Die skoknuus wat Suid-Afrika die afgelope week getref het dat die land skielik weer in ’n onverwagte resessie is, spel niks goed vir die land se ekonomiese vooruitsigte nie. Suid-Afrikaners sal hulle gordels nóg stywer moet trek om te kan oorleef. Sommige doemprofete vrees dit kan dalk die voorspel wees tot ’n ekonomiese depressie as daar nie spoedig groter ekonomiese vertroue ingeboesem word nie.
Resessies kan gekenmerk word deur skerp stygende pryse. ’n Langdurige resessie staan bekend as ’n ekonomiese depressie. ’n Vernietigende ekonomiese ineenstorting (in wese ’n ernstige depressie wat soms gepaard gaan met hiperinflasie) kan soms ook voorkom.
Ekonome is oor die algemeen nie so pessimisties nie, maar waarsku dat die land vinnig besig is om op bykomende rommelstatus af te stuur as die afwaartse ekonomiese gety nie gou gestuit word nie. Daar word allerweë aanvaar dat indien ’n ekonomie (soos gemeet in die bruto binnelandse produk) vir twee opeenvolgende kwartale geen groei toon nie, ’n resessie besig is om plaas te vind.
Statistiek SA het vroeër die week aangekondig die land is weer in ’n resessie nadat die ekonomie gedurende die tweede kwartaal van die jaar met 0,7 persent gekrimp het. Dit volg op ’n ineenkrimping van 2,6 persent in die eerste kwartaal. Kommer het die afgelope week ernstig toegeneem oor Suid-Afrika se vermoë om sy skuld terug te betaal namate die rand tot sy laagste vlak in twee jaar getuimel het.
Die kredietgradeerder Moody’s Investor Service het die vrees vir verdere rommelstatus vir Suid-Afrika versterk toe hulle Donderdag in ’n navorsingsnota gewaarsku het die Reserwebank staar verdere uitdagings in die gesig as gevolg van toenemende inflasie wat aangehelp word deur die hoër brandstofprys en die verswakkende rand. Moody’s is die enigste kredietagentskap wat nog nie rommelstatus aan Suid-Afrika toegeken het nie.
Die minister van finansies, Nhlanhla Nene, het vanuit Sjina waar hy ’n sakeforum bywoon, gesê Suid-Afrikaners moenie paniekerig raak oor die bruto binnelandse produk (BBP) wat vir die tweede opeenvolgende kwartaal (op ’n kwartaalgrondslag) ingekrimp het nie. Hy het gesê die regering werk aan ’n plan. Volgens Nene is daar ’n belangrike beleggingskonferensie aan die kom asook ’n beraad oor werkgeleenthede. Die ANC het in ’n verklaring gesê die nuus oor die tegniese resessie is ’n wekroep tot aksie vir alle Suid-Afrikaners om ekonomiese groei te help deur middel van ’n gesamentlike visie.
Die nuus dat die land hom in ’n tegniese resessie bevind is egter slegte nuus wanneer dit by kredietwaardigheid kom. Die jongste nuus oor die land se krimpende ekonomie het baie Suid-Afrikaners onkant gevang.
Na oud-president Zuma se vertrek het baie ekonome en finansiële instansies gemeen die ekonomie sal vinniger herstel en dat president Ramaphosa se oorname as president sal help om die ekonomie om te keer en in ’n beter rigting te stuur. Dit is die eerste keer sedert 2009 dat Suid-Afrika hom weer in ’n resessie begeef.
Die onsekerheid oor die regering se beleid ten opsigte van die grondkwessie, die Reserwebank en ander staatsinstellings se lomp hantering van hulle finansies het egter ’n negatiewe effek op die ekonomiese vertroue gehad.
’n Bekende joernalis, Sidney J Harris het die volgende beroemde woorde oor die onderskeid tussen ’n resessie en ekonomiese depressie geuiter:
"’n Resessie is wanneer jou buurman sy werk verloor; ’n depressie is wanneer jý jou werk verloor."
Buro: NB