Die vakbond Solidariteit het met ’n regstryd teen die minister van gesondheid, Joe Phaala, begin oor die nuwe Covid-maatreëls, enkele ure nadat hy dit Woensdag kort voor middernag in die Staatskoerant aangekondig het.
Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, het vroeg Donderdagoggend op Twitter geskryf: “Die regsgeveg het begin. Die minister het die rampregulasies verleng onder die dekmantel van gesondheidsregulasies. Praat van oorgangsregulasies wat nie in wet bestaan. Minister kry drakoniese magte om regulasies af te kondig en te herroep. Nuwe bevelsraad. Dit moet stop.”
Die regsgeveg het begin. Die Minister het die rampregulasies verleng onder dekmantel van gesondheidsregulasies. Praat van oorgangsregulasies wat nie in wet bestaan. Minister kry drakoniese magte om regulasies af te kondig en te herroep. Nuwe bevelsraad. Dit moet stop. pic.twitter.com/C0g4ITa8SP
— Dirk Hermann (@SolidariDirk) May 5, 2022
Die regulasies, wat verband hou met die waarneming en beheer van aanmeldbare mediese toestande, is uit verskeie oorde gekritiseer. Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, Mvuyisi Mzukwa, het wel Phaala se aankondiging verwelkom dat die tydperk vir openbare kommentaar op die nuwe gesondheidsregulasies tot 5 Julie verleng is.
Mzukwa sê hoewel dit belangrik is om die regulasies te hê nadat die nasionale ramptoestand opgehef is, was die aanvanklike tydperk vir voorleggings te kort.
Volgens Solidariteit se verklaring is die nuwe gesondheidsregulasies onregmatig en irrasioneel. Daarom het hulle met ’n regsproses begin.
Die nuwe regulasies fokus volgens die Minister se verklaring hoofsaaklik op die dra van gesigmaskers, byeenkomste en persone wat die land binnekom. ’n Persoon moet steeds ’n gesigmasker dra wanneer hy ’n openbare binnenshuise perseel binnegaan.
Geen persoon mag kragtens hierdie beperkte regulasies steeds enige vorm van openbare vervoer gebruik tensy hulle ’n gesigmasker dra nie.
Solidariteit sê daar heers groot onsekerheid oor die wetsraamwerk waarbinne die “beperkte regulasies” funksioneer en wil by die Minister weet hoe hy by die besluit oor die regulasies gekom het.
Volgens Hermann is die mees drakoniese regulasie onder die nuwe regulasies dat die minister van gesondheid arbitrêr kan besluit om hierdie regulasies in te stel of terug te trek. “Prakties gesproke beteken dit die minister van gesondheid kan die hele land in inperking dompel sonder enige voorafkennisgewing en met geen beperking op hierdie mag nie.”
Verdere regstappe wat die substansie van die regulasies kan uitdaag, word ook deur Solidariteit se regspan oorweeg.
“Die departement se oorhaastige, lomp en ondeursigtige optrede lyk veel eerder na die optrede van ’n regering wat bang is hy verloor ’n politieke hefboom oor sy bevolking as een wat besorg is oor hul gesondheid,” lui Solidariteit se verklaring.
“Die regering het sy voete gesleep en het die dringendheid oor homself gebring. Nou wil hy ’n oorhaastige produk deurdruk wat ons gesondheid moet reguleer. Ons is van mening dit is onverskillig en roekeloos,” het Hermann gesê
Hy het op Facebook gesê: “Hulle praat van oorgangsregulasies waarvoor die wet geen voorsiening maak nie. Dit is duidelik dat hulle die derduisende kommentare nie in ag geneem het nie. Hulle kondig sommer nou nog ’n tydperk van kommentaar aan, maar publiseer solank regulasies.”
Hermann sê hulle dink hulle is steeds in ’n ramptoestand waar ’n bevelsraad regeer.
Die feit dat die regering in die Staatskoerant erken dat hy nog tyd benodig om deur kommentaar van die publiek te werk, maar die regulasies in elk geval publiseer, dui volgens Hermann daarop dat die openbarekommentaarproses as ’n blote ongerieflikheid, beskou word deur ’n regering wat eerder deur diktaat wil regeer.
“Die departement van gesondheid se gesloer met die publikasie van die regulasies het die absurde situasie geskep waar die Suid-Afrikaanse publiek teen Woensdagaand om 23:00 nog steeds nie geweet het wat hulle die volgende oggend sou begroet nie. Dit is totaal onaanvaarbaar en dit bring ons terug by die inperking se familievergaderings en met onmiddellike effek,” sê Hermann.
Intussen het die gevalle van koronavirusinfeksies na afloop van die onlangse rits openbare vakansiedae dramaties gestyg tot meer as 6 000 nuwe gevalle van koronavirusinfeksies en ’n positiwiteitskoers van meer as 22%.