Altesaam 23 vermeende renosterstropers is die afgelope drie weke deur SANParke se veldwagters in die Krugerwildtuin vasgetrek.
Volgens ’n woordvoerder van SANParke, Isaac Phaahla, is daar met die operasie begin toe een van SANParke se veldwagters, Respect Mathebula, in ’n skermutselings met stropers doodgeskiet is.
SANParke het in ’n mediaverklaring op hulle webwerf gesê sedert Mathebula se dood was daar ’n volgehoue toestroming van stropers na die wildtuin.
Verskeie wapens is ook gekonfiskeer sedert daar minder as drie weke gelede op die renosterstropers toegeslaan is.
Mathebula was die tweede veldwagter wat sedert 1958 in ’n skermutseling met wildstropers dood is. Die Krugerwildtuin se uitvoerende bestuur het die veldwagters geprys vir hulle werk om die stropers aan te keer so kort na die tragiese dood van hul kollega.
SANParke het ’n beroep op die wildtuin se naburige gemeenskappe gedoen om hulle te help om die booswigte wat nog op vrye voet is aan te keer. Phalala sê die renosterstropers dra nie die belange van die gemeenskap op die hart nie, maar is kriminele sonder enige gewete en hoort vir ’n baie lang tyd agter tralies as gevolg van hul kriminele dade. Hy sê die stropers buit die gemeenskap se mans, vroue en kinders uit met hulle onwettige renosterstropery.
Die 23 verdagtes wat gevang is het 10 grootkaliber-vuurwapens in hul besit gehad, asook toerusting waarmee renosters gestroop word. Die verdagtes sal almal aangekla word vir klagtes wat met stropery verband hou. Volgens Philips sal hulle ook aangekla word vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Die onlangse inhegtenisnemings is volgens Philips ’n groot deurbraak en dui op die veldwagters se vasberadenheid om renosterstropers aan te keer in die nadraai van hul kollega se tragiese dood. Dit is ’n teken van die respek wat die res van die veldwagters vir hulle afgestorwe kollega het, het Philips gesê.
Hy sê dis ook ’n bewys van die veldwagters se professionaliteit dat geen stropers gewond of dood is in die opvolgoperasie om hulle aan te keer nie. Dit getuig van die dissipline en professionaliteit waarmee die veldwagters hulle werk doen.
Twee renosterstropers is ook vroeër die maand in Limpopo elk tot 15 jaar en ses maande tronkstraf gevonnis. Hulle is elk vir vier jaar gevangenisstraf gevonnis weens renosterstropery. Die twee stropers is verder elkeen tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis weens die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en tot ’n addisionele drie jaar vir die besit van patrone.
Buro: NB