Reserwebank soek antwoorde by Ramaphosa oor Phala Phala

  • 0

Die skroewe word al hoe stywer gedraai dat president Cyril Ramaphosa oop kaarte speel oor die beweerde diefstal by sy wildsplaas, Phala Phala.

Ramaphosa weier tot dusver volstrek om enige vrae daaroor in die openbaar te beantwoord. Hy voer aan hy swyg op grond van regsadvies en systap alle vrae daaroor.    

Die DA en die EFF is egter nie te vinde daarvoor dat hy die gebeure op sy wildsplaas doodswyg nie. Albei partye het briewe aan die president van die reserwebank, Lesetja Kganyago, geskryf waarin hulle vra vir sekere inligting rakende die saak.

Hulle wil onder andere weet of die President die buitelandsevaluta-transaksie aangemeld het wat die bron was van die Amerikaanse dollars wat na bewering van sy plaas gesteel is, soos wat deur die wet vereis word.

Die Reserwebank het Ramaphosa tot volgende week kans gegee om besonderhede te verskaf oor die gebeure by Phala Phala.

Die Reserwebank administreer Suid-Afrika se valutabeheerregulasies en ondersoek moontlike oortredings. Alle buitelandsevaluta-transaksies moet binne 30 dae by die bank aangemeld word. Kganyago se brief waarin die inligting versoek word, bevestig dat Ramaphosa nie die transaksie aangemeld het soos deur die wet vereis word nie.

Kganyago het die afgelope week in ’n brief aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê dat hy aan Ramaphosa se regsadviseurs geskryf het waarin hy "inligting en besonderhede rakende die oorsprong” van die geld versoek het.

Die President se regsadviseurs het tot 8 September om inligting aan die sentrale bank te verskaf sodat dié die voorval behoorlik kan ondersoek.

Ramaphosa het ook Dinsdag tydens vraetyd in die parlement geweier om vrae oor Phala Phala te beantwoord. Terwyl opposisie-LP's van die EFF, African Transformation Movement en DA antwoorde geëis het, het ANC-LP's Ramaphosa se weiering om te antwoord probeer regverdig.

Die President se volstrekte weiering om die vrae te beantwoord wat tydens vraetyd in die parlement aan hom gestel is, is volgens die DA nie te onderskei van die manier waarop oudpresident Jacob Zuma met die behulp van die speaker jakkalsdraaie gegooi het om die vrae oor Nkandla te ontduik nie.

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê in ’n verklaring Ramaphosa praat dikwels oor die nege vermorste jare onder Zuma, maar die afgelope week se optrede deur hom in die parlement bewys dat in plaas daarvan om daardie nege vermorste jare tot ’n einde te bring, Ramaphosa se ampstermyn dit net nog verder uitrek.

“Weer eens ontduik ’n ANC-president aanspreeklikheid ten koste van ons toesighoudende instellings, en uiteindelik ten koste van die Suid-Afrikaanse demokrasie self.”

Ook die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula is skerp gekritiseer. Volgens die opposisie het sy getoon dat sy nie anders is as wat haar voorgangers tydens die Zuma-era was nie.

Sy het volgens Steenhuisen die afgelope week vir ure aaneen die parlementêre reëls en prosesse verontagsaam deur parlementêre lede te verbied om Ramaphosa oor Phala Phala te ondervra. Steenhuisen sê dit is ’n gruwelike aanklag teen die onafhanklikheid en onpartydigheid van die amp van die speaker en die parlement se integriteit as hoof- toesighoudende instelling.

Die Vryheidsfront Plus steun ook die voorstel om ’n parlementêre komitee aan te stel om die volle aangeleentheid rondom die Phala Phala-voorval en Ramaphosa se rol daarin te ondersoek. Die party se leier, Pieter Groenewald, het vroeër in ’n verklaring  gesê Ramaphosa het reeds gesê hy is bereid om voor die ANC se integriteitskomitee te verskyn om antwoorde te verskaf oor wat rondom die diefstal van geld op sy plaas gebeur het.

“Om hierdie rede is daar ’n groter verpligting op hom om ook voor ’n parlementêre komitee te verskyn om antwoorde oor die aangeleentheid te verskaf. Indien hy dit nie wil doen nie en daar nie so ’n parlementêre komitee aangestel word nie, beteken dit eenvoudig dat die President die belange van die ANC hoër ag as die belange van Suid-Afrika,” het Groenewald gesê..

Ramaphosa het vroeër gesê die kontant wat van Phala Phala gesteel is, was die opbrengs van die verkoop van diere. Die diefstal het die eerste keer in Junie aan die lig gekom toe die voormalige spioenbaas Arthur Fraser in ’n beëdigde verklaring wat by die polisie ingedien is, verklaar het dat minstens $4 miljoen, wat in meubels versteek was, van die plaas gesteel is. Ramaphosa het gesê die bedrag was nie naastenby so groot nie, maar het geen inligting oor die bedrag verskaf nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top