Die foto van Duiwelspiek, geneem vanaf die verste kant van die Rondebosch Common, bevestig net weer dat die berg een van die area se mees indrukwekkende bakens is. Jy kan dit sonder twyfel selfs die area se bewaker noem. Kaapstad se berge is 500 miljoen jaar gelede geplooi en troon vandag meer as 1000 meter bo die stad uit. Dit is een van die stad se rykste natuurlike skatte en spog met ’n verskeidenheid fynbos, ongeëwenaarde staproetes en ongerepte natuurskoon. Op die foto sien jy die ongelooflike geomorfologiese kenmerke van die dramatiese rotswande van die bergreeks, sowel as van die steil hange en klipskeure. Geomorfoloë skryf hierdie redelik ongewone vorme toe aan die verweringsprosesse van die verskeie rotssoorte. Stappers wat Duiwelspiek uitklim neem gewoonlik die roete aan die westekant, wat waarskynlik die maklikste is, maar dit word nie aanbeveel tydens koue of nat weersomstandighede nie. Hier is nog inligting.
Vanwaar die naam Duiwelspiek? Volgens die legende is Van Hunks, ’n afgetrede Nederlandse seerower, deur sy vrou verbied om sy pyp in die huis te rook, en het hom elke keer na die hange van Duiwelspiek gewend as hy wou rook. Op ’n dag het daar skielik ’n ander pyproker opgedaag en die twee mans daag mekaar toe uit met ’n hewige rokery. Hulle het gerook en gerook totdat die rookdampe ’n wolk gevorm het. Toe die wolk uiteindelik verdwyn, is albei mans weg. Dit was die duiwel self wat vir Van Hunks in die versoeking gebring het en daartoe gelei het dat die arme Nederlandse seerower sy siel en sy lewe verloor het. Hier is nog inligting oor die verhaal.
Een van Afrika se vooraanstaande tersiêre instellings, die Universiteit van Kaapstad, is teen die hange van Duiwelspiek geleë. Dié openbare navorsingsuniversiteit is reeds in 1829 as die Suid-Afrikaanse Kollege gestig en is die oudste hoëronderwysinstelling in Suid-Afrika. Dit het presies 100 jaar gelede, in 1918, volle universiteitstatus bereik. Daar is op die oomblik bykans 30 000 ingeskrewe studente, wat dit een van die grootste universiteite in Afrika maak.
Teen die voet van Duiwelspiek is Rondebosch geleë – voorheen ’n oorwegend Engelssprekende voorstad wat tydens die apartheidsjare ’n sogenaamde "slegs blankes"-gebied was. Dit het sedertdien baie verander en is nou ’n kosmopolitiese voorstad. Baie studente van regoor Suid-Afrika en Afrika, sowel as internasionale uitruilstudente, woon hier in studentehuise of "digs". Die naam Rondebosch kom oorspronklik van die sirkelvormige doringboomplantasie (ronde doorn bosje) wat ’n soort kraal gevorm het om ’n boer se skape en bokke binne te hou. Hierdie "heining" het uiteindelik weggeval, maar vandag is Rondebosch ’n volwaardige Kaapse voorstad wat geleë is langs die spoorlyn wat tot by Simonstad (die vlootbasis in Valsbaai) loop.
As jy die belangrikste eienskappe van Rondebosch in ’n neutedop sou opsom, is dit studentelewe, goeie eetplekke (insluitend wegneemeetplekke) en ’n bietjie geskiedenis.
Rondebosch se openbare biblioteek (bo) spog vandag met ’n hoogaangeskrewe sirkulerende biblioteek en jy kan aanlynsoektogte doen in die databasis van die versameling wat beskikbaar is.
Wanneer jy by die gebou inloop, sal enige bibliofiel gou agterkom daar is iets anders omtrent hierdie biblioteek. Dit was lank gelede Rondebosch se stadsaal waar alle openbare vergaderings gehou is. Die hoofsaal is duidelik sigbaar, asook die verhoog en daar is twee vertrekke aan weerskante, ’n tweede verdieping (waar die kinderboeke gehou word) en ’n balkon (sigbaar in die foto). George Murray Alexander was die argitek en hy het die projek in 1899, 20 jaar na sy aankoms in Suid-Afrika, voltooi. Na aanleiding van ’n mediese toestand moes Alexander Skotland se koue weerstoestande verruil vir die Kaap se matige klimaat.
Die gebou se oorspronklike façade is uit pietra serena (grys sandsteen) gebou en daarna met dowwe beige verf geverf. Die hoë kiaatdeure hang nog en daar is steeds kiaathouttrappe. ’n Gebrandskilderde venster bokant die deure by die kolonnade beeld Rondebosch se munisipale wapen uit. Plaaslike skole het destyds toneelstukke daar opgevoer en danse is ook daar gehou. Gelukkig is die gebou steeds vandag in gebruik as biblioteek, en oorleef dit steeds die huidige modegier om biblioteke in hulpbronsentrums te omskep. (Min mense weet van die boekuitverkopings aan die einde van die maand – doen navraag by die hulptoonbank of skakel +27 21 685 2584.)
Nog een van Rondebosch se skatte is die Rondebosch Commons, ’n reuse oop stuk grond wat ongeveer 40 hektaar groot is, gereserveer vir openbare gebruik. Inwoners en hul honde oefen gereeld hier en die area spog met ’n besonderse verskeidenheid fynbos, struike, bosse, gras en natuurlik Kaapse Vlakte-sandfynbos wat net in die Kaap voorkom. Dit is wel hartseer dat daar nog net ’n paar stroke Renosterveld en alleenstaande moeraslande voorkom terwyl dit die gasheer is vir honderde plantspesies, waarvan nege op die rooilys van bedreigde spesies is. Al is die grond in die middel van die stadspreiding, is daar nie minder nie as 110 voëlspesies! In die foto hieronder is die Commons en in die verte is ’n groot gebou net-net sigbaar – dit is die Rooikruis Kinderhospitaal, een van die wêreld se vernaamste kinderhospitale.
Ander belangrike monumente in Rondebosch (aan Mowbray se kant) is die gedenksteen ter ere van die bemanning van die SS Mendi, van wie die meeste in ’n tragiese ongeluk gesterf het. Die SS Mendi-troepeskip het in 1917 en route na La Havre uit Tafelbaai weggevaar met ’n bemanning van 805 lede van die Native Labour Corps, vyf offisiere en 17 onderoffisiere. Die troepe sou tydens die Eerste Wêreldoorlog in ondersteunende rolle op die oorlogsvelde in Frankryk en België krygsdiens verrig. Die bemanning het na die skip se dodelike botsing geweldige dapperheid openbaar. Eerwaarde Isaac Wauchope Dyobha was deel van die bemanning en terwyl die skip besig was om te sink, het hy ’n versoek aan die bemanning nog op die skip gedoen om te sing en dans, terwyl die oorgrote meerderheid van die bemanning deur ysige water verswelg is en uiteindelik aan hipotermie gesterf het. Diegene wat gesterf het, se name is op die gedenkplaat gegraveer (sien die foto hieronder).
Een van Rondebosch se oudste bakens is die St Paul's Anglikaanse Kerk wat net bokant die hoofstraat geleë is. Dit dateer terug na ongeveer 180 jaar en het tot vandag toe oorleef sonder enige formele befondsing – ’n ware daad van geloof. Langsaan is ’n begraafplaas wat op sigself ’n gedenkteken en monument is van mense se ongelooflike stories wat kom oor ’n lang tyd.
’n Redelik eienaardige monument wat sigbaar is wanneer jy op die M3-hoofweg vanaf die middestad in die rigting van die suidelike voorstede ry, is Mostert se Meul in Mowbray, een van Rondebosch se aangrensende voorstede. Die meul is bekend as die enigste werkende windmeul van sy soort (nie die moderne meule wat krag opwek nie) in sub-Sahara Afrika. Aangesien die wind in Kaapstad nog altyd sterk kan waai, het die Here Sewentien in 1717 bakstene en ander relevante materiaal saam met messelaars en timmermanne gestuur met die opdrag om ’n stewiger struktuur te bou wat meer bestand is teen stormweer, maar nog steeds effektief as ’n windmeul kan werk om koring tot broodmeel te maal. Vandag is Mostert se Meul ’n terugblik op die verlede, toe sulke strukture waardevolle rolle in die ekonomie vervul het.
Aangesien Rondebosch so ’n groot studentebevolking het, is daar ’n groot verskeidenheid eetplekke te kus en te keur, soos McDonald's1, die "classic, long-running fast food chain known for its burgers, fries and shakes". Daar is ook ’n Steers2, bekend as die "long-running counter-serve chain known for flame grilled beef burgers and thick, handmade chips". Steers is oorkant die pad van McDonalds af.
Rondebosch se hoofstraat is vol allerhande interessante plekke en winkels, en daar is ook ’n Vida e Caffè3 vir espresso-fundi’s.
Marcels Gourmet Frozen Yoghurt4 in Hoofstraat is ook ’n groot gunsteling onder studente.
Bo: Net om die draai van Marcels af, agter Woolworths en Clicks, is daar twee interessante eetplekke – Maharajah5 bedien vegetariese disse, veral kerrie, en Makimono6 bedien Sjinese disse. Die foto van die palmbome is by Fountain Place geneem, waar Maharajah en Makimono albei geleë is. Dit is net ’n paar meter van Hoofstraat se verkeersligte af.
Vir kieskeurige restaurantgangers is daar egter verskeie ander restaurante, soos Cargills7 (’n uitstekende Franse restaurant) en Hussar Grill8. Die storie van Hussars begin eertyds toe die Hongaarse kavallerie op eskapades gegaan het om die Hongaarse grense te beskerm. Die storie van Rondebosch se Hussar Grill begin in 1964, toe dit oopgemaak het. Dis steeds goed aan die gang en vandag is daar verskeie takke in en om Kaapstad, soos in Mouille Punt en Kampsbaai. Daar is ook een in Stellenbosch, met verskeie ander wat in die toekoms in die Wes-Kaap oopgemaak gaan word. Daar’s ook gerugte dat dit selfs gaan uitbrei na die buiteland.
Die ingang van Hussar Grill in Hoofstraat, Rondebosch. Besoek hulle webtuiste by http://www.hussargrill.co.za/find-us/western-cape/rondebosch/.
Die details op die tafels geniet steeds spesiale aandag, en hulle gebruik steeds outydse tafeldoeke en eetgerei. Glase word nog met die hand blink gevryf.
By Hussar is aanbieding van kardinale belang – die bestuur sien vooraf die disse voordat dit bedien word.
Hussar het ’n outydse gevoel – op die rakke staan daar boeke langs die wyn, ideaal vir jou om tussen gange deur te blaai.
Die tafeldoeke, goed-ingerigte vertrekke en aantreklike dekor is kenmerkend aan Hussar Grill. Daar het nie veel verander sedert die opening in 1964 nie.
Hussar bied ’n groot verskeidenheid wyne, en wyn per glas is ook beskikbaar.
Die tafels word stylvol gedek en afgerond met blinkgevryfde glase.
Die ervare bestuurder, Thomas Grimley. Vriendelik, ingelig, die leisels stewig in sy hande.
Des Xeketwana bedien heerlike mengeldrankies en verskaf opgewekte geselskap by die kroeg.
Die geroosterde-patat-en-appel-sop is die gevolg van baie intensiewe eksperimente deur sjef en bestuurder, Thomas Grimly. Sy ervaring in die restaurantbedryf sluit onder andere in dat hy aan die hoof van verskeie besige en befaamde restaurante op die Kaapse skiereiland gestaan het. Ek en hy het saam aan die dis geproe en bietjie van dié en bietjie van daai bygevoeg. Ek het uitgevind dat my niggie, Geraldine Munnik von Dombois van Cologne in Duitsland, ’n soortgelyke dis gemaak het en ’n bietjie marsala bygevoeg het, terwyl Thomas paprika gebruik het (ook ’n bietjie gemmer, sout en witwyn). Ek het op Facebook vertel van hierdie verruklike konkoksie en hoe dit ’n mens se eetlus bevredig. Ek het baie terugvoer gekry, alles baie positief en met oënskynlike goedkeuring.
Hussar is egter bekend vir hul groot verskeidenheid vleis en bedien ook steeds wildsvleis.
Vir ’n voorgereg (tapas) is daar "bitterballen" (balletjies fyngemaalde kalfsvleis met deeg bedek en diepgebraai, wat jy dan met jou vingers in mayonnaise doop). Daarmee saam is ’n kraakvars witwyn baie lekker; die ideale manier om jou aand by Hussar af te skop. Dit is nie die soort restaurant waar jy vinnige ietsie eet nie, tensy jy natuurlik na ete op pad is na ’n vertoning langsaan by die Baxter-teater.
Die verskeidenheid disse (vegetaries, rooivleis, hoender) maak voorsiening vir alle restaurantgangers. Hier is ’n hoender-roulade as ’n alternatief vir rooivleis.
Rondebosch het baie om te bied: besienswaardighede, ’n lekker atmosfeer en goeie kos. Dit is ’n lekker plek vir beide toeriste en inwoners!
- Alle foto's deur die skrywer
Eindnotas
1 McDonald's
Adres: Hoofstraat 51
Telefoonnommer: +27 86 000 0040
Handelsure: 24 uur per dag oop
2 Steers
Adres: Hoofstraat 26
Telefoonnommer: +27 21 686 6961
Handelsure: Oop van 10:30 tot 22:00, maar van Woensdae tot Saterdae tot 01:00.
3 Vida e Caffè
Telefoonnommer: +27 21 686 2439
Handelsure: oop van 07:00 tot 18:00, maar maak op Saterdae 17:00 toe en Sondae 15:00.
4 Marcel's Gourmet Frozen Yoghurt
Telefoonnommer: +27 21 685 1396.
Handelsure: oop van 09:30 tot 22:30, maar maak op Saterdae en Sondae 23:00 toe.
5 Maharajah
Adres: Fountain Place 6
Telefoonnommer: +27 21 685 7891
Handelsure: 10:00 tot 21:00, toe op Sondae.
6 Makimono
Adres: Rondebosch Court 3, Hoofstraat 45
Telefoonnommer +27 21 658 1888
Handelsure: 11:30 tot 22:30, Sondae 16:40 tot 22:00.
7 Lees ’n resensie by https://www.zomato.com/capetown/cargills-rondebosch/menu.
8 Hussar Grill
Adres: Hoofstraat 10
Telefoonnommer: +27 21 689 9516
Handelsure: 12:00 tot 23:00 (Maandae tot Vrydae); 18:00 tot 22:00 (Saterdae en Sondae)