Rusland se minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov, het Maandag op ’n amptelike werkbesoek in Suid-Afrika aangekom. Dit geskied te midde van skerp kritiek die afgelope maande oor Suid-Afrika se lou gevoel oor die oorlog in Oekraïne wat deur Rusland begin is.
Die Russiese nuusagentskap Tass berig Lavrov se vliegtuig het by die Suid-Afrikaanse Lugmagbasis Waterkloof geland, waarna hy samesprekings gevoer het met sy Suid-Afrikaanse ampsgenoot Naledi Pandor.
Russia’s Lavrov Arrives in South Africa
The minister's plane landed at Air Force Base Waterkloof on the outskirts of Pretoria on Monday morning.
Lavrov is set to hold talks with South African Foreign Minister Naledi Pandor, as well as South African President Cyril Ramaphosa. pic.twitter.com/8zXawV0gyQ
— INDEPENDENT PRESS (@IpIndependent) January 23, 2023
Die Suid-Afrikaanse regering beskou Suid-Afrika as neutraal in die konflik in Oekraïne en sê hulle het ’n begeerte om oor vrede in die land te bemiddel. Die res van Afrika is verdeeld oor Rusland se inval in Oekraïne en Westerse pogings om Rusland met sanksies te straf en te isoleer.
Lavrov het volgens die SABC gesê sy land is bereid om ’n skikking met Oekraïne te bereik, maar die president van Oekraïne, Wolodimir Zelenski, is nie gereed vir onderhandelings nie. Pandor het vroeër gesê Suid-Afrika sal altyd pogings steun om ’n vreedsame oplossing vir konflik in Afrika en ander dele van die wêreld te vind.
Die Suid-Afrikaanse weermag gaan van 17 tot 27 Februarie ’n gesamentlike militêre oefening met Rusland en China aan ons ooskus in die omgewing van Durban en Richardsbaai in KwaZulu-Natal aanbied, ’n stap wat volgens buitelandse nuusagentskappe soos Reuter waarskynlik bande met Washington en Europese lande verder sal belemmer.
Die oefening, met die kodenaam Mosi II, sal die tweede een wees van so ’n samewerking tussen die drie vlootmagte. Die eerste een is in November 2019 in Kaapstad gehou.
Vanjaar se Oefening Mosi II sluit meer as 350 SANW-personeel van verskeie afdelings in die weermag in wat saam met hul Russiese en Chinese eweknieë sal deelneem.
Die Suid-Afrikaanse weermag het verlede week gesê die militêre oefening is ’n “middel om die reeds florerende betrekkinge tussen Suid-Afrika, Rusland en China te versterk”.
Die Russiese nuusagentskap Tass het Maandag berig dat ’n Russiese oorlogskip, gewapen met nuwegenerasie- hipersoniese vaartwapens, aan die oefeninge sal deelneem.
Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, het gesê die oefening is baie voordelig vir die drie vlote.
Die webwerf Defence Web berig daar was aansienlike teenkanting teen die Russiese teenwoordigheid in Suid-Afrika, veral aangesien die oefening saamval met die herdenking van die Russiese inval in die Oekraïne op 24 Februarie.
SA's Department of Defence has defended its right to host exercises like Mosi II with China and Russia, and sees it as an opportunity to strengthen bonds with those two countries, in spite of criticism.https://t.co/31cwclvdUo
— defenceWeb (@defenceWeb_Afr) January 23, 2023
Suid-Afrika se Departement van Verdediging het sy reg verdedig om oefeninge soos Mosi II met China en Rusland aan te bied, en sien dit as ’n geleentheid om bande met dié twee lande te versterk, ten spyte van kritiek dat Suid-Afrika Rusland blykbaar ondersteun in sy inval in Oekraïne.
Die ministerie van verdediging sê dat “in teenstelling met die bewerings deur kritici, Suid-Afrika nie sy neutrale standpunt oor die Russies-Oekraïense konflik laat vaar het nie. Ons bly steeds van mening dat multilaterale gesprekke en dialoog sleutels is om volhoubare internasionale vrede te ontsluit. Ons gaan voort om beide partye aan te moedig om in dialoog betrokke te raak as ’n oplossing vir die huidige konflik.”
Cornelius Monama, woordvoerder van die ministerie van verdediging en militêre veterane, het op 22 Januarie ’n verklaring uitgereik waarin hy die besluit verduidelik om voort te gaan met die gesamentlike vlootoefening.
“Die beoogde oefening sal alle betrokke lande bevoordeel deur die gesamentlike oefening van die vlootstelsels, gesamentlike rampstelselbestuurverbetering, maritieme samewerking en antiseeroweroefeninge,” het hy gesê. Boonop sal Oefening Mosi II volgens hom dien as ’n platform vir die drie lande om operasionele vaardighede, kundigheid en ervaring te deel.