Restauranteienaar gesteek oor koronapas, ’n nuwe Bybelvertaling, probleme met graffiti en ’n dwelmfonds

  • 0

Woedende klant steek restauranteienaar met ’n mes weens koronapas

Die eienaar van ’n restaurant in die Belgiese hoofstad Brussel is Saterdagaand deur ’n klant met ’n mes gesteek.

Die klant en die eienaar het in ’n woordewisseling betrokke geraak toe die klant nie sy COVID-19-toegangsbewys wou toon nie. Die slagoffer is in die hospitaal behandel en kort daarna ontslaan. Die dader is intussen aangekeer. Die afgelope naweek was dit die eerste keer dat inwoners van Brussel ’n toegangsbewys vir toegang tot die gasvryheidsbedryf moes toon. Hoewel daar berigte van ontevredenheid onder klante was, het sake meestal vlot verloop.

Marc Van Muylders van Horeca (gasvryheidsbedryf) Brussel was geskok oor die voorval, maar sê die meeste besoekers aan restaurante het hulle by die reëls gehou. “Er zijn sommigen die zich voor wat voor reden dan ook niet willen laten vaccineren, en ook het testen niet willen betalen. Die zullen zich toch moeten aanpassen want het Covid Safe Ticket biedt net een voordeel: Het zorgt ervoor dat je rustig iets kan gaan eten of drinken want je weet dat iedereen in de zaak ‘safe’ is,” benadruk Van Muylders.

Drie jeugdiges vas nadat man deur ’n trem doodgery is

In Den Haag is ’n man Maandagaand deur ’n trem doodgery. Daar word vermoed dat hy voor die aankomende trem ingestoot is. Die voorval het omstreeks nege-uur plaasgevind. Toe paramedici op die toneel opdaag, was die swaargewonde man reeds dood. Sy identiteit is nog onbekend. Verskillende getuies het aan die persburo Regio15 gemeld dat die slagoffer ’n bejaarde man is en dat hy deur drie jongmense voor die trem ingestoot is. Drie jeugdiges het hulle intussen aan die polisie oorgegee. ’n 15-jarige seun het hom dieselfde aand by die polisie aangemeld. Die volgende oggend het ’n ander 15-jarige seun en 18-jarige jongman dieselfde gedoen. Al drie jeugdiges is van Den Haag. Die drie bly in aanhouding en mag slegs met hulle advokaat kontak hê. Die trembestuurder het berading ontvang.

Belgiese polisie lê op 1,6 ton dwelms beslag

Die VRT berig meer as 300 lede van die Belgiese polisie het vroeg Maandagoggend in ’n misdaadoperasie op 23 verskillende plekke toegeslaan ná ’n omvattende ondersoek na dwelmmisdaad. Die klopjagte het hoofsaaklik in die omgewing van Luik plaasgevind. Die weermag is ingeroep om die polisie in die operasie by te staan. Altesaam 27 mense is in hegtenis geneem. Een van die verdagtes is al verskeie kere vantevore aangekeer. ’n Klopjag is onder andere op ’n kokaïenlaboratorium uitgevoer waartydens beslag gelê is op sowat 580 kg kokaïen met ’n geraamde straatwaarde van sowat €80 miljoen (sowat R136 miljoen). Daarbenewens het die polisie op 10 vuurwapens, waaronder vyf AK-47-aanvalsgewere, en €80 000 (sowat R136 000) kontant beslag gelê.

Afgaanse tolk vir Nederland in sy tuisland vermoor

Die NOS berig dat ’n Afgaanse tolk wat tydens ’n internasionale missie vir Nederlanders gewerk het, verlede Woensdag in Kaboel vermoor is. Die tolk was op die lys van mense wat uit Afganistan na Nederland gebring moes word. Na wat berig word, is dit die eerste tolk op die lys wat vermoor is. Volgens die tolk se familie het ’n verteenwoordiger van die Taliban by die man se huis opgedaag. “Ze vroegen om hem en toen hij bevestigde wie hij was, begonnen ze ineens met een AK-47 op hem te schieten. We zijn hem verloren.” Die man het nie regstreeks vir Nederland gewerk nie, maar wel vir ’n Europese polisiemissie, Eupol, waaraan Nederland deelgeneem het. Dit is ook hoe hy op die lys beland het van mense wat ontruim moet word.

Die voorval bevestig die vrees van verskeie tolke en Nederlanders wat aktief in Afganistan betrokke was. Dit word al hoe gevaarliker om in Afganistan te bly en al hoe moeiliker om vir die Taliban te skuil. Demissionêre minister van buitelandse sake, Ben Knapen, het met skok op die nuus gereageer, maar sê dit is nie moontlik om mense op die lys beter te beskerm nie. “We hebben daar geen ambassade, geen mensen op de grond. Wat dat betref staan we redelijk machteloos.”

Sokkerstadion stort ineen tydens wedstryd

’n Deel van die Goffertstadion in Nijmegen het Sondag ineengestort terwyl Vitesse-ondersteuners die oorwinning van hul span gevier het. Niemand is beseer nie. Die NOS berig dat die stadsraad ’n ondersoek na die voorval gelas het deur dieselfde maatskappy wat die stadion van AZ naby Haarlem ondersoek het waarvan die dak in 2019 ineengestort het. Die Goffertstadion bly voorlopig gesluit. “Wij willen eerst alles uitgezocht hebben en volledig veiligheid kunnen garanderen voor onze medewerkers, spelers en voor iedereen die als supporter nog eens de club gaat bezoeken,” sê Wilco van Schaik, hoofdirekteur van die sokkerspan NEC. Die volgende tuiswedstryd van die NEC in Nijmegen word vir 31 Oktober teen FC Groningen beplan, maar dit skyn onwaarskynlik dat dit op die Goffertstadion sal plaasvind. “Wij zijn nu al locaties aan het zoeken voor de eerstvolgende wedstrijd, want dat betekent dat wij moeten gaan verplaatsen, omdat die periode nu heel dichtbij komt,” sê Van Schaik.

Die Nederlandse Spoorweë sê graffitispuiters die stryd aan

Die NS bestee jaarliks sowat €10 miljoen (sowat R170 miljoen) aan die verwydering van graffiti op treine en die probleem raak net erger. Verlede jaar is sowat 142 000 m² op treine met graffiti bespuit – soveel as 20 rugbyvelde! Die bespuiting van treine kom veral saans voor wanneer treine op rangeerterreine geparkeer staan. In 2020 is ’n splinternuwe trein volledig silwer gespuit. Hoewel die treine agter heinings staan, slaag spuiters steeds daarin om die terreine binne te dring. Die NS het egter nou met nuwe maatreëls gekom om die probleem die hoof te bied, waaronder spesiale heinings, hommels en hittesensors om vandale op te spoor. Heinings sal voortaan met sensors toegerus word wat wagte in kennis sal stel sodra iemand daaroor probeer klim. Daar word ook spesiale drukmatte naby heinings aangebring wat ’n sein stuur wanneer mense daaroor loop. Dit aktiveer ook ’n hommel om ’n moontlike oortreder op te spoor. ’n Bestuurder by die NS, Senol Demirel, sê: “Het is wel lastig de vandalen voor te blijven.” Maar hy is vol verwagting dat nuwe tegnieke vandale sal afskrik.

Nuwe vertaling van die Bybel in Nederlands

Afrikaans het verlede jaar met die eerste nuwe Bybelvertaling sedert 1983 gespog, en vanjaar kom Nederlands aan die beurt. Vanjaar se vertaling is deur die Nederlands-Vlaamse Bybelgenootskap behartig en is die uiteinde van ’n proses wat sowat 30 jaar gelede begin het. In die jare negentig het byna alle kerkgenootskappe gevoel dit is tyd vir ’n nuwe vertaling in hedendaagse Nederlands. Dit het toe aanleiding gegee tot die Nuwe Bybelvertaling in 2004 deur die Nederlandse Bybelgenootskap. Dié vertaling het egter heelwat kritiek ontlok. Die vertalers het die kritiek ter harte geneem en aan ’n nuwe weergawe gewerk wat tot die jongste vertaling gelei het. Sowat 12 000 wysigings is aan die 2004-vertaling gemaak. Koning Willem-Alexander het verlede Woensdag die nuwe vertaling by die Grote Kerk in Den Haag in ontvangs geneem.

  • 0
Top