SA het Bokkoors

  • 0

Miljoene Suid-Afrikaners sal Saterdag voor hulle TV’s vasgenael sit om te kyk of die Springbokke die Wêreldbekereindstryd vir die derde keer kan wen om die Webb Ellis-trofee weer huis toe te bring.

Foto: Pixabay.com

Duisende Suid-Afrikaners het die Bokke op sosiale media sterkte toegewens vir Saterdag se wedstryd. Cyril Ramaphosa sal self in die pawiljoen wees om die Bokke aan te spoor. Daar word wyd gegis dat hy net soos oudpres Mandela in 1995 met ’n Springboktrui daar sal wees om die Bokke te ondersteun. Dié slag nie soos Mandela met ’n nommer 10-trui van Francois Pienaar nie, maar die nommer 6-trui van die eerste swart Springbokkaptein, Siya Kolisi.

Ramaphosa se kantoor het bevestig dat hy Donderdag na Yokohama in Japan vertrek om die finaal teen Engeland by te woon.

Dit is die derde Wêreldbekereindstryd waaraan die Springbokke deelneem en by twee geleenthede het hulle daarin geslaag om die beker huis toe te bring.

Die goeie nuus is dat Suid-Afrikaners die wedstryd Saterdag regstreeks op TV kan volg al het hulle nie DSTV nie. Die wedstryd word regstreeks op SABC2 uitgesaai en begin om 11h00. Diegene wat nie by ’n TV is nie kan die wedstryd ook regstreeks op RSG volg.

Slaag die Bokke Saterdag daarin om die Engelse pak te gee, sal Suid-Afrika die All Blacks se rekord ewenaar om die gesogte beker drie keer te wen.

Engeland wat as die gunsteling op die veld draf, is egter vasbeslote om hulle nommer-een-posisie in wêreldrugby te versterk en die beker vir die eerste keer in 16 jaar weer na die Noordelike halfrond te neem.

Hoewel Eddie Jones se span as die gunstelinge vir die eindstryd beskou word, is die meeste rugbykenners dit eens dat die Rassie-faktor nie onderskat moet word nie.

Die sportjoernalis Hendrik Cronjé het op Netwerk24 gesê as daar ’n afrigter is wat die Wêreldbeker kan wen met ’n span waarvan hy minder as twee jaar in beheer is, dan is dit Erasmus. Hy voorspel ’n “honde-geveg” Saterdag tussen Suid-Afrika en Engeland waarvan die wenner eers diep in die tweede helfte bepaal sal word.

Engeland is die enigste span in die Noordelike halfrond wat die beker tot dusver kon wen toe hulle Australië in 2003 in die finaal met 20-17 geklop het.

Nieu-Seeland het die beker in 1987, 2011 en 2015 gewen, Suid-Afrika in 1995 en 2007, en Australië in 1991 en 1999.

Dit sal ook die laaste keer wees dat Rassie Erasmus die hoofafrigter van die Bokspan sal wees. Hy het bevestig dat hy ná die Wêreldbeker sy pligte as Direkteur van Rugby hervat.

Die Springbokke het tot dusver 16 van die 25 toetse onder Erasmus se leiding gewen, wat hom ’n wenkoers van 64% gee. Die Bokke het in dié tydperk van die sewende plek na die tweede plek op die wêreldranglys opgeskuif en so vir ’n derde Wêreldbekereindstryd gekwalifiseer.

Die man met fluitjie tydens Saterdag se wedstryd is die Fransman Jérôme Garcés en dit sal die eerste keer wees dat ’n Franse skeidsregter die fluitjie blaas tydens ’n Wêreldbekereindstryd. 

Dit sal ook Garcés se laaste toets as blaser wees omdat hy eersdaags uittree. Hy sê sy aanstelling as skeidsregter vir Saterdag se wedstryd is vir hom ’n groot eer.

Lees ook op LitNet

Bokkie-san in Japan

Siya Kolisi – against all odds: an interview with Jeremy Daniel

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top