Terwyl Suid-Afrikaners nuuskierig wag om te sien hoe die nuwe RNE gaan lyk wanneer president Cyril Ramaphosa sy kabinet binnekort aankondig, het die toutrekkery tussen die twee grootste partye in die RNE in alle erns begin om hulle spiere te wys.
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, en die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, het koppe begin stamp oor die interpretasie van die partye se ooreenkoms om ’n RNE te vorm, nadat die ink op die ondertekende ooreenkoms skaars droog was.
In die SAUK se program Face the nation die afgelope Dinsdag het Mbalula en Zille oor verskeie klousules van die ooreenkoms verskil.
Volgens Zille is die ooreenkoms duidelik dat geeneen van die partye wat die ooreenkoms onderteken het, besluite mag neem wat die RNE raak sonder om die ander partye wat dit ook onderteken het, daarin te ken nie.
Dit is waarom sy ontevrede was dat die ANC aangekondig het dat die Patriotic Alliance (PA) van Gayton McKenzie ook deel geword het van die RNE sonder dat die DA daarin geken is.
Die aanbieder van Face the nation, Clement Manyathela, het na afloop van die program op X gesê hy begin wonder of die ANC die dokument wat hulle onderteken het om ’n RNE te vorm, verstaan. Hy meen die ANC gaan sterk deur die DA gerem word in hulle besluite.
Honestly. I am beginning to wonder if the ANC understands the GNU document they signed. They are going to be so hamstrung by the DA.
WATCH this interview with Fikile Mbalula and Helen Zille on my show #FaceTheNation on @SABCNews https://t.co/xBmyYcpcqO— Clement Manyathela (@TheRealClementM) June 18, 2024
Sommige politieke waarnemers meen ook die ANC het homself met ’n slap riem laat vang deur ’n ooreenkoms inderhaas op die nippertjie te teken voor die aanvang van verlede Vrydag se Nasionale Vergadering wat die president moes verkies. Die DA was vasbeslote dat hulle nie vir Ramaphosa as president sou stem indien die ooreenkoms nie voor die presidentsverkiesing onderteken word nie.
Die ANC word nou uit veral linkse kringe daarvan beskuldig dat die DA die stert in die RNE gaan word wat die hond swaai. Dit is omdat geen kabinetsbeluit ingevolge die ooreenkoms deurgevoer kan word as daar nie ’n 60 persent-meerderheid ten gunste daarvan is in gevalle waar daar nie konsensus bereik kan word nie. Sonder die DA se steun is dit onmoontlik om daardie 60 persent-meerderheid in die kabinet te kry.
Die politieke ontleder Sipho Seepe het aan The Citizen gesê die ANC het nie ’n sterk genoeg onderhandelingspan gehad om te verseker dat hulle kiesers se belange eerste gestel word in die RNE nie.
Volgens Seepe het die ANC ’n gebrek aan intellektuele diepte, daarom begryp hulle nie die besonderhede van die ooreenkoms wat hulle met die DA onderteken het nie.
Die ANC se hoofsweep, Mdumiseni Ntuli, hou egter vol die ANC is die hoofleier van die RNE. Ntuli het aan Newzroom Afrika gesê hoewel die DA die eerste party was wat die verklaring van voorneme onderteken het, het dit nie die party tot ’n stigterslid van die RNE verhef nie.
“Daar is hierdie begeerte van hul kant om hulself te projekteer as die leierskap van die RNE, wat nie waar is nie,” het Ntuli gesê. Volgens hom tree die klousules ingevolge waarvan al die partye gekonsulteer moet word, eers in werking wanneer die RNE formeel in werking tree. Daarom het hulle volgens hom nie nodig gehad om met die DA te konsulteer toe die PA aangedui het hulle wil ook deel word van die RNE nie.
Die politieke ontleder Lesiba Teffo het op SABC gesê partye wat deel van die RNE vorm, moet saamwerk in die belang van die land.
“Moet nooit die vals aanname maak dat omdat dit ’n regering van nasionale eenheid is, daar nie klipperige en hobbelrige kontoere langs die pad sal wees nie. Daar sál wees, maar demokrasie floreer hoofsaaklik as gevolg van ’n sterk opposisie.”
Hy sê daar bestaan ’n baie sterk anti-DA sentiment en dat dit eenvoudig nie kan werk nie, want die DA word as wit beskou. Volgens Teffo hang dit egter van die deelnemende partye af of dit sal werk of nie.
Teffo sê daar sal kompromieë wees en hier en daar moeilikhede en probleme, maar partye moet daartoe verbind bly om saam te werk.