Regter kap na Afrikaans by US, maar DA meen dis verregaande

  • 0

Die Demokratiese Alliansie (DA) gaan die Universiteit Stellenbosch (US) se Khampepe-verslag na beweerde rassisme by die universiteit vir regshersiening hof toe neem en sê dit maak ’n sondebok van Afrikaans.

Die DA gaan ook die trustees van die Het Jan Marais Fonds vra hom hul befondsing aan die US te heroorweeg tensy die universiteitsbestuur die aanbevelings van die Khampepe-verslag oor die “uitwissing” van Afrikaans by die universiteit uitdruklik verwerp.

Die DA-parlementslid en die party se kiesafdelingshoof van Stellenbosch, Leon Schreiber,  het in ’n verklaring teen die verslag uitgevaar.

Khampepe sê in haar verslag van 184 bladsye op grond van al die bewyse oor die spanning en probleme wat deur die universiteit se meertalige taalbeleid geskep word, moet die universiteit dit oorweeg om hierdie beleid te hersien om die moontlikheid van taaluitsluiting deur die voorkeur van Afrikaans uit te skakel.

Sy sê hoewel daar teoreties nie fout is met die universiteit se verbintenis tot veeltaligheid nie, is die werklikheid dat dit steeds ander uitsluit.

Tydens haar ondersoek was daar glo herhaalde klagtes van uitsluiting deur die Afrikaanse taal. Volgens haar benadeel die taalbeleid personeellede ook buitensporig.

“Kortom, die taalbeleid veroorsaak dat die Universiteit heelwat van sy hulpbronne in tyd en geld spandeer bloot om een groep aan die Universiteit te paai,” sê Khampepe in haar bevindings.

Die DA sê in hulle reaksie die verslag maak ’n verregaande sondebok van die Afrikaanse taal vir al die probleme by die universiteit.

Volgens die DA eskaleer die verslag die aanval op Afrikaans tot ongekende vlakke deur die sewe miljoen sprekers van Afrikaans – die mees diverse taal in Suid-Afrika – effektief te blameer vir alle rassespanning en voorvalle soos die urineringskandaal.

“Dit is duidelik dat hierdie bevinding ontwerp is om aan [die rektor] die verskoning te bied wat hy lank gesoek het om Afrikaans as akademiese taal heeltemal uit te skakel.”

Om Afrikaans met rassisme gelyk te stel is volgens die DA nie net ’n walglike belediging vir ’n hele taalgemeenskap in Suid-Afrika nie; dit is ook “heeltemal irrasioneel, gebaseer op anekdotiese en totaal nieverteenwoordigende bewyse, en in stryd met alles waarvoor ons grondwetlike demokrasie staan”.

Die party sê sedert Wim de Villiers rektor en visekanselier van die instelling geword het, het die US verskeie onregte teen Afrikaanse studente gepleeg, onder meer deur hulle te verbied om Afrikaans in koshuise en in die openbaar te praat – ’n oortreding wat die DA na die Menseregtekommissie verwys het.

Die DA sê  hulle sal geen koste ontsien en geen steen onaangeroer laat om die waardigheid van die inheemse tale – insluitend Afrikaans – te beskerm nie

De Villiers sê die verslag is ’n kantelpunt vir die US.

Hy sê in ’n verklaring dit is ’n ontnugterende oomblik vir die universiteit. “Dit is duidelik dat swart personeel en studente nie hier welkom voel nie, ondanks ons doelbewuste transformasiepogings tot nou toe. Ons moet nou die werklikheid in die oë kyk dat daar ’n gaping is tussen ons bedoelings wat transformasie-inisiatiewe betref en hoe dit in werking gestel word. Ons sal hard moet werk om ons institusionele ondernemings te belyn met alles wat in die praktyk en op voetsoolvlak gebeur,” sê De Villiers.

Hy sê met die aanstelling van die kommissie en die gepaardgaande ondersoek het die US homself kwesbaar gemaak en aan moontlike kritiek blootgestel. “Met die oog op die toekoms beskou ons hierdie kommissie egter as ’n belangrike belegging in die welstand van ons universiteit.

“Ons is nou in die proses om die verslag te bestudeer en ons ten volle besig te hou met die bevindinge en aanbevelings. Dit is ’n topprioriteit vir die universiteit.”

De Villiers het Woensdag tydens ’n aanlyn inligtingsessie vir die media gesê die  universiteit sal verder oor die bevindinge en die gepaardgaande aksieplanne en die pad vorentoe kommunikeer sodra dit gefinaliseer is.

  • Die Khampepe-verslag is hier beskikbaar.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top