Regter looi afgedankte belastingbaas

  • 0

Tom Moyane
Foto: YouTube

Die voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Tom Moyane, gaan appelleer teen ’n uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria waarvolgens sy aansoek om sy werk terug te kry, met koste van die hand gewys is. Moyane het sy werk probeer terugkry en verhoed dat die finale verslag van die Kommissie van Ondersoek na die Inkomstediens aan president Cyril Ramaphosa oorhandig word.

Regter Hans Fabricius het in sy uitspraak gesê Moyane se optrede in die hof was uiters afkeurenswaardig en dat hy ook die kantoor van die president belaster het. Die regter het geen doekies omgedraai nie en kaalvuis onder Moyane ingeklim. Hy het gesê dit is tyd dat klaers besef hulle kan nie ligtelik beledigings heen en weer slinger in hofverklarings onder die dekmantel van hulle konstitusionele regte met die veronderstelling dat kostebevele nie teen hulle gemaak sal word nie.

Die regter sê Moyane het ook afgetrede regter Robert Nugent, wat die derde respondent in die saak was, belaster. Verder het hy gesê Moyane se aansoek is nie dringend nie omdat Moyane nie kon bewys dat hy onherstelbare skade gaan ly indien dit nie suksesvol is nie. Volgens die regter was daar ook geen rede om ’n interdik toe te staan om te keer dat die finale verslag van die Nugent-kommissie aan die president gestuur word nie, en is die tussentydse verslag wettig.

Kort na die saak het dit gegons op sosiale media en die uitspraak is deur talle lede van die publiek verwelkom. Maps Pingo het op Twitter gesê die hof het Moyane ’n kishou gegee nadat hy die hof gebruik het om die president en regter Nugent te beledig en dat die regter korrek was in sy uitspraak.

Die joernalis Pauli van Wyk het getwiet dat 90 persent van die mense by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens hulle koppe instemmend knik oor die uitspraak. “Dis nou diegene wat nie deel was van die plundery van die staatskas nie.”

Moyane is op 1 November deur president Cyril Ramaphosa afgedank op aanbeveling van regter Nugent se tussentydse verslag oor die gebeure by SAID onder Moyane se leierskap. Dit was Moyane se tweede terugslag in die hof binne ’n week nadat die Hooggeregshof vroeër sy aansoek van die hand gewys het dat adv Wim Trengrove wat regter Nugent in die saak verteenwoordig het, van die saak verwyder word.  Regter Fabricius het toe gesê hy het in al die jare op die regbank nog nooit gehoor dat ’n regter besluit  ’n advokaat mag nie ’n kliënt verteenwoordig nie.

Die week se uitspraak word beskou as ’n oorwinning vir president Ramaphosa en diegene in die regering wat staatskapers wil vasvat. Regter Fabricius sê Moyane het die kans gehad om sy saak voor die president en die Nugent-kommissie te stel, maar het dit nie gedoen nie.

Die uitspraak maak dit nou moontlik vir Ramaphosa om die pos van kommissaris van SAID te adverteer en ’n permanente aanstelling te maak.

Moyane se regsverteenwoordiger sê die regter het onder meer bevindings gemaak oor kwessies wat nie voor die hof gedien het nie en versuim om wel ’n bevinding te gee oor sake soos bevooroordeling wat wél aangevoer is. Regter Fabricius, wat die saak aangehoor het, sê die nasionale belang het egter baie swaarder geweeg as die finansiële gevolge wat die uitspraak vir Moyane inhou.

Moyane se prokureur, Eric Mabuza, sê die uitspraak is slegs ’n uitstel en dat die saak verder gevoer sal word.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top