Bruce Koloane (Foto: YouTube)
Die staatsamptenaar, Bruce Koloane, wat die omstrede Guptas in 2013 gehelp het om toestemming te verkry om met hulle privaatvliegtuig op Waterkloof-lugmagbasis te land en daarna met ’n ambassadeurskap in Nederland beloon is, se diplomatieke loopbaan is kortgeknip.
Hy is as Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland herroep omdat hy die land in oneer gebring het. Hy het kort daarna ook sy bedanking uit die staatsdiens ingedien.
Die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, het sy herroeping as Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland vroeër die week in die parlement bevestig.
Koloane het onlangs voor die Staatskapingskommissie getuig oor die omstandighede toe ’n vliegtuig van die Guptas toestemming gegee is om in 2013 op die Lugmagbasis te Waterkloof te land. Hy was toe die hoof van staatsprotokol en het glo oudpresident Jacob Zuma se naam gebruik om toestemming vir die landing te verkry.
Kort na die debakel in 2013 is hy deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking geskors te midde van bespiegelinge dat hy die “sondebok” vir oudpresident Jacob Zuma was. Daar is bespiegel dat Zuma self die landing by die lughawe goedgekeur het.
Koloane is later as Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland aangestel.
Koloane het egter voor die Zondo-kommissie erken dat hy aanvanklik vir die kommissie gelieg het toe hy destyds oud-president Zuma se naam gebruik het om te verseker dat die Gupta-landing op die Waterkloof-lughawe goedgekeur word.
Vroeër vanjaar het die DA sy kop as ambassadeur geëis omdat hy onder eed voor die Zondo-kommissie gelieg het.
We have written to Minister Naledi Pandor, to request the immediate recall of Ambassador #BruceKoloane from his posting to the Netherlands, following his incriminating testimony at the #ZondoCommission this past week. - @darrenbergmanhttps://t.co/4c3yFNXW4V
— Democratic Alliance (@Our_DA) July 14, 2019
Nadat hy uitgevang is dat hy voor die Zondo-kommissie gelieg het, het Koloane gesê dit was ’n “fout” om Jacob Zuma se naam te gebruik sodat die Guptas se vliegtuig op Waterkloof-lugmagbasis mag land, en dat hy dit gedoen het om ’n hoë Indiese amptenaar te beïndruk.
Die aankondiging oor Koloane se herroeping as Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland is Woensdag deur die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor gedoen, tydens ’n vraag- en antwoordsessie in die parlement.
.........
“Vroeër het dokumente wat as die #GuptakLeaks bekendstaan, getoon dat Koloane in 2015 ook namens die Guptas met Nederlandse sakelui in Den Haag ontmoet het na sy aanstelling as ambassadeur.”
.........
Sy sê Koloane is verlede maand in kennis gestel dat hy teruggeroep word en is geleentheid gebied om daarop te reageer en redes aan te voer waarom hy nie teruggeroep moet word nie.
Pandor sê die kwessies wat voor die Zondo kommissie onthul is, is van so aard dat sy meen dit het die regering en die land in oneer gebring. Parlementslede het glo hande geklap toe Pandor die nuus bekendmaak dat Koloane die trekpas gekry het.
Dirco Minister Naledi Pandor has announced in Parliament that South Africa's ambassador to the Netherlands, #BruceKoloane, has resigned.
Members of Parliament applauded as Pandor announced the news.
Koloane was named in the Gupta plane landing scandal at Waterkloof. @etvNewsSA pic.twitter.com/C2xhZBsofM— Naledi Moleo (@naledimoleo) September 4, 2019
Koloane het ’n maand om na Suid-Afrika terug te keer en sal met sy terugkeer ook uit die staatsdiens bedank.
Vroeër het dokumente wat as die #GuptakLeaks bekendstaan, getoon dat Koloane in 2015 ook namens die Guptas met Nederlandse sakelui in Den Haag ontmoet het na sy aanstelling as ambassadeur.
Volgens die gelekte e-posse is Koloane se vriende destyds toegelaat om tuis te gaan op een van die Guptas se luukse wildplase in Limpopo tydens die onderhandelings met die Nederlandse sakelui.
Ten spyte daarvan dat Koloane omtrent ál die amptelike blaam gekry het vir die Waterkloof-landing, is hy in 2014 aangestel in die knus posisie as Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland.
Vrye Weekblad berig hy het ook nog nooit in die meer as ses jaar sedert die voorval aan Zuma of enige iemand anders om verskoning gevra dat hy hul name so misbruik het nie. Die skande was glo selfs te groot dat hy met Zuma daaroor sou kon praat: “Ek kon hom nie eens in die oë kyk nie,” het hy getuig.
Buro: MvH