Die omstrede Nederlandse politikus Geert Wilders het vriend en vyand verras toe hy die afgelope week as oorwinnaar uit die stryd getree het in Nederland se algemene verkiesing.
Min mense het Wilders aan die begin van die veldtog as ’n ernstige kandidaat beskou. Sy oorwinning het ’n skokgolf deur die hele Europa gestuur.
Wilders kon dit self nie glo toe dit duidelik word sy party het as die grootste party in Nederland uit die stryd getree nie.
35!!!!!!
PVV GROOTSTE PARTIJ ❤️ pic.twitter.com/oMANVYvGjy
— Geert Wilders (@geertwilderspvv) November 22, 2023
In ’n verrassende skuif in Nederland se politiek het Wilders se Vryheidsparty (PVV) stof in die oë van al sy hoofstroomteenstanders geskop.
Geen ander politieke party in Nederland het in meer as twee dekades ’n oorwinning van hierdie omvang behaal nie.
Wilders, wat ’n streng antiimmigrasiebeleid voorstaan, wil ook ’n bindende referendum in Nederland hou om te besluit of hulle die Europese Unie moet verlaat soos wat in Brittanje die geval was. Baie mense sien hom as Nederland se Donald Trump of Boris Johnson as gevolg van sy populistiese uitsprake.
Wilders het ook onderneem om op te hou om hulp aan Oekraïne te stuur en het voorheen gevra dat die Koran verbied word en dat moskees gesluit word.
Hy het sy anti-Islam-retoriek in die aanloop tot die verkiesing getemper en gesê daar is meer dringende kwessies op die oomblik en hy is bereid om sy beleid oor die verbod op moskees en Islamitiese skole “op ys te sit”.
Die strategie was blykbaar ’n sukses en het sy PVV-party se getalle in die parlement meer as laat verdubbel.
Wilders se oorwinning het egter skokgolwe deur Europa gestuur, aangesien Nederland een van die stigterslede van die Europese Unie is.
Nasionalistiese en verregse leiers regoor Europa het sy prestasie egter geprys. Marine Le Pen, leier van die verregse Nasionale Byeenkoms (RN), het in Frankryk gesê dit “bevestig die groeiende gehegtheid aan die verdediging van nasionale identiteite”.
Na sy party se goeie vertoning sal hy egter koalisievennote moet soek om ’n regering te vorm. Voordat hy premier kan word, sal hy eers ander partye moet oorreed om saam met hom in ’n koalisieregering te dien, en ingewikkelde onderhandelings lê vir hom voor.
Dit sal nie sonder stampe en stote wees nie, daarom het hy het reeds van sy ekstreme uitsprake begin temper in ’n poging om ’n moontlike koalisie-ooreenkoms te vergemaklik.
Die laaste regering van premier Mark Rutte het ’n ongekende 271 dae geneem om ’n regering te vorm. Dit kan hierdie keer selfs langer neem en die meeste ontleders verwag nie dat ’n regering voor middel-2024 gevorm sal word nie
Voor die verkiesingsuitslag het die drie ander groot partye gesê hulle stel nie belang om deel te wees van ’n Wilders-geleide regering nie, weens sy verregse beleid. Maar dit is reeds besig om te verander weens die omvang van sy oorwinning.
Die linkse alliansie onder oud-EU-kommissaris Frans Timmermans het tweede gekom, met net 25 setels.
Timmermans het dit egter duidelik gemaak dat hy niks te doen wil hê met ’n Wilders-geleide regering nie, en belowe om die Nederlandse demokrasie en die oppergesag van die reg te verdedig. “Ons sal niemand in Nederland in die steek laat nie. In Nederland is almal gelyk,” het hy aan ondersteuners gesê.
Aan alle kiezers die verenigd links het vertrouwen hebben gegeven en kiezen voor een eerlijk en rechtvaardig Nederland: bedankt, met heel mijn hart.
Wij blijven schouder aan schouder de rechtsstaat verdedigen. pic.twitter.com/z1OH89HBrE
— Frans Timmermans (@F__Timmermans) November 22, 2023
Dit laat die sentrumregse liberale VVD onder die nuwe leier, Dilan Yesilgöz, in die derde plek, en ’n splinternuwe party wat deur die fluitjieblaser-LP Pieter Omtzigt gevorm is, in die vierde plek as moontlike koalisievennote.
Van 0 naar 20 in 3 maanden! Een prachtig verkiezingsresultaat voor @NwSocContract o.l.v. @PieterOmtzigt.
‘En het bleef nog lang onrustig in #eNSChede’. pic.twitter.com/r5jkWUqTvP— Rob Wessels (@WesselsRob) November 23, 2023
Wilders het ’n beroep op sy politieke mededingers gedoen om saam te werk. Beide Yesilgöz en Omtzigt het hom reeds gelukgewens met sy party se sukses. Yesilgöz het gesê haar party is teleurgesteld in die uitslag, maar dit bewys dat die behoeftes van die kiesers nie behoorlik aangespreek is deur die ander partye nie.
Dank aan alle VVD stemmers! Felicitaties aan de winnaars van vanavond. Voor ons stelt de uitslag teleur. De winst van de PVV maakt duidelijk dat de zorgen van de mensen onvoldoende geadresseerd zijn. Het voortouw ligt nu bij Geert Wilders. Ik ben erg trots op onze partij. De…
— Dilan Yesilgöz - Zegerius (@DilanYesilgoz) November 22, 2023
Sy sê sy sal dit aan haar partykollegas oorlaat om oor enige koalisievennootskap te besluit. Voor die verkiesing het sy daarop aangedring dat sy nie in ’n Wilders-geleide kabinet sal dien nie, maar het dit nie uitgesluit om saam met hom te werk as sy sou wen nie.