Rokers betoog teen slakkepas op tabakverbod

  • 0

Rokers het verlede Woensdag op verskeie plekke in die land betoog teen die verbod op die verkoop van tabak tydens die grendeltyd deur op ’n slakkepas met hul motors in die verkeer te ry.

Een van die organiseerders, Bev Maclean, het op sosiale media gesê die betoging is nie net ter wille van die miljoene Suid-Afrikaners wat rook nie. Sy sê dit was ook vir vriende van rokers wat voel hulle basiese regte word ontneem en vir die duisende werkers op tabakplase en in tabakfabrieke wat as gevolg daarvan nie kan werk nie.

Lede van die #SmokersUniteSA-beweging het gesê hulle wou vreedsaam regoor die land betoog deur stadig in konvooie op bepaalde roetes te ry.

Die betogers is gevra om almal oranje maskers te dra sodat hulle boodskap sigbaar uitgedra kan word.

In Port Elizabeth het sowat 50 rokers deelgeneem aan ’n betoging buite die stadsaal om ’n memorandum vol handtekeninge teen die verbod op  tabakverkope aan die nasionale minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma te stuur. Duisende handtekeninge wat vra vir die opheffing van die verbod is glo landwyd elektronies ingesamel. Dit sal aan die Minister gestuur word.

Die elektroniese koerant HeraldLIVE berig een van die organiseerders, Jesmique Jacobs, sê mense word emosioneel deur die verbod geraak, asook fisiek en geestelik.

Die betogers sê hulle het besluit om oranje maskers te dra want dit voel asof hulle in die tronk is en dat hulle stemme nie gehoor word nie.

“Ons is hier vir die mense in die tabakbedryf wat hulle werk gaan verloor. Een van hulle is my pa. Waarvoor het Nelson Mandela geveg as ons nie ons regte kan kies nie,” het Jacobs volgens HeraldLIVE gesê.

Verskeie van die betogende rokers het klem gelê op die geld wat die regering vermoedelik aan sondebelasting verloor as gevolg van die verbod op tabakverkope. Hulle sê daar kon twee volledig-toegeruste hospitale met ventilators ingerig word met die geld wat die regering op dié manier verloor het.

Van die rokers het stoom afgeblaas op sosiale media omdat die betoging in die week gedurende werkstyd plaasgevind het en dit hulle verhoed het om saam te betoog.

In Durban was die opkoms maar flou en skaars ’n dosyn rokers het vroeg (verlede) Woensdagoggend opgedaag om hul misnoeë uit te spreek omdat hulle nie ’n dampie kan slaan gedurende die grendeltyd nie.

Die meeste rokers vestig hulle hoop op die volgende hofsaak waar British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) hoop om die verbod op die verkoop van tabak tydens vlak 3-inperking ongrondwetlik verklaar te kry. Die saak sou reeds verlede maand aangehoor word, maar is tot groot frustrasie van die rokers tot Augustus uitgestel.

In die vorige saak wat deur die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) aanhangig gemaak is, het ’n volbank regters beslis Dlamini-Zuma het ’n geldige rede gehad om die verbod in te stel. Fita se aansoek is met koste van die hand gewys.

Volgens Netwerk24 sal “Fita se aansoek om verlof tot appèl ... op 15 Julie in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top