Suid-Afrikaners moet elke jaar miljoene rand ekstra opdok om die bykomende ministers in die RNE en hulle personeel se salarisse en byvoordele te betaal. Oor die huidige termyn van die parlement sal dit ’n bykomende R1 miljard oortref.
Hierdie syfers het aan die lig gekom in antwoord op ’n vraag wat ActionSA se parlementêre leier, Athol Trollip, in die parlement gevra het.
In antwoord op ActionSA se vraag het die minister van finansies onthul dat die salarisse, personeel en verwante byvoordele vir nuut aangestelde ministers en adjunkministers alleen R239 miljoen beloop, insluitend R800 000 per ministerie vir luukse voertuie.
ActionSA sê in ’n verklaring die bykomende las waarvoor die belastingbetalers moet opdok, is ’n verbysterende openbaring wat die verregaande finansiële las beklemtoon wat op reeds oorbelaste Suid-Afrikaners geplaas word.
🤑 The cost of the expanded GNU Cabinet revealed: An additional R239 million yearly, cumulatively exceeding R1 billion over the current term!
We reiterate our call for a lean, effective cabinet of no more than 20 Ministers, with all Deputy Minister positions abolished. pic.twitter.com/A09ClkR7te
— ActionSA (@Action4SA) December 11, 2024
Trollip sê terwyl besuinigingsmaatreëls kritieke befondsing vir belangrike programme en sektore verminder het, word daar opvallend versuim om dit na die politieke establishment uit te brei.
Hy sê in plaas daarvan moet die belastingbetalers nou opdok vir die finansiering van “’n toenemend opgeblase regering” waar die kabinet van 30 tot 32 ministers en van 36 tot 43 adjunkministers uitgebrei is.
“In die lig van ’n stagnante ekonomie, waar die BBP in die derde kwartaal met 0,3% gekrimp het en jaarlikse groei teen ’n skamele 0,3% verswak, en met ’n aanpassingsbegroting wat ’n kommerwekkende wanbalans van hierdie regering se prioriteite weerspieël, is dit niks minder nie as skandelik dat, in plaas daarvan om verkwistende uitgawes op regeringsbybetalings te besnoei, die RNE gekies het om die toekenning vir luukse byvoordele te verhoog,” sê Trollip in sy verklaring.
Hy sê ministers is staatsamptenare, nie koninklikes nie, en moet so lewe. “Die stralerjakker-RNE se aandrang op verkwistende besteding is ’n klap in die gesig van elke burger wat gedwing word om hul gordel styf te trek om elke maand deur te kom.”
ActionSA het sy eis herhaal vir ’n skraal, doeltreffende kabinet van nie meer as 20 ministers nie, met alle adjunkministersposte afgeskaf en ministeriële byvoordele drasties ingekort. Die party sê dit kan nie wees dat Suid-Afrikaners die las moet dra om te betaal vir nuwe ministeries en hul adjunkte wat uitsluitlik geskep is om politieke ego’s en alliansies te bevredig nie.
Daar is vroeër vanjaar, ná die instelling van die RNE, berig Suid-Afrika se nuwe kabinet is groter as dié van Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Rusland, en een van die grootstes in die wêreld.
Ramaphosa het die kabinet op 30 Junie 2024 aangekondig nadat hy die RNE gevorm het.
Wat uitgestaan het van sy nuwe nasionale uitvoerende gesag, afgesien van die insluiting van talle RNE-vennote, is die groot aantal ministers en adjunkministers.
Ramaphosa het twee ministers en sewe adjunkministers bygevoeg, wat die nasionale uitvoerende gesag tot 75 verhoog het. Dit is die grootste wat die land nog gehad het.
Hy het voorheen belowe om die aantal portefeuljes in die nasionale uitvoerende gesag, en dus die aantal ministers en adjunkministers, te verminder.
Die groter kabinet is ook in teenstelling met die DA se 2029-visie, wat ’n nuwe opset vir Suid-Afrika se uitvoerende gesag met slegs 15 ministeries bepleit het.
Marius Roodt, ’n ontleder by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), het Ramaphosa se kabinet na die verkiesing ook as opgeblase beskryf en gesê dit moet na tien portefeuljes verminder word wat op net een ding moet fokus en dit is ekonomiese groei.
Ramaphosa het die grootte van sy kabinet en die presidensie vroeër in die parlement verdedig en gesê dit is om voorsiening vir inklusiwiteit te maak.
Hy het in die Nasionale Vergadering gesê daar moes verseker word dat inklusiwiteit sowel as balans bereik word, veral noudat daar ’n regering van nasionale eenheid is wat ’n ongekende ontwikkeling in die land se geskiedenis is.