Riviere vol krokodiltrane

  • 0

Dié week is daar weer berig oor die toestand van Suid-Afrika se riviere. Dis ’n ou storie, die myne en fabrieke is al vir langer as ’n eeu besig om die land se water te besoedel. In die laaste paar dekades moet ’n mens by hierdie ekologiese misdade die gevolge van klimaatsverandering voeg, maar veral ook die ineenstorting van dienste in talle munisipaliteite.

Die jongste navorsing het my laat dink aan iets heeltemal anders, die reaksie van oudpresident Thabo Mbeki op ’n artikel van my in Business Day, waarin ek gesê het dat die meerderheid van Zimbabwiërs ontslae wou raak van die onlangs gestorwe oudpresident Robert Mugabe. Mbeki het by ’n begrafnisrede verklaar dat hy nog nooit so ’n Zimbabwiër teëgekom het nie.

Dat hy spesifiek op my gereageer het, is nie van belang nie, behalwe dat hy my ’n “wit joernalis” genoem het. Waarom nie afvallige anti-apartheidskrywer nie? Of revisionis oor die noodsaak om die vergrype van die geskiedenis te herstel? Albei sou verkeerd wees, maar tog beter as om so ’n laegraadse rassekaart te speel.

Gelukkig was daar genoeg ander mense om verby velkleur te kyk. Kort voor lank is radioprogramme gewy aan Zimbabwiërs wat hom skerp weerspreek het, en is hy deur die Sunday Times as Mampara van die Week aangewys. Mbeki het egter voet by stuk gehou en vertel hoe Mugabe leiding aan Suid-Afrika gegee het. Een so ’n les, het hy trots vertel, was om ná 1994 soos Mugabe te maak en wit staatsamptenare vir ’n paar jaar te laat aanbly, voor hulle heelhuids afgedank is.

Ons pluk nou die wrange vrugte van wat toekomstige historici waarskynlik iets soos die “Groot Suiwering” sal noem. Tydens die jaarlikse verslae van die ouditeur-generaal luister ons na dieselfde jammerlike verhaal van munisipaliteite wat skaars funksioneer, hele provinsies wat onder administrasie geplaas is en sentrale regeringsdepartemente wat verlam is deur “gebrek aan kapasiteit” en korrupsie. Om nie te praat van rampe soos Eskom en Transnet nie.

Fotobron (regs): Christian Sterk via Unsplash.com 

Mbeki het verwys na die “sonsondergangsklousule” wat uit die onderhandelinge voor 1994 voortgespruit het, en om regverdig te wees, is die Nasionale Party (NP) eweseer te blameer daarvoor as die ANC; die party het die indruk geskep dat hy meer bekommerd was oor pensioene as die land se toekoms. Dit was inderdaad die geval dat die NP nie veel van ’n plan of ’n visie vir die toekomstige SA gehad het nie.

Dit het die ANC-onderhandelaars toegelaat om kringe rondom hulle te hardloop, wat waarskynlik ’n bron was vir die gespot oor die wit politici in die demokratiese kamp. Die ander bronne was die hubris van die ANC, die darlings van die anti-apartheidswêreld, veral in Brittanje, wat toe op die drumpel van mag gestaan het; en ’n growwe rassisme wat die Suid-Afrikaanse administrasie beskou het as bevolk met Afrikaner-suprematiste wat nie gerehabiliteer kon word nie.

In sy fassinerende memoirs het Niël Barnard, die leidende logistikus van die onderhandelinge, geskryf hoe ANC-afgevaardigdes met die Afrikaanse aksente van hul teenstanders gespot het (later sou veral Engelssprekendes kla oor ANC-aksente). Hierdie rassisme en die dekade-lange afwesigheid van die top ANC-onderhandelaars uit SA, het dit vir hulle moeilik gemaak om die grootskeepse verandering wat besig was om in veral die Afrikanerdom plaas te vind, raak te sien en na waarde te skat.

Een persoon wat volgens Barnard egter ’n ding sien kom het, was Trevor Manuel, wat probeer waarsku het dat “die politieke veranderinge in die land gesien moet word as ’n normale ontwikkeling en nie as ’n ontwrigtende ingryping nie”. Maar die siening van Mac Maharaj het die oorhand gekry, soos aangehaal deur Barnard: “Die ANC is bewus van ’n reservoir van bekwame mense wat as toekomstige staatsamptenare kan dien.”

Ons weet nou dat hierdie “reservoir” pure bluf was. Slegs die tuislande kon opgeleide amptenare met enige moontlike ervaring voorsien het, en in hierdie absurde NP-maaksels was dit die ene korrupsie vir skelms van alle kleure en gelowe, waarskynlik nog erger as dié van die Zuma-era.

Die sentrale en provinsiale regerings was egter gevul met hoogs gekwalifiseerde mense wat stilweg hul eie “Damaskus-ervarings” ondergaan het. Hulle Calvinistiese skuldkomplekse wat hulle sou aanspoor om vir apartheid te probeer vergoed, en hul Protestantse werksetiek het van hulle die ideale soort amptenaar gemaak om die rampe van die NP-regering reg te stel. 

Een van die tekortkominge van die onderhandelinge, skryf Barnard, was dat daar eers vanaf 1993 behoorlik aandag geskenk is aan die staatsdiens. Daar was nogtans komplekse planne vir wit amptenare om ’n mentorskap te beklee – maar die ANC het toe reeds besluit op die ontplooiing van kaders. Barnard het opgemerk oor al die mooi planne: “Hiervan het baie min gekom. Ná die verkiesing is verskeie departementshoofde vervang en ander is soos deurmatte behandel. Dit het die grondslag gelê vir die terugkeer van apartheid in die vorm van regstellende aksie.”

In die volgende tien jaar het ek, soos baie ander, aanskou en gehoor hoe familielede, vriende en kennisse die land verlaat in ’n oorwegend wit uittog, maar in die laaste jare met ’n hele paar swartmense ook by. Na raming het bykans ’n miljoen mense aan hierdie wit uittog deelgeneem.

Ouer mense, hoogs bekwame ingenieurs, wetenskaplikes en talle onderwysers het pakkette gevat en dan tuis gesit, diep gefrustreerd oor die feit dat hulle nie die werk waarvoor hulle lief was, kon doen nie. Of by konsultasiefirmas aangesluit en hulle gehelp om buitensporige oorfakturering te bedryf. 

Sekerlik is dit so, dat sommige van die mense wat vertrek het, nie onder ’n swart regering wou werk nie, maar die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes was en is steeds verbind daartoe om ’n gemeenskaplike toekoms uit te werk, selfs al sal hulle nooit vir die ANC stem nie, en selfs wanneer hulle onbekeerbare suprematiste bly. 

Een van die ongevalle was die werk wat deur die talle taalkundiges in diens van die apartheidsregering gedoen is. Natuurlik is hulle werk besmet deur die verdeel-en-heers-strategie wat die tuislande onderlê het, maar die meeste van hierdie akademici het hulle lewens aan inheemse tale gewy uit liefde vir hul vak. Die anglosentriese ANC het hulle werk drasties afgeskaal.

Een resultaat is ons erg onderpresterende onderwysstelsel, wat baie kenners toeskryf aan onderrig wat nie op die moedertaal gefokus is nie. Dat daar min begrip bestaan vir die verwikkeldheid en ingewikkeldheid van moedertaalonderrig in die ANC, blyk oorvloedig uit die veldtogte van mense soos Panyazi Lesufi teen Afrikaans.

Van Mbeki se gespog oor die manipulering van wit staatsamptenare deur die ANC tot Lesufi se demonstrasies van onbevoegdheid vir sy werk, en die bykans onherstelbare agteruitgang van so baie munisipaliteite, is daar ’n reguit lyn van hubris en triomfantisme wat besig is om ontwikkeling in Suid-Afrika tot stilstand te rem.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top