Werkloosheid in Suid-Afrika het ’n nuwe rekordhoogte bereik. Meer as ses miljoen Suid-Afrikaners is tans werkloos. Ontleders sê die hoë werkloosheidskoers is ’n teken van die haglike ekonomiese situasie waarin die land verkeer.
Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse arbeidsopname dui daarop dat die aantal werklose mense in die eerste kwartaal met 62 000 toegeneem het tot meer as ses miljoen. Dit beteken ’n 0,5% styging in die werkloosheidskoers in die eerste kwartaal van vanjaar. Die werkloosheidskoers staan nou op 27,6% in vergelyking met 27,1% in die laaste kwartaal van verlede jaar. Ontleders het vroeër ’n styging in die werkloosheidskoers van 0,3% voorspel.
Uitgebreide werkloosheid het tot die hoogste vlak ooit gestyg en staan nou op 38% teenoor 37% wat reeds ’n rekord was. Volgens SSA se jongste kwartaalverslag het die aantal mense wat ’n werk het in die eerste kwartaal met 86 000 gedaal. Daarteenoor het die getal werkloses in die land met 3,7% gestyg tot 6,3 miljoen mense. Die getal ontmoedigde werksoekers het ook skerp gestyg met 156 000 tot byna 3 miljoen.
The number of discouraged work seekers up by 156 000 in Q1:2019 q/q #StatsSA #unemployment https://t.co/OODgZ8GCaZ pic.twitter.com/nt73qFEQ19
— Stats SA (@StatsSA) May 14, 2019
Ekonome sê die reeds hoë werkloosheidskoers wat wéér in die eerste kwartaal van die jaar gestyg het, is in ooreenstemming met verwagtinge.
Die grootste verlies was in die formele sektor soos konstruksie, finansies en ander sakedienste waar 126 000 werkgeleenthede verlore gegaan het. Die ekonoom Elize Kruger het aan RSG gesê daar is talle faktore, soos beurtkrag en hoë belasting, wat teen die Suid-Afrikaanse ekonomie werk. Sy sê die hoë werkloosheidsyfer is ’n bewys van die haglike ekonomiese situasie waarin die land hom bevind.
Bykans 10 miljoen Suid-Afrikaners van werkende ouderdom is nie op skool nie, studeer nie verder nie of is werkloos. Dit sluit nie diegene in wat vrywillig werkloos is soos tuisskeppers of mense wat vroeg afgetree het nie.
Die volledige statistiek kan hier afgelaai word: https://www.statssa.gov.za/?page_id=1854&PPN=P0211&SCH=7619
Die statistikus-generaal, Risenga Maluleke, het intussen op Twitter gewaarsku dat daar ’n bedrogspul in omloop is wat mense namens Statistieke SA werksgeleenthede teen betaling beloof. Maluleke sê Statistieke SA sal nooit geld vra vir werk wat geadverteer word nie en alle werksgeleenthede sal op die gewone manier geadverteer word.
#ALERT I’ve been alerted to a scam where fraudsters are charging people money with the promise of #employment. #StatsSA will never charge any money for employment or to register on our online database. All employment opportunities will be advertised on https://t.co/9CpTGGfk3w pic.twitter.com/UzAjiTl5O4
— Statistician-General Risenga Maluleke (@SGMaluleke) May 14, 2019
Werkloosheid onder die jeug is steeds baie hoog. Die syfer onder mense tussen 25 en 34 jaar was 34,2% en 55,2% tussen 15 en 24 jaar.
#Youth unemployment rate remains high. #Unemployment rate for 25-34 year olds was 34,2% and 55,2% for 15-24 year olds #StatsSA https://t.co/OODgZ8GCaZ pic.twitter.com/JaAxrm3P3G
— Stats SA (@StatsSA) May 14, 2019
Die getal Suid-Afrikaners wat ’n werkende ouderdom bereik het, het in die eerste kwartaal van die jaar met 149 000 toegeneem vergeleke met die vierde kwartaal verlede jaar. Die arbeidsmag het in dieselfde tyd met 176 000 afgeneem.
Byna ’n derde van alle mense wat in die eerste kwartaal van die jaar werk gehad het, was in basiese beroepe of het huishou-werk gedoen.
Close to a third (29,1%) of all people #employed in Q1:2019 were employed in elementary and domestic work occupations #StatsSA #unemployed https://t.co/OODgZ8GCaZ pic.twitter.com/pKGN0nMqWH
— Stats SA (@StatsSA) May 14, 2019
Vier uit die 10 bedrywe wat SSA meet het tans minder werksgeleenthede as ’n jaar gelede. Die bedryf wat in getalle die meeste werknemers verloor het, is gemeenskapsdienste wat die staatsdiens en ander staatsinstellings insluit. Die bedryf het 211 000 minder mense in diens as ’n jaar gelede.
Persentasiegewys was die grootste slagting egter in die konstruksiebedryf wat meer as 6% minder mense in diens het as ’n jaar gelede. Die vervaardiging- en landbousektor het albei ook minder werknemers as ’n jaar gelede.
Vervoer en logistiek het die grootste persentasiegroei getoon met ’n styging van 6,7% nuwe werknemers vergeleke met ’n jaar gelede. Die grootste aantal nuwe aanstellings is in die finansiële sakedienste – 114 000 wat ’n groei van 4,7% verteenwoordig.
Buro: NB