Meer as 33 jaar gelede, op 14 Februarie 1989, het die Irannese geestelike en politieke leier Khomeini ’n sogenaamde fatwa oor die Britse skrywer Salman Rushdie uitgespreek.
Hiermee is gelowige Moslems wêreldwyd tot ’n heilige missie opgeroep om Rushdie om die lewe te bring. Die rede? Sy roman The Satanic verses, wat kort daarvoor gepubliseer is, is deur radikale Moslems as godslasterlik beskou.
Met die titel van hierdie roman verwys Rushdie na ’n ou verhaal waarin daar aan die profeet Mohammed, benewens die bekende teks van die Koran, ook ’n paar ander verse gedikteer is, verse wat later deur Mohammed verwerp is. Hierdie verse sou nie deur die aartsengel Gabriël gedikteer gewees het nie, maar deur die duiwel, wat daarmee die inwoners van Mekka wou inspireer om voort te gaan om drie heidense godinne te aanbid. In The Satanic verses skryf Rushdie hierdie verse – die sogenaamde duiwelsverse – wel aan Gabriël toe. In die oë van Khomeini en miljoene Moslems het Rushdie hiermee te ver gegaan.
Alhoewel die destydse Irannese president Khatami in 1998 verklaar het dat die fatwa wat oor Rushdie uitgespreek was, verval het, is dit in werklikheid nooit amptelik herroep nie. Die skrywer kon nie anders as om homself swaar te laat beveilig nie. In 1989, toe sy boek al in baie Islamitiese lande verbode was en ook in die openbaar verbrand is, het hy ternouernood aan ’n bomaanslag ontkom. In 2010 is hy saam met ’n aantal ander Islam-kritici op al-Qaeda se dodelys geplaas. Tog het Rushdie die afgelope jare vermoed dat die storm van verontwaardiging en haat jeens hom uiteindelik gaan lê het. Die onlangse aanslag op sy lewe het ongelukkig egter die teendeel bewys.
Onderliggend aan die konflik tussen Rushdie en ’n deel van die Islamitiese wêreld is die reg op vrye verbeelding wat hy nog altyd vurig verdedig het. Volgens hom (tereg ook) moet literêre verbeelding altyd grense opsoek en verkieslik ook grense oorskry: die grens tussen “normale” werklikheid en ongeremde fantasie, die grens tussen konvensionaliteit aan die een kant en spot en satire aan die ander kant, die grens tussen ’n bepaalde en vasgelegde identiteit versus bewegingsvryheid van die migrant en wêreldburger wat oral maar ook nêrens tuis is nie.
Rushdie self is ’n wêreldburger. Dit het begin toe hy op ’n jong ouderdom van sy geboortestad Bombaai na Engeland verhuis het om te gaan studeer, eers aan die beroemde skool van Rugby, daarna aan de Universiteit van Cambridge. Hierna sou hy nooit weer in Indië gaan woon nie. Die herinneringe aan sy land van herkoms word deur hom verwerk in sy Bookerprys-bekroonde Midnight children (1981), waarskynlik die beste roman wat nog ooit oor hierdie steeds aktuele migrasietema geskryf is. Saleem Sinai (die hoofkarakter in hierdie roman) is, net soos Rushdie, in 1947 gebore, maar anders as Rushdie, om middernag op 15 Augustus, die oomblik waarop Brits-Indië onafhanklik word en byna meteen in twee state verdeel word: Indië en Pakistan. Dit is die begin van groot politieke en religieuse spanning wat uitloop op massale geweld tussen Hindoes en Moslems en ’n enorme vlugtelingkrisis waarby die familie van Saleem ook betrokke is. Danksy die telepatiese vermoë wat hy en die ander Indiese middernagkinders van 15 September 1947 as geboortegawe ontvang het, weet Saleem presies wat alles nog in Indië gaan gebeur. So weet hy byvoorbeeld dat eerste minister Indira Gandhi en haar seun Sanjay in 1976 hulself, totaal uit eiebelang, skuldig sou maak aan magsmisbruik. Boonop kry Sanjay ’n uitspraak in die mond gelê wat daarop neerkom dat sy vader gesterf het omdat Indira hom nie goed versorg het nie. Hiervan was die nare gevolge vir Rushdie dat hy deur Indira Gandhi voor die hof gedaag is. Rushdie het ingewillig om die gewraakte sin te verwyder, soos hy ook kort na die fatwa aangekondig het dat hy sou terugkeer na Islam. Later blyk dit dat hy dit gesê het slegs om die krisis te ontlont.
Die ophef oor The Satanic verses stimuleer Rushdie om Haroun and the Sea of Stories (1990) te skryf – ’n sprokiesagtige boek vir sy elfjarige seun Zafar. Net soos Midnight children gaan dit oor die situasie in Indië, maar sluit ook aan by die fatwa wat hom as mens, maar veral hom as skrywer, monddood probeer maak. Meer as ooit tevore gebruik Rushdie die verbeelding as wapen teen die inperking van die vryheid van spraak, onder meer deur hom in ’n vernuftige taalspel uit te leef.
In Quichot (2019) bring Rushdie ’n saluut aan Don Quixote van La Mancha, die vier eeue oue meesterwerk van Cervantes wat die weg vir die moderne roman gebaan het. Hierdie roman gaan oor die geskiedenis van ’n tragikomiese held wat ’n stryd teen wanpraktyke en ongeregtigheid voer. Rushdie se satiriese herskrywing beklemtoon prominente hedendaagse kwessies: die lot van vlugtelinge, migrasie, vervreemding en ontheemding, wantroue en haat jeens “die ander” en alle politieke en sosiale gevolge daarvan. In dié fantasieryke ridder word Rushdie se ideaalbeeld van skrywerskap vergestalt.
Die skrywer het so pas ’n nuwe roman voltooi – Victory City verskyn in Februarie.
Buro: MvH