliks geboorte skenk, insluitend ongeveer 10 meisies onder die ouderdom van 15.

In 2022/23 het ’n verbysterende 132 280 tieners volgens die Distriksgesondheidsbarometer geboorte geskenk. Dit is amper 362 geboortes per dag.

Die premiers van verskeie provinsies het hulle kommer oor die toedrag van sake uitgespreek.

“Dit is ’n baie kommerwekkende neiging. Tienerswangerskappe beïnvloed nie net die gesondheid van jong moeders nie, maar plaas ook bykomende druk op gesinne en die gesondheidsorgstelsel,” het  Simelane-Mngadi gesê.

In die Oos-Kaap het die Departement van Gesondheid aangekondig dat daar 1 448 geboortes op die eerste dag van 2025 aangeteken is. Dit is ’n afname in vergelyking met 1 703 Nuwejaarsbabas wat verlede jaar in die provinsie gebore is.

Die LUR vir gesondheid van Mpumalanga, Sasekani Manzini, sê die departement sal saam met sleutelbelanghebbendes, insluitend plaaslike regerings en die Departemente van Maatskaplike Ontwikkeling en Justisie en die polisie, saamwerk om tienerswangerskap, insluitend tienerswangerskap wat voortspruit uit statutêre verkragting, te beveg. Sy sê die provinsie het ’n hele aantal tienerswangerskappe aangemeld.

Manzini sê Mpumalanga het reeds ’n forensiese kundige aangestel om al die gevalle van tieners wat op Kersdag en Nuwejaarsdag geboorte geskenk het, te konsolideer om sake van statutêre verkragting teen oortreders te open.

Tienerswangerskap lei dikwels tot ongereelde skoolbywoning, swak prestasie en uiteindelik skoolversaking, veral vir moeders wat nie familieondersteuningstrukture het om vir die babas te sorg wanneer die moeders skool toe gaan nie. Die Departement van Gesondheid sê hulle sal in samewerking met die Departemente van Maatskaplike Ontwikkeling en Basiese Onderwys voortgaan om alle moeders deur bestaande programme te ondersteun om te verseker dat hul babas oorleef en floreer.

Die ANC-Jeugliga het ook hulle kommer uitgespreek oor die hoë koers van tienerswangerskap en sê dit is veroorsaak deur beperkte toegang tot seksuelegesondheidsopvoeding, armoede en gebrek aan geleenthede.

Die Jeugliga sê onderwys, omvattende gemeenskapsondersteuning en toegang tot gesondheidsorg is die sleutel om tienerswangerskappe te voorkom.

Beide die premier en die LUR van gesondheid in KZN het die regering se verbintenis tot die verbetering van moeder- en kindergesondheid in KZN herbevestig. Dit sluit ondersteuning aan moeders in om te verseker dat alle kinders vanaf geboorte toegang tot kwaliteitgesondheidsorg het.

“Terwyl ons die vreugde van hierdie geboortes vier, moet ons ook besin oor die omstandighede wat uitdagings soos tienerswangerskappe meebring. Dit is ons kollektiewe verantwoordelikheid om ons jeug op te voed, te ondersteun en te bemagtig,” het Thamsanqa Ntuli, die premier van KwaZulu-Natal, gesê.

Hy sê KZN bly daartoe verbind om ’n veiliger, gesonder en meer ondersteunende omgewing vir moeders en kinders regoor die provinsie te bevorder.

Die Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, Ntandokazi Capa, het ’n beroep op ouers gedoen om hul rol te speel in die voorkoming van tienerswangerskappe. Sy sê die geval van die 12-jarige wat geboorte geskenk het, was skokkend.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top