Reisverbod het vernietigende gevolge op Suid-Afrika se toerismebedryf

  • 0

Die internasionale verbod deur verskeie lande op reisigers na en van Suid-Afrika as gevolg van die nuut-ontdekte Omikron-variant het die land se somertoerismevooruitsigte ’n vernietigende slag toegedien.

Die aantal lande wat ’n reisverbod teen Suid-Afrika ingestel het, het reeds tot byna 40 gestyg. In minstens 18 van die lande is ook gevalle van die Omikron-variant ontdek, maar daar is geen beperking op daardie lande geplaas nie.

Terwyl hierdie reisverbod Suid-Afrikaners se oorsese vakansieplanne verwoes het, word die groter en langer blywende impak deur die land se eie toerismesektor gevoel.

In die Wes-Kaap, wat een van Suid-Afrika se grootste toerismetrekpleisters is, was daar by sommige plekke soveel as 77% kansellasies van kliënte vir Desember 2021-besprekings.

Meer as 40% van die respondente in ’n opname in die  Wes-Kaap het gesê dat 50% of meer van hul Desember 2021-besprekings gekanselleer is.

Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, sê in ’n verklaring die provinsie sal voortgaan om met die internasionale gemeenskap te skakel om die reisverbod, wat ’n ernstige impak op die provinsie se ekonomie het, op te hef.

“Ons streef daarna om die reisverbod te verwyder. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het dit duidelik gestel dat dit nie die korrekte reaksie deur die internasionale gemeenskap is nie. Die data van die kwartaallikse arbeidsmagopname wat hierdie week vrygestel is, toon duidelik hoe ons die toerisme- en gasvryheidsektor nodig het om werk oor hierdie hoogseisoen te skep,” het Winde gesê

Die meeste van hierdie reisbeperkings, soos dié deur die VK wat Suid-Afrika weer by sy rooilys gevoeg het, dwing terugkerende inwoners in duur kwarantyn in, wat reis ontmoedig.

Wetenskaplikes en ekonome bestempel die vloed van die internasionale reisverbod na Suid-Afrika en sy buurlande as diskriminerend, xenofobies, onregverdigbaar en onwetenskaplik.

Die beperkings het gevolg op ’n inligtingsessie deur Suid-Afrika se Departement van Gesondheid en wetenskaplikes van die Network for Genomic Surveillance verlede Donderdag, waar aangekondig is dat ’n nuwe, hoogs gemuteerde variant deur proaktiewe waarnemingsmaatreëls ontdek is.

Die Wes-Kaap se provinsiale minister van finansies en ekonomiese aangeleenthede, David Maynier, sê een van die maniere waarop die Wes-Kaapse regering die impak van die reisverbod monitor, is deur die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme se deurlopende opname oor die impak daarvan op die toerismebedryf.

Altesaam 59% van die respondente het kansellasies van kliënte vir Januarie 2021-besprekings gehad en 29% van die respondente het gesê dat 50% of meer van hul Januarie 2021-besprekings gekanselleer is.

Sowat 31% van die respondente het reeds kansellasies van kliënte vir Februarie 2021-besprekings en 13% van die respondente het gesê dat 50% of meer van hul Februarie 2021-besprekings gekanselleer is.

Van die respondente het 90% gesê hulle verwag dat hul Desember 2021- tot Februarie 2022-inkomste laer sou wees weens die internasionale verbod.

Meer as 60% van die respondente het gesê hulle sal 50% meer van hul inkomste oor dieselfde tydperk verloor.

Volgens die afgelope week se resultate van die kwartaallikse arbeidsmagopname sal die reisverbod die werkloosheid in die land verder vererger, wat die herstel van die toerisme- en gasvryheidsbedryf ondermyn in ’n tyd wanneer hulle op hul hoogtepunt behoort te werk, het Maynier gesê.

Winde sê hy het reeds met konsuls-generaal van lande in Afrika gesprek gevoer en almal is dit eens dat die maatreëls teen reis na die streek opgehef moet word. Hulle sê daar moet navorsing gedoen word hoe om doeltreffend en sinvol op die pandemie te reageer. Winde het ook met die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel in gesprek getree oor die verwoestende impak van hierdie verbod, en het die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon dat die grense heropen word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top